Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » Reaksie uit Washington
Reaksie uit Washington [boodskap #116441] Vr, 29 Februarie 2008 12:35
bouer  is tans af-lyn  bouer
Boodskappe: 4803
Geregistreer: Desember 2003
Karma: 0
Senior Lid
Beeld-deurloop: Wat loop ná apartheid in Bloem skeef?
Feb 28 2008 09:55:48:100PM - (SA)

Charles Smith

Presies 20 jaar terug is ek so byna uit 'n koshuis op die kampus van
die Vrystaatse Universiteit geskop omdat daar 'n bruin meisie in ons
kamer was.

Helder oordag. Sy het by ons koffie gedrink.

Dit is ironies dat die studente in Huis Abraham Fischer vandeesweek
die plek aan die brand wou steek omdat hulle probleme het met die
administrasie se integrasiebeleid.

Praat het in die Nuwe Suid-Afrika sy AWB gesien.

Die koshuisvader wat my aangespreek het oor my sonde is toevallig nou
hoof van die universiteit se integrasieprogram. 'n Program van
"rugbykoshuise" en "sokkerkoshuise'' is tot onlangs gevolg.

In my tyd - in die jaar van P.W. 1988 - was dit nog 'n wit
universiteit. Jammer - 'n Afrikaanse universiteit. Bruin
Afrikaanssprekendes was welkom - net nie in wit mans se kamers nie.
Natuurlik is die wit meisie met die koffiebeker in die hand misgekyk.

Ons het so bietjie van ons eie koshuis in die groter koshuis gehad.
Die meeste studente het in Abraham Fischer-koshuis gebly (genoem
Vishuis). Ek en Delarey Wagener het in "Bram Fischer-koshuis'' gebly
(vir diegene wat hul geskiedenis ken). As 'n grap, sien.

Maar in die jaar van onse P.W. van '88 het jy nie sulke grappies
gemaak nie. Jy het ook nie gepraat oor dinge soos die End Conscription
Campaign nie (al was ek klaar deur P.W. & Seuns). Die kadette het nie
van sulke opstokery gehou nie.

Een van die soort ouens wat die video's gemaak het, het ook nie
daarvan gehou dat 'n bruin meisie in ons kamer was nie.

Ons deur was oop. Daar hardloop hulle toe na die prof en word ons
aangetree.

Ek moes toe die woorde aanhoor: "Ek kan dit nog verstaan as daar
meisies in jou kamer was, maar hoekom 'n BRUIN meisie? Wat sal jou pa
hiervan sê?!" My pa was toe 'n NP-LP.

Ons was nie modelstudente nie, maar ons het nie brande gestig voor die
koshuis nie. Ek dink die UV-bestuur - en elke universiteit in die land
- moet hare op hul tande hê om al die opstande, brandstigting, getoi-
toi, aaklige video's en druk van die regering te hanteer.

Die prof destyds het seker net sy joppie gedoen. Ek is seker sy kop
sou gerol het as dit bekend geword het dat 'n bruin meisie in een van
sy koshuise was.

'n Sekere tweede-in-bevel van die huidige polisiediens wat toe 'n
staatsleer-dosent aan die UV was, het in 'n klas woedend teen die ANC
te kere gegaan. 'n Jaar of twee later is die ANC ontperk en raai wie
kry 'n senior possie in die SAPD? Die einste.

Die UV is 'n barometer van Suid-Afrika. Dat swart en wit mekaar uit
koshuisforte aangluur, is skrikwekkend.

Maar dit is nie net studente se skuld nie. Die land beleef 'n ernstige
leierskrisis. Mense moor, kaap, verkrag, plunder - en niks gebeur nie.
Dan kry jy sulke waansinnige gedrag soos in die video.

Twintig jaar terug het wit studente aan die UV - inwoners van die
einste Vishuis - naweke in townships gaan bly.

Wat het ná apartheid skeefgeloop?

My pa het my al op skool geleer om respek vir alle mense te hê. Dit is
die les wat te veel mense in Suid-Afrika nou nie meer kry nie.

) Charles Smith is Media24 se verteenwoordiger in Washington, DC.
Vorige onderwerp: Hessie is reg
Volgende onderwerp: Reaksie uit Brantford
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Wo Mei 01 08:53:37 MGT 2024