Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Ernstig » Nuus » Krugerdag
Krugerdag [boodskap #120810] Wo, 10 Oktober 2018 06:58
Jan die Man  is tans af-lyn  Jan die Man
Boodskappe: 514
Geregistreer: Mei 2018
Karma: 22
Senior Lid
/fa/37/0/Vandag is 10 Oktober, Krugerdag, die dag waarop ons Paul Kruger se verjaarsdag vier. Paul Kruger was 'n Boere weerstandsleier wat verbete teen Britse bewind geveg en later president van die Zuid-Afrikaansche Republiek geword het.

Soos vorige jare sal daar om 15:00 'n kranslegging by die Heldeakker in Pretoria plaasvind. Enigeen is welkom om 'n krans op Kruger se graf (en by die grafte van ander geskiedkundige persone) te gaan lê. Die gebeure word om 16:30 opgevolg met 'n herdenkingsdiens in die Krugerkerk (reg oorkant die Krugerhuis).

So 'n bietjie agtergrond:

Krugerdag is die eerste keer in 1882 gevier terwyl Paul Kruger nog gelewe het. Jy was destyds die adjunkpresident, maar omdat hy soveel respek van sy volksgenote geniet het, is sy verjaardag met 'n feesdag gedenk. Dit is die daaropvolgende jaar amptelik as 'n openbare vakansiedag ingestel. Die gebruik het ten einde gekom nadat Brittanje die destydse Zuid-Afrikaansche Republiek verslaan het.

In 1910, met Uniewording, is die dag steeds nie as openbare vakansiedag erken nie. 'n Paar jaar na die Nasionale Party in Suid-Afrika aan bewind gekom het, is die dag in 1952 as Heldedag ingestel. Van tyd tot tyd is dit amptelik deur opeenvolgende regerings as hetsy Heldedag of Krugerdag geproklameer, en op kalenders as sodanig aangedui.

Dié vakansiedag is deur die ANC-regering opgehef toe hulle in 1994 aan bewind gekom het. Interessant genoeg word Heldedag steeds as een van ses vakansiedae in Orania waargeneem. Tale skole en kulturele organisasies reël ook byeenkomste om die gees van Krugerdag in stand te hou.

Soos Paul Kruger homself gesê het: "Neem uit die verlede alles wat goed en edel is, en bou daarop die toekoms."
Vorige onderwerp: ANC verloor hul webtuiste
Volgende onderwerp: Pik Botha oorlede
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Do Mar 28 12:08:51 MGT 2024