Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » George Weideman oorlede
George Weideman oorlede [boodskap #118343] Vr, 29 Augustus 2008 14:37 na volgende boodskap
bouer  is tans af-lyn  bouer
Boodskappe: 4803
Geregistreer: Desember 2003
Karma: 0
Senior Lid
Weideman verloor stryd
Aug 28 2008 09:46:37:400PM - (SA)


George Weideman

Kaapstad. – Hy het die lewe vir haar soos ’n palet ingekleur, met
helder kleure soos dié in ’n reënboog.

So het mev. Celine Weideman, vrou van wyle George Weideman (61),
bekende Afrikaanse skrywer en letterkundige, gister gesê terwyl sy
vertel hoe hy twee jaar vir haar gewag het om te trou. Sy was in st. 9
toe hulle ontmoet het; hy was ’n nuwe onderwyser in Fraserburg.

Weideman is gisteroggend ná ’n lang stryd teen kanker dood.

Sy vrou het gesê hy was dapper tot aan die einde.

“Ná elke operasie het hy opgestaan en voortgeveg. Dis net ná die
laaste operasie wat ek kon sien hy kan nie meer nie.”

Sy het gesê haar man se dood is vir hul twee dogters, Melita en
Siobhan, baie moeilik.

Hulle het volgens haar sy skeppingsvermoë geërf, die een op die
verhoog en die een met ’n kamera in die hand.

Die skrywer Elsa Joubert beskryf Weideman as ’n minsame, dog sterk
mens. ’n Liefdevolle vriend wat vir sy vriende omgegee het. Selfs toe
hy baie siek was, het hy die leiding geneem om meer as 100
handtekeninge van skrywers bymekaar te kry om te protesteer teen die
vermeende verengelsing van die Universiteit van Stellenbosch (US).
Haar gunsteling onder sy boeke is Draaijakkals.

Prof. Dorothea van Zyl, direkteur van die Universiteit van
Stellenbosch se Woordfees, het gesê hy was ’n besonderse skrywer en ’n
mens wat vir Afrikaans geleef het. Hy was volgens haar ook van die
begin krities oor die vorige bedeling en het hom vir die taal beywer.
Dít het gewys in sy harde werk in gemeenskappe. Hiervoor het hy ook
die ATKV-Afrikoon-toekenning ontvang.

Van Zyl beskryf Weideman as iemand wat in alle vorms van die
Afrikaanse letterkunde uitgeblink het – drama, poësie en kortverhale.

Hy was ’n begaafde en bekroonde skrywer wat vir die jeug én
volwassenes geskryf het.

Weideman word privaat veras.
Re: George Weideman oorlede [boodskap #118352 is 'n antwoord op boodskap #118343] Sa, 30 Augustus 2008 12:27 Na vorige boodskap
bouer  is tans af-lyn  bouer
Boodskappe: 4803
Geregistreer: Desember 2003
Karma: 0
Senior Lid
Ek persoonlik dink dat Weideman een van die klein
kring van regte groot digters in Afrikaans is. Ek dink
tot 'n groot mate het die mantel van Opperman op sy
skouers geval. Hy het nie soos NP van Wyk Louw
gedig nie. Hy het soos Opperman gedig. Hy het dieselfde
insig in die siel en die taal van die Afrikaner gehad as
wat Opperman gehad het.

Gloudina
Vorige onderwerp: Amerikaanse verkiesing
Volgende onderwerp: fotos van die wereld
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Vr Mei 03 10:46:04 MGT 2024