Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » A! Die ironie!
A! Die ironie! [boodskap #116630] Vr, 14 Maart 2008 11:15
Ferdi  is tans af-lyn  Ferdi
Boodskappe: 561
Geregistreer: Maart 2007
Karma: 0
Senior Lid
Uit beeld.

Wrede vaarwel vir gesin
Mar 13 2008 09:19:35:500PM - (SA)

Virginia Keppler
Twee dae nadat 'n gesin van Pretoria hul visums gekry het om
Suid-Afrika weens die misdaad hier vir Australië te verruil, het vyf
rowers hulle in hul huis aangehou, met strykysters gebrand en gedreig
om die vrou voor haar man en kinders te verkrag.

In dié gru-drama, wat langer as twee uur geduur het, is mev. Rachelle
Lubbe (41) van 'n kleinhoewe in Hennopsrivier eergister met 'n warm
strykyster op haar linkerbors, -arm en -skouer gebrand.

Die rowers het daarna haar broek afgetrek en haar met die strykyster
op die linkerboud gebrand.

Mnr. Chris Lubbe (43), 'n meganiese ingenieur, is herhaaldelik met 'n
warm strykyster op sy rug gebrand.

Die egpaar se kinders, Damian (16), die 13-jarige tweelingseuns,
Shelden en Cameron, en Savanah (8), is ook aangerand en Damian is in
die gesig geskop.

Gedurende hul skrikbewind het die rowers die gesin se kos geëet en hul
bier en melk gedrink.

“Ons het besluit om te emigreer as gevolg van misdaad. Nou het dit met
ons ook gebeur terwyl die res van die land sit en wag op hul beurt,”
het mev. Lubbe gesê.

Haar man het gesê sodra hulle hul paspoorte kry, is hulle op die
eerste vliegtuig landuit.

Die rowers het om 23:00 by die tweeling se slaapkamervenster ingebreek
en die seuns met vuurwapens onder die ken na die sitkamer laat
marsjeer.

Damian en sy pa is in die sitkamer oorval.

Mev. Lubbe het gaan ondersoek instel toe sy iets gehoor het. Sy het
haar in 'n gewapende rower vasgeloop.

"Sy oë was vol haat," het sy gesê.

Die rowers het die gesin in die sitkamer aangehou en vasgebind.

"Hulle het gedink ons het sakke vol geld in die huis en het ons met
die strykyster gebrand sodat ons vir hulle die geld kan gee, maar ons
het nie geld in die huis nie.

"Toe hulle my broek aftrek, het die tweeling geskreeu: 'Nee, Ma!',
maar ek het vir hulle gesê hulle moenie worrie nie, dis oukei.

"Ek het die kluis vir hulle (die rowers) oopgemaak en hulle het onder
meer vuurwapens, juwele, my trouring en R600 uit my beursie gevat.
Hulle het ook Shelden se R200 gesteel wat hy gespaar het."

Die rowers het mnr. Lubbe in 'n stadium na sy slaapkamer geneem.

'n Skoot het afgegaan, maar hy is nie getref nie. Gedurende dié
gebeure het Cameron gesê: "Mamma, kom ons bid." Toe het een van die
rowers gesê: "Bid, bid, want ek gaan nou jou pa skiet."

Savanah het vir die rowers gesê: "As julle nie my ouers skiet nie,
gaan hulle vir julle geld by 'n kitsbank trek."

Voordat die rowers met die gesin se bakkie en goedere van duisende
rande gevlug het, het een glo probeer om mnr. Lubbe op te hang.

"Die een het die tou om Chris se nek gesit en dit styf getrek. Die
ander een het dit weer losgemaak en vir sy makker gesê: 'Kom ons loop
net'," het mev. Lubbe gesê.

Een van die rowers het ook herhaaldelik aan mnr. Lubbe gesê: "Ek's
jammer, ek's jammer."

Nadat die rowers gevlug het, het die gesin hulle losgewikkel en by die
bure gaan hulp soek.

Kapt. Patricia Simelane, polisiewoordvoerder, het gesê die gesteelde
bakkie is gister in Diepsloot, suidwes van Pretoria, gekry.

"Dit is jammer dat ons met soveel slegte herinneringe en letsels die
land moet verlaat." het mev. Lubbe gesê.
Vorige onderwerp: Versoek aan Sielkundige(s), Gloudina, Ferdi Greyling, Lou, ens. ....
Volgende onderwerp: Tipies
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: So Apr 28 18:09:21 MGT 2024