Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Prosa & poësie » om mamma en pappa te mag sê
om mamma en pappa te mag sê [boodskap #139889] Sa, 06 Augustus 2022 19:33
Louis Basson  is tans af-lyn  Louis Basson
Boodskappe: 200
Geregistreer: Junie 2022
Karma: 4
Senior Lid
huiwerig word die klanke deur jong lippies gevorm
as eerste tree op die wonderlike pad van spraak
m-a-m-m-a
p-a-p-p-a
ogies glinster trots 'n blik van afwagting
en 'n speelse laggie verskyn om die mondhoekies
want
om mamma en pappa te kan sê
is 'n ware prestasie

uitasem word die woorde uitgespoeg
trots om die goeie nuus bekend te maak
m-a-m-m-a
p-a-p-p-a
al hygende begin die verhaal ontvou
terwyl 'n trotse lag begin vorm aanneem
want
om mamma en pappa te mag sê
is iets om op trots te wees

vreesbevange word die woorde gefluister
terwyl hande na fisiese kontak soek
m-a-m-m-a
p-a-p-p-a
betraande oë soek na vergifnis of simpatie
en bewende lippe verduidelik waarom
want
om mamma en pappa te mag sê
is 'n grote gerusstelling

heel spontaan word die woorde gevorm
met 'n tevrede uitdrukking op die gesig
m-a-m-m-a
p-a-p-p-a
'n paar interessante feite word uitgeruil
en selfs 'n grappie word gedeel
want
om mamma en pappa te mag sê
is 'n absolute voorreg

wie gee ons die reg om die oorsaak te wees
dat iemand hierdie pragtige woorde
m-a-m-m-a
p-a-p-p-a
nie mag uiter deur spraak of skrif
mag so iemand nooit ongestraf bly leef nie
want
om mamma en pappa te mag sê
is elke mens se reg
Vorige onderwerp: skrikkeldag
Volgende onderwerp: die vloek van die menseras
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Do Mar 28 20:16:10 MGT 2024