Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Aksent
Aksent [boodskap #124889] So, 03 Maart 2019 09:48
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Aksent het o.a. die volgende betekenisse:

1. Die verskille, altesame, tussen een persoon se uitspraak van ’n taal en die uitsprake wat as standaard aanvaar word. Aksent in hierdie betekenis (ook tongval genoem) kan eie aan een persoon wees of aan ’n hele groep; in lg. geval kan dit aandui tot watter streek of sosiale groep die spreker behoort; dit kan ook die vreemde aksent wees van iemand wat nie sy eie taal praat nie;

2. Die musikale toonhoogte van ’n lettergreep, d.w.s. of dit "hoër" of "laer" as ’n ander is;

3. Die klemtoon of nadruk wat op besondere lettergrepe gelê word;

4. In sommige tale word, in geskrewe vorm, spesiale tekens, aksente genoem, gebruik as middel om klem, of minder dikwels toonhoogte-aksent, aan te dui. Algemene aksenttekens in Afrikaans is äáàëêéèïíöôóüûú. Grieks en Frans is veral ryk aan verskillende aksenttekens. In Oud-Grieks het die aksent toonhoogte aangedui - in Nieu-Grieks dui dit klem aan. In Frans beteken die akute aksent (´) verskerping van ’n vokaalklank; die gravis (of dalende) aksent (`) ’n duidelike dog afnemende nadruk; die sirkumfleks, of kappie, dui aan dat ’n vokaal verleng word, soos ook in Afrikaans; en die cedille onder ’n c (ç) dui aan dat dit soos s uitgespreek word. Ander belangrike aksente: die diërese of deelteken (¨) oor die tweede van twee klinkers dui aan dat die twee klinkers afsonderlik uitgespreek moet word (bv. "offisiële" teenoor "siele"); die umlaut, ’n Duitse aksent met dieselfde voorkoms as die deelteken (¨) wysig die uitspraak van ’n vokaal en kan vervang word deur ’n e agter die klinker (bv. Göthe word geskryf Goethe); die tilde (˜ of ~) in Spaans, wat ’n j-klank invoeg wanneer dit oor ’n n staan, bv. cañon word kanjon uitgespreek.

Bron: Die Afrikaanse Kernensiklopedie, J.P. Scannell (red.), 1965

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Akropolis
Volgende onderwerp: Aksioma
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: So Apr 28 20:26:04 MGT 2024