Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Lekker » Humor & grappe » Die dag toe Solitude soos Sandy Bay gelyk het ('n Suidwes Visvangstorie)
Die dag toe Solitude soos Sandy Bay gelyk het [boodskap #126640] Sa, 15 Junie 2019 10:04
Jan die Man  is tans af-lyn  Jan die Man
Boodskappe: 514
Geregistreer: Mei 2018
Karma: 22
Senior Lid
Ek het geweet hier gat moeilikgeit kom toe ek sien pa loop om daai "Raserige groep jongens" te gat aanspreek oor hulle so lawaai. "Maart-maand-se-skittery-gat-lammertjies" sou oorle Oupa Lieb hulle genoem het. Ma het na hulle verwys as "Bog snuiters wie se ma hulle kleintyd al moes doodgelê het".

Een ding was seker, daai klomp studente-valies-bênd was nie baie gewild onner die Jakkalsputz-kampers nie.

Die Four Seasons was hulle naam. Die bênd wat nou deur Sarel van de Duine gehuur is om musiek te maak by die biertent oor die Desembermaand. Hulle slat toe so ry tente op by Jakkalsputz en daar gat hulle en hulle se aanhangsels nou bly vir die maand. Veertien was hulle almal saam, sewe mannetjies en sewe wyfies. Net vier was in die bênd, seker daar waar die naam vandaan kom. En dan kom hulle so laat aand, of meer kere vroeg in die oggend daar op Jakkalsputz aan. En dan raas hulle, soos die meeste mense wat ek ken maar doen as hulle dronkerig raak.

So deur die jare het dit darem duidelik geblyk dat die kampers op Jakkalsputz baie kan verdra, soos lang toue staan vir ‘n stort. Of water wat moet gekoop en aangery word. Of selfs die longdrop wat jy met klomp mense moet deel en dan bring meeste mense nog hulle honne ook saam. Maar geraas. Dit was nou een ding waarvoor niemand eintlik ‘n toleransie gehad het nie. En toe Pa daai oggend besluit nou het hy genoeg gehad, toe weet ek hier kom moeilikgeit vir my, Morris en Rens. En ek was reg ôk. Want toe pa nog probeer verduidelik dat hulle tog nie so moet raas nie, toe vertel daai oulike blondekop enetjie vir Pa dat sy nou nie mooi verstaan nie. Pa se eie kinners was dan ook daar by die hotel laasnag en ons raas ôk maar daar by die hotel.

Pa het hard gepreek. Begin by die euwels van drank, en toe hy by die sondigheid van die vlees kom, maak ma hom gelukkig stil en sê dis nou genoeg. Gelukkig het ma die laaste woord in die huis, of tent, gehad. Na die voorval was ons kanse ook maar baie skraal om weer ‘n keer te kon wegkom daar na Sareltjie se Gat toe. Pa het helemal te goed dopgehou.

Entebbe, die hoofstad van Uganda, is baie jare terug deur Israel opgeneuk oorlat hulle Israeli’s gyselaars gehou het. Ons drie pêlle het die gesegde gehad dat ons iemand sou "entebbe" as ons hulle wou terugbetaal vir die een of ander onguns op ons bestel. En ons het ooreengekom dat ons nog daai Four Seasons en hulle aanhangsels sal entebbe.

En toe kom die geleentheid gouer as wat ons verwag het. Ons drie het gat kreef soek daar by Solitude se rotse. Eintlik was dit net ‘n verskoning solat ons bietjie kon gat uitspan met ons bottel OBS (Old Brown Sherry). Maar toe ons by onse kreefsoek plek aankom is die raserige bênd toe hoeka ook daar aan die partytjie hou. Ma noem dit fuif. En aangesien ons eintlik gekom het vir die OBS en nie die kreef nie, toe hou ons maar so eenkant. Uit die oog uit – agter ‘n gonnabos duintjie. En sommer gou voel die koue en wind niks teenoor die lekker warm gevoel hier in jou maag nie. En toe gebeur die ding. Daai oulike blondekop enetjie, ons het haar Giggles gedoop, kom mooitjies om ‘n duintjie, so twee duintjies van ons s’n af, gesluip om uit haar maters se gesigsveld te kom. En so sluip sy in onse gesigsveld in. En sy het ‘n behoeftigheid gehad, seker van die baie drink, en sy laat sak hier net hier neffens ons. En dit was mooi, want sy moes die hele "costume" uittrek. Eenstuk gewees. Vir drie laaities was dit net een te veel, want asof uit een mond slaak ons ‘n sug van vleeslike sonde. En daar sien die arme Giggles dat sy nou haar ding hier reg voor ons drie doen. Sy uiter net een gilletjie, of kon dit dalk ‘n giggle wees? En val agteroor. Morris merk nogal op dat sy nou bly kan wees dat sy nie genommer twee het nie, anners het sy nou daarin gesit. Nou enige iemand wat al sand in die onnerbroek gehad het sal jou kan vertel dat dit totaal onverdraagsaam is. En ek dink sy het al sand daarin gehad, want sy hou net toe en hol, reguit see toe. Seker maar gemeen om die sand af te was. Die anner het seker gereken sy probeer ‘n ding aan die gang kry want toe sien jy net almal pluk "costumes" uit en hol agterna see toe. En dit was toe net daar wat ons drie besluit hier gat ons vir hulle entebbe. Die OBS het seker maar bygedra tot die besluit. Ons hol en gryp hulle klere, handdoeke en enige ding wat lyk of dit vleeslikheid kan bedek.

En soos die hengelaars toevallig verby ry word daar gestop en gekyk en geëvalueer en gespot. Antie Koekie het later hulle klere terug gevat onder groot protes van ander hengelaars.

Daai middag by die storte merk Oom Boer op dat daar darem baie mense was om die kaaljoue te gat kyk daar by Solitude. Toe reken Oom Klein Gert dat die oestertjies darem alte mooi was, maar die kaaljoue het vir hom meer na sardientjies gelyk. Seker maar van die koue gekrimp, was Antie Koekie se mening.

Die Four Seasons en hulle aanhangsels was maar bra stil gewees na daai voorval. En elke keer as Giggles verby ons geloop het, het sy so mooi rooi gebloos.

-- Leon Langhare
Vorige onderwerp: Kindergebed
Volgende onderwerp: SPRAY AND COOK
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Do Mar 28 15:56:31 MGT 2024