Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Woordeboek » mond
mond [boodskap #126781] Vr, 28 Junie 2019 07:19
Leksikograaf  is tans af-lyn  Leksikograaf
Boodskappe: 19205
Geregistreer: Maart 2019
Karma: 1
Senior Lid
Die mond van 'n mens.
Die mond van 'n mens.
mond
Afbreking: mond
Uitspraak: /mont/




Selfstandige naamwoord: mond
Meervoud: monde
Verkleinwoord: mondjie
Meervoud van verkleining: mondjies

Betekenis:
• (anatomie) Opening in die gesig tussen die lippe waarmee geëet en gepraat word.
• (figuurlik) Opening of ingang van iets.

Gebruik:
• 'n Mens het twee ore en een mond, omdat mens meer moet luister as praat.
• Sy loop langs die kus tot by die mond van die rivier. Die mond van die kanon is met 'n band verstewig.

Spreekwoord:
• As jy nie daardie mond gehad het nie, het die kraaie lankal jou oë uitgepik. [Jy praat baie.]
• Beter hard geblaas, as die mond verbrand. ['n Mens moet maar altyd versigtig wees.]
• Bitter in die mond maak die hart gesond. [Medisyne wat sleg is, is baie goed.]
• Botter smelt nie in sy mond nie. [Hy hou hom baie onskuldig.]
• Gebraaide duiwe vlieg niemand in die mond nie. [Sonder inspanning bereik 'n mens niks.]
• Die gebraaide eend vlieg haar in die mond. [Sy kry dinge sonder veel moeite reg.]
• Die mond van die dronk man praat die waarheid. [Iemand wat dronk is, kan nie 'n geheim hou nie.]
• Die môrestond het goud in die mond. [Dit is tot jou voordeel om vroeg op te staan.]
• Dit laat my mond water. [Ek kry lus daarvoor.]
• Geen blad voor die mond neem nie. [Uitgesproke wees.]
• Haastige hond verbrand sy mond. ['n Mens moenie oorhaastig optree nie.]
• Hand en mond belowe. [Nadruklik belowe.]
• Het jy geen mond nie? Kan jy nie iets sê nie?]
• Heuning in die mond dra. [Vol vleitaal wees.]
• Heuning in die mond, gal in die hart. [Agter die vleitaal skuil bitterheid.]
• Hy is kontant met sy mond. [Voorbarig.]
• Hy kyk die kos uit my mond. [Iemand wat eet, aankyk.]
• Hy praat of hy pap in sy mond het. [Onduidelik praat.]
• Hy probeer my stroop om die mond smeer. [Hy probeer my vlei.]
• Iemand heuning om die mond smeer. [Iemand vlei.]
• Iemand iets in die mond gee. [Voorsê wat iemand moet praat.]
• Iemand se brood uit sy mond neem. [Sy inkomste, verdienste wegneem.]
• Iemand se woorde uit sy mond neem. [Sê wat 'n ander net wou gesê het.]
• Met die mond vol tande staan. [Niks kan sê nie.]
• Met hart en mond belowe. [Baie beslis beloof.]
• Met 'n silwerlepel in die mond gebore wees. [Gesê van iemand wat op geldelike gebied voorspoed geniet.]
• 'n Slot voor iemand se mond sit. [Iemand dwing om nie te praat nie.]
• Soos as in die mond. [Baie onaangenaam.]
• Spaar vir die mond is goed vir die kat en die hond. [Wat jy jouself nie gun nie, ly jy dikwels skade.]
• Sy is nie op haar mond geval nie. [Sy het altyd 'n antwoord gereed.]
• Sy neem die woorde uit my mond. [Sê presies wat 'n ander wou sê.]
• Uit die mond van die kind, sal jy die waarheid hoor. ['n Kind sê wat hy dink en steek niks weg nie.]
• Van die hand na die mond val die pap op die grond. [Op die laaste oomblik kan iets nog verkeerd gaan.]
• Van die lepel na die mond, val die pap op die grond. [Moet nooit te seker van iets wees nie.]
• Van sy mond 'n skoorsteen maak. [Baie, te veel rook.]
• Waar die hart van vol is, loop die mond van oor. ['n Mens praat maklik oor iets wat jou baie interesseer.]
• Woorde in iemand se mond lê. [Te kenne gee dat iemand iets gesê het.]

Sinoniem:
• bek

Afgelei:
• mond-en-klouseer
• mondfluitjie
• mondskerm

Vertaling:
Engels: mouth
Nederlands: mond
Venda: mulomo
Xhosa: umlomo
Zoeloe: umlomo

Laat weet asb as die inskrywing foute bevat of verder verbeter kan word.
Vorige onderwerp: moerbei
Volgende onderwerp: bek
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Do Jun 06 22:49:04 MGT 2024