Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » Om die Hardekoolvuur
Om die Hardekoolvuur [boodskap #15281] Do, 28 Mei 1998 00:00 na volgende boodskap
Henri Burger  is tans af-lyn  Henri Burger
Boodskappe: 317
Geregistreer: Februarie 1998
Karma: 0
Senior Lid
Hier is 'n waar storie, vir Hjalmar:

Die ander aand sit ek en vriend John langs die Olifants by die hardekoolvuur
en suig aan 'n Pinotage. Vriend John is 'n fantastiese mens wat sy lewe wy
aan die onderrig van gestremde (swart) kinders. Hy's 'n Pinotage man, so dis
op sy rekening. Na 'n ruk gaan haal hy sy kitaar. "Kom ons sing 'Die
nooientjie van Zeerust' ", sê hy. Dis 'n liedjie wat ek hom geleer het. (As
julle die woorde nie ken nie, sal ek dit een of ander tyd publiseer). Ons
sing met oorgawe, amper net so vals soos die aand toe ons die liedjie vir
Philip Moolman wou leer. Om sy repertoire aan te vul, sien.

Na 'n ruk is die seekoeie stil. Ons ook. Vriend John is ook 'n sterre man.
Nou praat ons oor die ruimte, en die sterre, en die heelal. Later praat hy
my kop deurmekaar oor wesens uit die buitenste ruimte wat esdraaie gooi om
planete met hul tuie. "Jy's mos 'n ou wat baie droom," sê hy skielik. "Hoe
bedoel jy?" "As jy slaap. Jou vrou sê so. Vertel my wat droom jy."

Nou kyk, ons droom almal. Nagmerries, vulgêre drome, die lot. Wat moet ek
hom vertel? "Die een van julle en die vliegtuig", spring hy my voor.

"OK, maar jy moet onthou dis 'n ware droom. Dit speel af op Barrydale, waar
ek grootgeword het. Barrydale lê aan die voet van die Langeberg, en word
omring deur heuwels. As kind het die dominee altyd op die preekstoel geklim,
sy arms in die lug gesteek, en gesê 'Rondom Jerusalem is daar berge, so is
die Here...'. Dan het ek altyd gedink Jerusalem lyk soos Barrydale.

"In elk geval, ek droom ons is op Barrydale, en ek en vroulief vlieg met so
'n rooi Cessna dorp uit, Ladismith se kant toe. By Doringriviersvlei se
afdraaipad draai ons om. Nou wil vroulief self vlieg. Ons ruil sitplekke in
die ry. Om die storie verder te verstaan, moet jy weet hoe vroulief kar
bestuur. Sy werk daai Golf teen hoë revolusies deur sy ratte tot in vyfde,
en dan weer terug tot by eerste as sy moet stop. Nou doen sy dieselfde met
die Cessna, en ons kom met 'n spoed Barrydale binne.

"By oom Isak Snyman se garage begin daai Cessna allerverskrikliks skud en
vibreer. Ons 'crashland' voor oorlede oom Ren Moelich se huis. Hy was 'n
befaamde garageman, en is dood toe ek in st. 7 was. Toe ons uitklim, kom oom
Ren by die huis uitgestap. Hy maak die Cessna se enjinkap oop en kyk rond.

" 'Die ketting het afgeval', sê oom Ren."

Groete

Henri Burger, Tzaneen. RSA
'Afrika is Nie vir Sissies Nie!'
(e-mail: remove 'sukikaki.')
Re: Om die Hardekoolvuur [boodskap #15331 is 'n antwoord op boodskap #15281] Vr, 29 Mei 1998 00:00 Na vorige boodskapna volgende boodskap
M.Kruger  is tans af-lyn  M.Kruger
Boodskappe: 91
Geregistreer: Maart 1997
Karma: 0
Volle Lid
Dit was wonderlik. Julle kuier so baie om die vuur, ek is seker daar is nog
waar hierdie vandaan kom. O, moenie ophou nie. Terloops, Barrydale is 'n
baie skilderagtige mooi dorpie. Nou onlangs die moeite gedoen om daar in te
ry en te kuier. Vreedsaam genoeg, en naby genoeg aan die Kaap vir 'n
wonderlike aftrede EENDAG. Gloudina kan nou al daar gaan bly.
Re: Om die Hardekoolvuur [boodskap #15356 is 'n antwoord op boodskap #15281] Sa, 30 Mei 1998 00:00 Na vorige boodskapna volgende boodskap
G.B.  is tans af-lyn  G.B.
Boodskappe: 2179
Geregistreer: Mei 1997
Karma: 0
Senior Lid
"Henri Burger" writes:

Na 'n ruk gaan haal hy sy kitaar. "Kom ons sing 'Die
> nooientjie van Zeerust' ", sê hy. Dis 'n liedjie wat ek hom geleer het. (As
> julle die woorde nie ken nie, sal ek dit een of ander tyd publiseer). Ons
> sing met oorgawe, amper net so vals soos die aand toe ons die liedjie vir
> Philip Moolman wou leer. Om sy repertoire aan te vul, sien.

Pos asseblief "Die nooientjie van Zeerust"
Henri.
>
> Na 'n ruk is die seekoeie stil. Ons ook.

Hierdie is die mooiste prosa in 'n alreeds
uitstekend geskrewe stuk.

. "Jy's mos 'n ou wat baie droom," sê hy skielik. "Hoe
> bedoel jy?" "As jy slaap. Jou vrou sê so. Vertel my wat droom jy."
>
> Nou kyk, ons droom almal. Nagmerries, vulgêre drome, die lot. Wat moet ek
> hom vertel? "Die een van julle en die vliegtuig", spring hy my voor.

Nou as 'n mens met 'n Freudiaanse oog na die res
van die storie kyk, dan is daar sekere dinge wat
'n mens laat wonder.

(1) Die rol wat jou vriend speel - hoe weet hy jy
het die een van die vliegtuig gedroom.
(2) Die rol van Barrydale - dis omring deur heuwels,
jy verbind dit met Jerusalem, dit is nie ver
van Kaap Infanta nie.
(3) Die feit dat die Cessna rooi is.
(4) Die feit dat julle in die ry sitplekke omruil.
(5) Die rol van Oom Ren
(6) Die uitspraak van Oom Ren: "Die ketting het
afgeval." Dus die rol van die fiets in die
onderbewuste. En die besef: die ketting het
afgeval.

Gloudina
Re: Om die Hardekoolvuur [boodskap #15389 is 'n antwoord op boodskap #15281] So, 31 Mei 1998 00:00 Na vorige boodskap
Henri Burger  is tans af-lyn  Henri Burger
Boodskappe: 317
Geregistreer: Februarie 1998
Karma: 0
Senior Lid
Gloudina skryf:

> Nou as 'n mens met 'n Freudiaanse oog na die res
> van die storie kyk, dan is daar sekere dinge wat
> 'n mens laat wonder.
>
> (1) Die rol wat jou vriend speel - hoe weet hy jy
> het die een van die vliegtuig gedroom.
> (2) Die rol van Barrydale - dis omring deur heuwels,
> jy verbind dit met Jerusalem, dit is nie ver
> van Kaap Infanta nie.
> (3) Die feit dat die Cessna rooi is.
> (4) Die feit dat julle in die ry sitplekke omruil.
> (5) Die rol van Oom Ren
> (6) Die uitspraak van Oom Ren: "Die ketting het
> afgeval." Dus die rol van die fiets in die
> onderbewuste. En die besef: die ketting het
> afgeval.

Gloudina,

Eerstens aanvaar ek vroulief het vriend John vertel van die vliegtuig-droom,
net soos wat sy hom vertel het ek droom baie.

Deur jou koppeling van die droom met Freud, neem ek aan ek moet gaan kyk na
die seksuele onderstroming in die droom?

'n Eenvoudige ou soos ek weet nie veel van Freud nie, maar soos ek gehoor
het, as jy in jou oor krap met 'n vuurhoutjie, gee Freud 'n seksuele
konnotasie daaraan. Het jy nie onlangs gesê dat Freud grootliks
gediskrediteer is nie?

Ek dink jy moet oppas om nie te maak soos baie 'kenners' wat 'n skrywer se
werke vat lank nadat hy dood is, en dan sy hele lewe daarvolgens probeer
interpreteer nie. Meestal gee die ou maar net weer wat hy om hom waarneem.

Vat Herman Charles Bosman. Hy het maar 6 maande in die Marico gebly, en kon
onmoontlik al daai stories daar opgetel het nie. Hy het die Marico maar net
gebruik as agtergrond vir 'n klomp baie goeie stories. In my oë was hy die
beste Afrikaanse storieverteller nog.

Maar ek is bly jy help met die uitlê van drome, want dalk volg daar nog.

Groete

Henri Burger, Tzaneen. RSA
'Afrika is Nie vir Sissies Nie!'
(e-mail: remove 'sukikaki.')
Vorige onderwerp: TROLL
Volgende onderwerp: Setpille
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Vr Jun 14 22:25:58 MGT 2024