| "Katrina" deur I.D. DU PLESSIS [boodskap #37379] |
Wo., 29 November 2000 00:00  |
|
|
Oorspronklik gepos deur: @home.com
KATRINA
I D du Plessis
(Die vlammende fez, 1943)
Katrina van die Bo-Kaap
Het voor haar deur gestaan.
'n Boot lê in die hawe,
Matrose kom al aan
Oor Strandstraat na die Boereplein,
Die donker strate in;
en netnou sal Katrina
Se nagtaak weer begin.
'n Halfverlepte hoedjie hang
Parmantig oor een oog.
Die rooi veer is verrinneweer,
Maar staan nog met 'n boog
Katrina dra haar beste rok.
Sy stryk die kreukels plat.
So fyn asof 'n vryer wag
Het sy haar uitgevat.
Maar eer sy van haar huis gaan,
Kyk sy 'n keer weer om:
Lank sal die leë ure wees
Voordat sy daar kan kom.
Katrina stap deur Roosstraat:
Astrant, met slentergang.
Wie raai nou aan haar houding
dat sy na huis verlang?
Nou kom sy by haar susters:
Die rawe van die nag
Wat by die hoeke uitskel
Of somber staan en wag.
Katrina ken haar roeping:
'n Harpy van die eer;
'n Noodgedwonge rower
Wat alles tóg ontbeer.
Katrina haat die lewe,
Katrina vrees die dood.
Katrina gaan haar slentergang,
Verdien haar bitter brood.
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|