Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » Stoepstorie :Buurvrou bid vir skoonpa dood
Stoepstorie :Buurvrou bid vir skoonpa dood [boodskap #15919] Vr, 26 Junie 1998 00:00 na volgende boodskap
M.Kruger  is tans af-lyn  M.Kruger
Boodskappe: 91
Geregistreer: Maart 1997
Karma: 0
Volle Lid
Die landskap van onse wereld is semi-aried en droog, ten spyte van al die
dinosaurus-fossiele en ander moerasagtige goed wat hier opgegrawe word. Tot
skulp en vis fossiele. As die inwoners vir water boor is dit brak en
ondrinkbaar. Die eens groot verskeidenheid bome is tot bonsai grote
gereduseer.

As 'n man die dag water raak boor, word al die opstalle sommer so om die
windpomp gebou. Pa en seun en sommer al die bywoners en voormanne s'n ook.

Dis in so 'n tweede opstal langs die windpomp wat Kosie toe vir Saar in
laat nesskrop. Die familienaam moet voort en Kosie moet begin reproduseer.

Saar laat 'n krullerige gegote yster naambordjie by die hek aanbring,
getiteld: Koos en Saar Beytenbach - Wanhoop.Spoggerige letterwerk daarby.

Oom groot Koos het moeite om nie die ding af te pluk nie. Sy plaas se naam
is Rus-en-Vrede, soos dit daar by die grootpad op gesit is, en nou word
hier vreemde gewoontes ingebring wat geld ook kos. Klein Koos behoort te
weet dat die Karoo nie blinkgoed verdra nie.

Kosie se verduideliking dat die plaaskamp waarop hulle huisie nou staan se
naam Wanhoop is, trek nie water by groot oom Koos nie. Vrouens is
moeilikheid, en dis dit. En daar beland klein Koos toe sommer van vroeg af
tussen twee kampe.

Die moles verdiep elke keer wat Saar inkopies wil gaan doen. Oom Koos wil
'n lysie hê van al die benodigdhede, die pryse van die produkte langsaan
opgeteken.Die finale bedrag netjies onderaan in groot skrif.

Saar is in die nesskop fase en duld geen inmenging in die brose eerste fase
van die huwelik nie. Oom Koos voel dat Kosie nie sy plig nakom en vir
skoondogter-lief inwy in die familie se gewoontes nie. So kom dit dan nou
een oggend dat Saar reg maak vir ry.

"Kosie," sê sy, "gaan vra vir pa geld, ek wil dorp toe."

"Maar Saartjie," vra Kosie, " hoe kan ek sonder 'n lysie gaan geld vra? "

"Daar's g'n lysie nie. Dis my eie besigheid, en het niks met jou pa uit te
waai nie. Ek weet nie wat dit kos nie, en wil genoeg geld hê. Ek gaan my
nie loop skaam in die handelshuis vanoggend nie. Loop vra geld."

Kosie trap rond. "Saartjie, skat, jy weet dit werk so. Pa sal nie geld gee
as daar nie 'n lysie is nie."

"Nou maar goed, Kosie," sê sy, " dan sal ek die saak vanoggend finaal
uitklaar myself. "

Sy stap telefoon toe, lui 'n korte en twee langes, korte twee langes,en
gaan sit op die stoel. Groot Koos antwoord die foon.

"More Pa," sê sy."Ek wil pa vanoggend kom sien, kan ons 'n afspraak maak?"

"Maar Saartjie kind, jy't mos nie 'n afspraak nodig om my te sien nie."

"Nee Pa, ek wil 'n amptelike afspraak hê om tien-uur. In Pa se
studeerkamer.Is dit goed so?"

Ietwat oorbluf stem groot Koos toe in, en Saartjie gaan verwissel klere. Sy
trek haar Sondagrok aan, sykouse, blinkleer skoene, die lot. Sy trek die
Mercedes uit die waenhuis, ry 50 tree daarmee na groot Koos se huis, en
stop reg voor die deur, soos alle besoekers maar maak.

Skoonma maak die voordeur oop, en Saar versoek haar formeel om skoonpa
privaat in sy studeerkamer te sien.

Oom Koos is ontredderd en senuwaeeagtig. Vrouens is gevaarlike goed,
aangetroud of nie aangetroud nie. Jonk of oud. Dis om't ewe.

"Saartjie, my kind," sê hy," kom ons gaan sit lekker voor die stoof in die
kombuis. Vir wat sal ons nou hier soos vreemdelinge vanoggend kuier. Ons
kuier dan altyd so lekker daar in ma se kombuis."

"Nee pa" sê Saartjie, "vandag gaan ons twee mekaar formeel in die oë kyk en
sake uitpraat. Eerstens wil ek tweehonderdrand van pa hê, en wat ek daarmee
wil gaan koop, is my besigheid."

"Tweehonderd rand! Maar Saar, wil jy 'n plaas gaan koop! Dis baie geld, en
dan wil jy nie eers sê waarvoor jy my geld so wil uitmors nie!"

"Nou maar goed, as pa dit so wil hê. Ek wil vir my panties en bra's gaan
koop, en die prys daarvan is nie pa se besigheid nie. Ek gaan ook nie koop
wat pa as geskik beskou nie. Ek gaan nie langer pa se inmenging duld nie,
wat my by punt nommer twee bring. Pa skuld vir klein Koos 'n salaris. Hy
gaan nie langer verniet op die plaas werk nie. Selfs die arbeiders kry hul
weeklikse loon. Maar klein Koos moet langtand in die koue rondstaan net
omdat hy jou seun is. Hy is 'n gegradueerde man wat op enige ander plek 'n
baie goeie salaris sal verdien. Hy hoef nie sy pa se slaaf te wees nie. Van
vandag af is dit nou verby. "

Oom Koos verstik in die pyprook en spoeg 'n straal koffie uit.

"Saartjie, my kind. Julle het tog niks om oor te kla nie. Jy kry alles wat
jou hart begeer, en daar skied geen tekort in julle huis nie. Ek sorg mooi
vir julle. Jy weet tog dat klein Koos my enigste kind is, en eendag alles
gaan erf. Ek begryp nie jou eis nie. Ons het nog al die jare so gemaak, en
die hele land se boere werk so met hulle seuns. Ek het nog nooit vir julle
"nee" gesê nie"

"So, Pa sê nou vir my dat Pa nie gehoor gaan gee aan my versoek nie?"

"Nee, Saar, ek is regtig jammer, maar aan hierdie versoek kan ek nie
voldoen nie. Ek sal met plesier vir jou, mmmm....(kug).... onderkleertjies
koop, maar gaan vind nou net vir Pa die pryse uit."

"Nou maar goed Pa," sê Saar, " dan laat Pa my nou geen ander keuse as om Pa
van vandag af te begin dood bid nie, as dit die enigste manier is hoe klein
Koos regverdig behandel gaan word. Ek gaan nou terug huis toe. Ek gaan op
my knieë neer val en dag en nag begin bid. Totsiens Pa."

En daar trek Saartjie met 'n stofstreep terug in die waenhuis in, en stap
doegerig huis toe.

Oom Koos loer bekommerd deur die gordyne en sien die hemele is oop, blou en
onbetrokke vanoggend. ô-ô. Dis nou groot gif in 'n klein botteltjie wat hom
dood wil bid. Dit kan nou nie anders nie, hy sal vir dominee Langeraad en
die ouderling, Gert Knoppe, moet inkry. Dit moet nou vol spoed reguit
boontoe vanoggend.

Gert Knoppe is erg gegrief toe hy van sy ploeery af huis toe geroep word
vir dominee se lui, maar dominee klink desperaat bekommerd oor oom Koos se
geestestoestand. Hulle twee moet dringend gaan kyk wat daar aangaan. Gert
Knoppe moet hom sommer daar kry, daar's nie nou tyd vir mekaar langs die
pad inwag nie.

Hulle kry vir oom Koos in 'n hoek van die studeerkamer sit gemaak. Die man
praat nie. Hy staar voor hom uit oor die Karoo landskap.

"Broer Koos," vra dominee, "jy wou ons gesien het?"

Oom Koos drup die woorde so stadig een-vir-een uit: " Dominee" sê hy, " is
dit moontlik dat een persoon 'n ander kan dood bid?"

"Nee, broer Koos, nou verstaan ek nie mooi nie?"

"Dominee, Saar wil my dood bid."

Dominee Langeraad besef hier is huismoles en hy sal as onderhandelaar moet
intree.

"Gert," sê hy, "loop lui daar vir Saar dat ons die ding kan uitpraat. Sê sy
moet gou hierna toe kom"

In stilte wag hulle vir Gert Knoppe om te lui. Een korte een lange. Een
korte een lange. Gert kom na 'n ruk terug. "Die bediende sê Saar is op haar
knieë in die kamer besig om te bid. Sy kan nie nou foon toe kom nie..."

Oom Koos spring van die stoel af op en begin senuweeagtig om die twee
kerkmanne stap. Gert Knoppe bied aan om self na Saar toe te gaan. Die
beswaardes kyk in stilte hoe Gert Knoppe na 'n lang wag met Saar uit die
huis uitkom langsaan. Die kort jong vroutjie stap die lang man skoon uit sy
skoene uit weg.

Saar kom die studeerkamer in, en gaan staan voor dominee." Dominee moet gou
praat, ek is 'n baie besig om vir skoonpa dood te bid. Al kry ek bokknieë
en eelte, sal ek aanhou bid tot Pa dood is."

Dominee oorreed oom Koos en Saar om weerskante van die groot lessenaar te
gaan sit, en elkeen per geleentheid hulle saak te stel. Saar is eerste.
Baie kalm herhaal sy die situasie aan die kerkraadslede. Oom Koos kom
tweede in en verduidelik die tradisies van die familie en hoe goed dit vir
almal was deur die jare.

Dominee bly eers lank stil. Oom Koos sit in afwagting gereed. Einde ten
laaste maak hy keel skoon.

"Broer Koos," sê hy. " As 'n mens die saak met die Woord van die Here
benader, sien 'n mens dat God in die Bybel verklaar dat 'n arbeider sy loon
werd is.
Klein Koos gaan wel eendag die plaas as sy loon op sy arbeid kry. Dit is
waar.
Dis dus nie dat jy jou seun sy loon heelemal ontsien nie. Tog verklaar die
Bybel ook dat die Here 'n regverdige gebed verhoor. Ek kan nie namens God
'n uitspraak hier gee nie. Ons Almagtige Vader sal self hier 'n beslissing
moet fel. As jy reken dat Saar met 'n onregverdige gebed besig is, het jy
mos nou nie iets om bekommerd oor te wees nie. Moet dus nie verder ontsteld
wees nie. En nou moet julle ons maar verskoon. Mag die Vader met die tyd
vir julle Sy beslissing gee."

Daarmee is dominee Langeraad en Gert Knoppe toe daar weg. Saar is terug
Wanhoop toe om verder te gaan bid. Oom Koos kies koers die langkampies in.
In die verte sien hy dat iemand die "Rus en Vrede" bordjie vir 'n skyfskiet
teiken gebruik het.

Die volgende oggend is klein Koos, soos gewoonlik, vroeg in ma se kombuis.
Pa Koos kom die vertrek binne met 'n nuutgeverfde naambord omraam met
Brookie lace in gegote yster. Hy plaas die skroewe en die bord voor klein
Koos neer.

"Gaan vervang die bord langs die pad. Die nuwe Suid Afrika laat tot koeëls
in die Karoo spat. As jy daar klaar is moet ons bank toe. Dis tyd dat ek
jou 'n salaris begin betaal."

------------------------------------------------------------ ----------------
----------------------------------------------
sand...@global.co.za
Re: Stoepstorie :Buurvrou bid vir skoonpa dood [boodskap #15920 is 'n antwoord op boodskap #15919] Vr, 26 Junie 1998 00:00 Na vorige boodskapna volgende boodskap
DarkMan  is tans af-lyn  DarkMan
Boodskappe: 7
Geregistreer: April 1998
Karma: 0
Junior Lid
Uitstekend!!!!

Dankie Griet

Dm

Griet wrote in message ...
> Die landskap van onse wereld is semi-aried en droog, ten spyte van al die
> dinosaurus-fossiele en ander moerasagtige goed wat hier opgegrawe word. Tot
Re: Stoepstorie :Buurvrou bid vir skoonpa dood [boodskap #15934 is 'n antwoord op boodskap #15919] Sa, 27 Junie 1998 00:00 Na vorige boodskap
G.B.  is tans af-lyn  G.B.
Boodskappe: 2179
Geregistreer: Mei 1997
Karma: 0
Senior Lid
"Griet" writes:

> Die landskap van onse wereld is semi-aried en droog, ten spyte van al die
> dinosaurus-fossiele en ander moerasagtige goed wat hier opgegrawe word. Tot
> skulp en vis fossiele. As die inwoners vir water boor is dit brak en
> ondrinkbaar. Die eens groot verskeidenheid bome is tot bonsai grote
> gereduseer.

Dankie Griet. Ek het dit baie geniet.

Gloudina
Vorige onderwerp: Re: Ons is hier!
Volgende onderwerp: Om die Hardekoolvuur IV
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Ma Mei 20 05:55:52 MGT 2024