Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Aschelminthes
Aschelminthes [boodskap #125453] Do, 25 April 2019 07:10
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
'n Spoelwurm (Ascaris lumbricoides)
'n Spoelwurm (Ascaris lumbricoides)
Aschelminthes is ’n stam (filum) van die diereryk. Die groep omvat ongelede wurmagtige diertjies van baie uiteenlopende vorme, dikwels met ’n ruim liggaamsholte, sonder eie wand geleë tussen huid en dermwand. In die reël is daar geen aanhangsels aan die liggaam nie. Die dermkanaal het ’n mondopening aan die voorent en ’n anus naby die agterent.

’n Klas van die Aschelminthes is die Rotatoria, (raderdiertjies) wat in soetwater en ook in die see leef. Hul liggame is deursigtig en onder die mikroskoop is dit moontlik om alle organe daarvan in werking te sien. Hulle is mikroskopies klein, die voorste deel van die liggaam is vervorm tot ’n intrekbare skyf (raderorgaan), waarop een of twee kranse van stewige trilhare voorkom. Wanneer hulle in beweging kom, dan gee die trilhaarkranse die indruk van twee snel ronddraaiende wieletjies. Die agterste deel eindig gewoonlik in ’n spitstoelopende voet, wat gebruik kan word vir vashegting aan waterplante en klipoppervlakke. Sommige soorte gebruik die raderorgaan om te swem, sowel as om voedsel in die mond te bring.

’n Tweede Klas die Gastrotricha is ’n klein groepie mikroskopies klein soetwaterdiertjies, nie langer as 0.025 cm.; meersellig, met ’n mond en dermkanaal, en liggaam met trilhare en borselhare bedek, wat hom oppervlakkig na ’n afgietseldiertjie (Ciliaat) laat lyk.

’n Derde Klas is die Nematoda (rondewurms) waartoe bekende vorme soos die asynaaltjies, die mynwurms (haakwurms) die trichines, haarwurms, knoppiesdermwurms en nog tallose ander soorte behoort. Die meeste soorte is parasiete in koud- en warmbloedige werweldiere; andere veroorsaak siektes in kultuurgewasse en ander plante, en ander teer op verrottende stowwe. Soorte Nematoda is o.a.

(a) die SPOELWURM (Ascaris lumbricoides) - seker die bekendste - wat in die dunderm van die mens, veral by kinders, dikwels voorkom, wit of rooiagtig bruin van kleur en tot 12 cm. lank en 0.6 cm. dik. Sulke groot aantalle kan in die derm wees dat hulle ’n verstopping veroorsaak met ernstige gevolge. Infeksie geskied deur eiers wat deur die mond na die dermkanaal gaan en in die dunderm uitbroei. Die jong wurms dring deur die wand van die derm, kom in die bloedvate en word met die bloedstroom deur die hart tot in die longe gevoer. Van die longe af kruip die wurmembrios teen die binnekant van die lugpyp oor na die keel, word weer ingesluk, en kom in die dermkanaal waar hulle tot volwasse vorme uitgroei, paring plaasvind en die wyfies begin eiers lê wat met die ontlasting uitgewerp word om voedsel of stof te besmet waardeur hulle weer deur ’n mens ingeneem kan word.

(b) Die MYNWURM (Ancylostoma duodenale) met beperkte verspreiding in Suid-Afrika, ongeveer 10-13 mm. lank en lyk nes ’n klein draadjie (in Engels “hook worm” n.a.v. die haakvormige omgebuigde voorste gedeelte); leef as larwe in vogtige aarde, dring die liggaam van die mens binne deur die kaal voet, word deur die bloedstroom na die longe gevoer, kruip na die keel, word weer ingesluk. In die dermwand heg hy hom aan die dermslymvlies vas, suig bloed op en verander tot ’n volwasse dier. ’n Swaar besmette pasiënt raak suf en lui, begin aan bloedarmoede ly en raak geestelik en liggaamlik ongeskik.

’n Vierde Klas is die Acanthocephala (haakwurms). Hulle besit ’n kort slurp wat met weerhake gewapen is, en ’n dermkanaal ontbreek; die voedsel word deur die huid opgeneem. Die volwasse vorme leef in die dermkanaal van gewerwelde diere, hulle larwes in ongewerwelde diere.

Bron: Die Afrikaanse Kernensiklopedie, J.P. Scannell (red.), 1965

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Asch, Sjalom
Volgende onderwerp: Aschenborn, Hans Anton
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Ma Apr 29 10:02:41 MGT 2024