Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » Opinie van Wilhelm Jordaan
Opinie van Wilhelm Jordaan [boodskap #116530] Wo, 05 Maart 2008 13:28
bouer  is tans af-lyn  bouer
Boodskappe: 4803
Geregistreer: Desember 2003
Karma: 0
Senior Lid
Van mens tot mens: Outoritarisme verteer SA samelewing
Mar 04 2008 09:22:47:230PM - (SA)

Wilhelm Jordaan

Tim du Plessis reken in Rapport (2 Maart) die soort kultuur wat
ontgroening laat voortduur, lê aan die wortel van die skandelike video
deur vier Kovsie-studente. Du Plessis meen dit kan nie teruggevoer
word na sulke studente se dikwels "onberispelike" ouerhuise nie.
Hiermee slaan Du Plessis die bal tegelyk raak en mis. Want die
werklike wortel van die kwaad is juis die gesinsideologie van
outoritarisme wat oor jare in baie Afrikaner-huise gekweek is, in
kerk- en skoolverband verdere beslag gekry het en ingeburger geraak
het deur apartheid. In baie Afrikaner-kringe floreer
gesinsoutoritarisme steeds. Gesinsoutoritarisme word gekenmerk deur
die verheiliging van 'n hiërargiese onderdanigheidstruktuur - met
pappie "bo" as "offisier in bevel"; gevolg deur mammie wat "onder" is,
gevolg deur boeties/sussies verder onder toe in die rangorde van
geboorte en geslag. Hieruit kom 'n patroon van meerderes en minderes
op die grondslag dat elke opwaartse beweging in die hiërargie groter
waarde aan jou gee - méér status, méér vryheid én méér toegeëiende
beskikkingsreg oor dié wat jy as jou minderes beskou. Maar
outoritarisme in die gesin en die samelewing is intiem verstrengel.
Die 16de eeuse klassifikasie-wetenskap (byvoorbeeld Linnaeus se
systema naturae) het aan ons die tradisie van 'n hiërargiese
rasverdeling gegee wat swartes "onder" geplaas het - met sekere
toegeskryfde, oorwegend negatiewe menslike eienskappe. Wat jy só leer,
gee struktuur aan die samelewing (politiek en kultureel), word deel
van die ouerhuis se denktradisie wat dan na die samelewing oorgedra
word. Daaruit kom byvoorbeeld die tradisie van ontgroening waarin
"seniors" die "juniors" verneder, afransel, belaglik maak, selfs
aanrand. Wesenlik geld dieselfde soort hiërargiese denke, met dalende
toegekende waarde, dan ook elke ander mens wat jy as jou mindere ag.
Dit is nie noodwendig só dat jy die "hoër" posisie bewustelik toe-eien
nie, maar eerder 'n geval van: dit is soos die tradisie dit bepaal, en
wie peuter nou met die "waarheid" van tradisie. Dié soort hiërargiese
tradisie-denke het baie ander uitlopers. Enersyds brutale
diskriminering teen diegene wat jy as "minderes" ag (soos met
kolonialisme, slawehandel en apartheid teenoor swartes gebeur het).
Andersyds 'n patroon van onnadenkende onverskilligheid jeens die
"hulle" wat nie soos "ons" is nie - soos dit steeds by baie wittes
teenoor swartes voortduur. Hiervolgens is swartes, wat nou die
politieke mag het, deel van jou leefwêreld, maar eintlik beklee hulle
nog steeds laer posisies in jóú hiërargie. Die Kovsie-studente se
verweer, en 'n pa se beaming daarvan (Beeld, 3 Maart), getuig hiervan.
Hulle sê hulle kom goed oor die weg met swartes; is sorgsaam teenoor
hulle; is nie rassiste nie; en wou net 'n "komiese ding" met hulle
doen om pret te maak. Hulle het nie bedoel om te verneder nie. Juis
dié onnadenkende onverskilligheid teenoor swartes se eeue oue
geskiedenis van "onder" wees in die uitgedinkte hiërargie van
menswees, is tekenend van 'n kanker wat die gesonde weefsel van 'n nie-
rassige Suid-Afrikaanse samelewing bedreig.

Wilhelm Jordaan is 'n buitengewone professor in sielkunde by Tuks.
Vorige onderwerp: vir Elke Deelnemer en Verbyganger...
Volgende onderwerp: Moeilike saak
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Wo Mei 01 03:17:39 MGT 2024