Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Ernstig » Nuus » Pikoli-storie ontwikkel
Pikoli-storie ontwikkel [boodskap #114936] Vr, 28 September 2007 12:33
Ferdi  is tans af-lyn  Ferdi
Boodskappe: 561
Geregistreer: Maart 2007
Karma: 0
Senior Lid
'Pikoli was op Selebi-spoor'
Sep 27 2007 09:54:27:497PM - (SA)

Msimelelo Njwabane, Pieter du Toit

'n Deursoekbevel vir die huis en kantoor van komm. Jackie Selebi,
nasionale polisiehoof, is glo verlede week uitgereik en dít het tot
die skorsing van adv. Vusi Pikoli, hoof van die nasionale
vervolgingsgesag (NV), gelei.

Beeld het by 'n uiters betroubare bron na aan die NV-ondersoek verneem
die lasbrief is verlede Donderdag al uitgereik.

Dit behels glo die deursoek van Selebi se kantore, sowel as 'n
lasbrief vir sy inhegtenisneming.

Selebi het glo hieroor by pres. Thabo Mbeki gekla en dit het volgens
inligting tot Pikoli se skorsing gelei.

Pikoli is vandeesweek deur Mbeki geskors nadat daar glo 'n
“vertrouensbreuk” tussen hom (Pikoli) en me. Brigitte Mabandla,
minister van justisie, ontstaan het. Nie die presidensie of die
departement het al verdere duidelikheid hieroor verskaf nie en 'n
ondersoek duur voort.

Die NV wou nie gisteraand die bewerings bevestig óf ontken nie en het
met “geen kommentaar” volstaan.

“Dit is nie ons storie nie. Dit is nie ons inligting nie. Die posisie
van die NV is een van geen kommentaar. Vir die res van die dag is dit
hoe dit gaan bly,” het mnr. Tlali Tlali, woordvoerder van die NV,
gisteraand gesê.

Nie mnr. Themba Maseko, kabinetswoordvoerder, óf mnr. Mukoni
Ratshitanga, Mbeki se woordvoerder, was vir kommentaar bereikbaar nie.

Hul selfone was af.

Dir. Sally de Beer, Selebi se woordvoerder, het gesê Selebi is nié
gearresteer nie.

“Ek is nie bewus van 'n lasbrief nie en verwag nie dat hy gearresteer
gaan word nie.

“Sake gaan voort soos gewoonlik. Hy (Selebi) het vandag (gister) soos
gewoonlik met sy werk voortgegaan. Ek het hom vandag gesien en hy lyk
nie te ontsteld nie. Hy is 'n sterk persoon. Ons (die polisie se
topbestuur) is al saam deur baie dinge,” het De Beer gesê.

Dr. Johan Burger, 'n senior navorser by die Instituut vir
Sekerheidstudies (ISS) in Pretoria, het gesê die president se kantoor
moet so gou moontlik duidelikheid oor die kwessie gee.

Volgens Burger moet die presidensie uitsluitsel gee oor of daar 'n
verband tussen Pikoli se skorsing en die beweerde lasbrief is.

“Hulle moet sê of daar waarheid in die gerugte is. Indien dit waar is,
moet hulle sê wat verhoed die NV om die lasbrief uit te voer.”

Hy het ook gesê dié bewerings kan die moreel van die polisie baie
skade doen.

“Dit is sleg vir polisielede op alle vlakke as hulle hoor 'n lasbrief
is vir hul grootbaas uitgereik. Dieselfde geld vir die moreel van die
NV. Is daar dan net sekeres wat vervolg mag word?”

Hy het gesê gebrekkige inligting oor Pikoli se situasie lei nou tot
die deurfiltering van sulke brokkies inligting.

“Die publiek verdien dit om behoorlik ingelig te word.”
Vorige onderwerp: Nog Suid-Afrika
Volgende onderwerp: Roelf Meyer oor transformasie
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: So Apr 28 19:22:55 MGT 2024