Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Woordeboek » hart
hart [boodskap #126704] Do, 20 Junie 2019 19:41
Leksikograaf is tans aan-lyn  Leksikograaf
Boodskappe: 19035
Geregistreer: Maart 2019
Karma: 1
Senior Lid
'n Mens se hart.
'n Mens se hart.
hart
Afbreking: hart
Uitspraak: /ɦɑrt/




Selfstandige naamwoord: hart
Meervoud: harte
Verkleinwoord: hartjie
Meervoud van verkleining: hartjies

Betekenis:
• (anatomie) Orgaan wat deur ritmiese sametrekkings bloed deur die liggaam pomp.
• (figuurlik) Binneste, middelste gedeelte van iets; kern; pit.
• (figuurlik) 'n Mens se gevoelens en emosies; gemoed.

Gebruik:
• Die man is na die hospitaal gejaag nadat sy hart gaan staan het.
• Dit is die hart van die kwaal.
• My hart swel van die trots.

Spreekwoord:
• Hy het 'n warm hart. [Goedhartig.]
• Sy hart het byna gaan staan. [Hy het baie groot geskrik.]
• Sy hart klop in sy keel. [Hy is baie benoud.]
• Sy hart sink in sy skoene. [Sy moed begeef hom.]
• Sy hart sit in sy broek. [Hy is bang, lafhartig.]
• Sy hart trek met 'n punt. [Hy verlang baie.]
• 'n Pen deur iemand se hart dryf. [Iemand seermaak.]
• Uit die oog, uit die hart. [Weg, en daardeur vergete.]
• Die hand op die hart lê. [Plegtig verklaar.]
• Dis 'n riem onder die hart. [Dis 'n groot bemoediging.]
• Dit is so na my hart. [Net soos ek begeer.]
• Bitter in die mond maak die hart gesond. [Medisyne wat sleg smaak, is gesond vir 'n mens.]
• Dit lê hom na aan die hart. [Baie geheg wees aan iets; baie vir 'n saak voel.]
• Elke hart het sy smart. [Elke persoon het sy eie moeilikheid.]
• Heuning in die mond, gal in die hart. [Agter die vleitaal skuil bitterheid.]
• Hy dra dit op sy hart. [Hy voel baie vir iets.]
• Hy dra sy hart op sy aangesig. [Sy gelaatsuitdrukking verraai sy gevoelens.]
• Hy dra sy hart op sy mou. [Hy wys maklik sy gevoelens.]
• Hy is met hart en siel in sy werk. [Met alle kragte.]
• Iemand se hart steel. [Jou by iemand bemind maak.]
• In hart en niere in iets wees. [Volkome.]
• Met hart en mond belowe. [Baie beslis beloof.]
• Moenie van jou hart 'n moordkuil maak nie. [Nie jou gevoelens onderdruk nie.]
• 'n Lyf soos 'n berg en 'n hart soos 'n perskepit. [Gesê van iemand wat groot van postuur, maar lafhartig of baie sensitief is.]
• Waar die hart van vol is, loop die mond van oor. ['n Mens praat maklik oor iets wat jou baie interesseer.]
• Wat die oog nie sien nie, kan die hart nie deer nie. ['n Mens bekommer jou nie oor iets waarvan jy nie weet nie.]

Afgelei:
• hartaandoening
• hartaanval
• hartafwyking
• hartchirurg
• hartchirurgie
• harteloos
• hartoorplanting
• hartstogtelik
• hartlam
• hartlik
• hartseer
• hartslag
• hartversakking

Verwant:
• kardiologie

Vertaling:
Engels: heart; the centre of
Nederlands: hart
Swazi: inhlitiyo
Venda: mbilu
Xhosa: intliziyo, iphaphu, umbindi
Zoeloe: inhliziyo, umhawu, umongo

Laat weet asb as die inskrywing foute bevat of verder verbeter kan word.
Vorige onderwerp: monopolie
Volgende onderwerp: bok
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Ma Mei 20 15:19:23 MGT 2024