Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » Groete uit die Ooste
Groete uit die Ooste [boodskap #15937] Sa, 27 Junie 1998 00:00
Coetzee, Jacob Carl  is tans af-lyn  Coetzee, Jacob Carl
Boodskappe: 17
Geregistreer: Junie 1998
Karma: 0
Junior Lid
Groete uit die Ooste aan almal op s.c.s-a.a. Ek is 'n Suid-Afrikaner wat
nou vir die afgelope 6 maande in Singapoer bly, en ek is 'n gereelde
leser van hierdie nuusgroep. Anders as andere, geniet ek nogal die
moddergooiery en gestryery oor politiek, maar dis die stories van o.a.
Griet en Henri wat my die meeste laat huistoe verlang.

Op aandrang van my persoonlike rugbykorrespondent, het ek besluit om
meer as net leser van die groep te wees en as die tyd dit toelaat, so 'n
bietjie deel te neem.

Kom ek vertel julle 'n bietjie oor die land waarin ek woon - Singapoer.
Singapoer is 'n eiland net suid van Maleisie (dis nou Oos-Maleisie) en
dus net 1 graad noord van die ewenaar. Gevolglik is die eerste ding wat
ons opgevang het toe ons hier aangeland het om 6:00 op 'n Sondagoggend
in Desember die hitte en humiditeit. Glo my, hierdie plek is warm. Min.
24, maks 34, elke dag, 12 maande van die jaar, en die humiditeit is soos
'n klam kombers. Na 'n paar jaar hier sal ek maar 'n paar ligte
truitjies inpak vir Desember vakansies in Natal!

Die tweede ding wat jou opval is hoe skoon dit is hier. Singapoer is
bekend daarvoor dat hulle rommelstrooiers swaar beboet, maar dit gebeur
nie dikwels nie. Die mense het baie gou geleer, en almal (insluitende ek
en my familie) kom baie gou in 'n gewoonte om elke stukkie rommel in die
(nabygelee) asblik te gooi.

Die eiland is klein - 40 x 25 km - miskien 'n bietjie kleiner as
Pretoria/Centurion. Hier woon sowat 3 miljoen mense, oorwegend Sjinese,
maar ook Maleiers en Indiers. Daar is 'n groot mate van rasse-harmonie,
alhoewel die magsposisies meestal deur Sjinese beklee word.

Die regerende party het feitlik totale beheer (ek dink opposisiepartye
het net 2 setels in die parlement), en dit tesame met die baie streng
wetstoepassing, lok soms kritiek vanuit die buiteland uit. My indruk is
dat hierdie mense hulle uitstekend van hullle taak kwyt. Dertig jaar
gelede was hierdie 'n malaria moeras, bekend vir dwelmverslawing, en met
geen natuurlike rykdom behalwe die strategiese ligging nie. Vandag is
dit 'n moderne land (stad) met lae werkloosheid, byna geen misdaad nie
en sekerlik die stabielste ekonomie in Asie. Dit is grootliks die
resultaat van visie vanuit regeringsoord wat klem gele het op die
ontwikkeling van hul enigste ander rykdom - die inwoners, en wat met 'n
sterk hand die bevolking oortuig het om almal hard te werk aan 'n
gemeenskaplike doel, nl. welvaart.

Die kwaliteit van hul skoolopleiding is uitstekend, en ek onthou dat ek
verlede jaar 'n opname gesien het waarin hulle onderrig in Wiskunde en
Wetenskap as no. 1 in die wereld geag is. Hulle universiteitsopleiding
is ook van hoe standaard, alhoewel hulle studente as gevolg van hulle
streng opvoeding en rigiede gesagstrukture dalk 'n bietjie van 'n gebrek
aan selfvertroue het.

Die gemiddelde werker is nie regtig ryk nie, maar is ooglopend gelukkig
met sy lot. Hy besit gewoonlik sy eie woonstel wat hy m.b.v.
regeringsubsidie kan koop, en as ek dit reg verstaan, kan hy sy pensioen
aanwend om te help om daarvoor te betaal. Almal spaar geld, en dit staan
in skrille kontras met die skuld-is-OK lewensstyl waaraan so baie mense
gewoond is in SA. Die rykes is BAIE ryk. Karre is sekerlik die duurste
ter wereld met baie swaar belasting, maar steeds ry hier soveel Merc's
en BM's rond as wat mens net in Sandton, Waterkloof en Umhlanga te siene
sal kry. Privaat huise (losstaande op eie erwe of duethuise) is baie
duur - tipies R3m tot R12m - maar tog is hier baie.

Dit klink alles baie rooskleurig, maar aan die ander kant is lewenskoste
hoog, en die lewensstyl baie kompeterend. Kinders word vanaf 'n jong
ouderdom gedruk om akademies te presteer, aangesien slegs 'n klein
persentasie uiteindelik toegelaat sal word tot die Universiteite. Die
werkendes werk baie hard, en baie mense is vasgevang in 'n oorweldegende
strewe na sukses. Dit wil soms vir my voorkom asof sommiges vergeet het
hoe om te ontspan, of om met 'n gesonde balans ook die lewe te geniet.

Ek sal nog vir minstens 2 1/2 jaar hier wees. Ek werk by een van die
twee universiteite hier, en alhoewel ek heelwat meer verdien as in SA,
is ek nie regtig veel beter af nie. Dit het nogal 'n redelik aanpassing
geverg om gewoond te raak aan die nuwe omstandighede hier, maar nou
begin ons dit geniet. Dis wonderlik om in 'n korrupsie-vrye land te bly
waar daar ontsag is vir wet en orde, waar mens rustig kan slaap, en met
vrymoedigheid op enige tyd in die strate kan rondstap, maar steeds is
die verlange huistoe soms soos 'n dowwe pyn in jou bors. Ek wil gaan
rugby kyk, Castle drink, Afrikaans praat met my eie vriende en familie,
en op klein plattelandse dorpies of erens op 'n plaas gaan kuier.

JC
Vorige onderwerp: Om die Hardekoolvuur IV
Volgende onderwerp: Re: Hardekoolvuur !
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Sa Jun 01 04:53:51 MGT 2024