Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » Die herfs se verbygaan
Die herfs se verbygaan [boodskap #11054] Sa, 18 Oktober 1997 00:00 na volgende boodskap
G.B.  is tans af-lyn  G.B.
Boodskappe: 2179
Geregistreer: Mei 1997
Karma: 0
Senior Lid
Nog 'n ander herfs is besig om verby te gaan hier
in die noordelike deel van Noord-Amerika. Hierdie
jaar het ons 'n gas van Suid-Afrika gehad wat gekom
het spesifiek om die blare te besigtig. Ons het dus ons
roetes gereël deur plekke waar daar baie bome was. Na
haar aankoms in Toronto (en 'n besoek aan die Niagara
Valle) is ons terug deur die Algonquin Park, waar daar
takke was wat al mooi verkleur het. Na 'n paar dae in
Ottawa is ons toe in Noordelike New York Staat in,
deur die Adirondacks, waar sommige hange alreeds
omtrent heeltemal verkleur was. Lake Placid, waar die
Olimpiese winterspele al tweekeer gehou is, is in die
Adirondacks.
Ons het al verder suid gery tot by New York, waar
die blare nog nie heeltemal met mening verkleur het nie.
Ons het New York-besoek nou tot 'n pynlose kuns ont-
wikkel. Ons slaap by 'n hotel in New Jersey wat vier myl
van die Lincoln Tunnel is. Dan gaan ons per bus die 20
minute in na die Port Authority se busterminus, wat binne
loopafstand is van Times Square. Hierdie keer het ons
saam met ons vriendin op shuttle-busse geklim en die
stad soos toeriste besien. Nou ken ek die stad nog beter.
Ons het eenkeer lekker gelag. Na 'n besoek aan die
Statue of Liberty klim ons weer op 'n boot om terug te
gaan na Battery Park (die suidpunt van Manhattan.) Toe
ons afklim van die boot, begin ons stap na waar ons die
hoë geboue van Battery Park sien. Na 'n ruk sê ek vir
die twee ander dat ek dink Battery Park verder is as wat
ons dink, en dat daar miskien water tussenin is. Dis eers
toe dat ons uitvind dat die boot ons na New Jersey toe
geneem het. Dit kos ons toe om weer op 'n boot te klim
en terug te gaan via Ellis Island na die suidpunt van die
eiland van Manhattan.
Na New York is ons noordwaarts na Boston, waar
ons in die aandskemer om Walden Pond geloop het, en op
die Boston Common 'n toerbus kon haal wat ons al die
historiese plekke kon wys, soos waar die Boston Tea Party
plaasgevind het. Toe is ons nog verder noord. In die
White Mountains van New Hampshire het ons die herfs
in al sy volledigheid gesien - hele hange van berge met
net herfskleure, niks groen tussenin nie. Een van die
lokale mense het vir ons gesê dis een van die beste jare
vir blare in 'n lang ruk, omdat daar nie reën en winde was
wat die blare afgeskud het nie. Om al die skakerings van
rooi en perskekleur en nartjiekleur en die lappe geel van
die berkebome te sien, los my net elke keer sonder woorde.
Terug in Kanada in was die blare al oor hulle fleur,
maar die verskillende skakerings van geel tussen die silwer
van die kaal takke het 'n mens nog diep geroer.
Uiteindelik het ons ge-eindig waar ons begin het. Ons
het Thanksgiving met twintig ander mense by ons dogter
deurgebring. Op die Thanksgiving -Maandag het ons gaan
eet in die revolving restaurant van die CN Tower en vir
Toronto en die eilandjies in die hawe uit die hoogte besien.
Die dag net voor ons ons vriendin op die vliegtuig gesit het,
is ons na die Oktoberfest in Kitchener-Waterloo. Hulle het
die grootste Oktoberfest in die wêreld buite Duitsland. Die
oulikste vir my was hoe vier mans op die ritme van 'n
lied 'n maple log deurkap.
Nou is die herfs ongeveer verby. Daar is nog hier en
daar kleur en ek is lief vir die geleidelike afstroping wat
daar van nou af plaasvind. Ek is ook reg vir die winter
se ander maniere van doen. Maar ek moet sê : hierdie
herfs was seker een van die bestes wat ek nog belewe het.

Gloudina Bouwer
Re: Die herfs se verbygaan [boodskap #11077 is 'n antwoord op boodskap #11054] Di, 21 Oktober 1997 00:00 Na vorige boodskapna volgende boodskap
Alwyn Nel  is tans af-lyn  Alwyn Nel
Boodskappe: 174
Geregistreer: Maart 2006
Karma: 0
Senior Lid
>
> Nog 'n ander herfs is besig om verby te gaan hier
> in die noordelike deel van Noord-Amerika. Hierdie
> jaar het ons 'n gas van Suid-Afrika gehad wat gekom
> het spesifiek om die blare te besigtig. [snip]

> Nou is die herfs ongeveer verby. Daar is nog hier en
> daar kleur en ek is lief vir die geleidelike afstroping wat
> daar van nou af plaasvind. Ek is ook reg vir die winter
> se ander maniere van doen. Maar ek moet sê : hierdie
> herfs was seker een van die bestes wat ek nog belewe het.
>
> Gloudina Bouwer
>
Pragtig, Gloudina, ek het dit terdee geniet!

El Nino het die Transvaalse (ekskuus - Gautengse) hoëveld met 'n venynige
koue spel getref, hier in die hartjie van Oktobermaand.

Maar dit bly nogsteeds die mooiste, mooiste maand. Die kleureprag het geen
einde nie. Ek het my tuin op video vasgele om vir die familie in Australie
te gaan wys.

Dis laatnag en tyd om te gaan doedoe

Alwyn
Re: Die herfs se verbygaan [boodskap #11087 is 'n antwoord op boodskap #11054] Wo, 22 Oktober 1997 00:00 Na vorige boodskap
G.B.  is tans af-lyn  G.B.
Boodskappe: 2179
Geregistreer: Mei 1997
Karma: 0
Senior Lid
"Alwyn Nel" writes: >

> El Nino het die Transvaalse (ekskuus - Gautengse) hoëveld met 'n venynige
> koue spel getref, hier in die hartjie van Oktobermaand.
>
> Maar dit bly nogsteeds die mooiste, mooiste maand. Die kleureprag het geen
> einde nie. Ek het my tuin op video vasgele om vir die familie in Australie
> te gaan wys.
>
> Dis laatnag en tyd om te gaan doedoe
>
> Alwyn

Ja, dit roer my altyd so dat die herfskleure
hier op dieselfde tyd verskyn as die jakarandas
in die suidelike halfrond. So asof dit so bestem
is dat Oktober die mooiste, mooiste maand gaan
wees, waar jy ook al is.
Die eerste teken van die winter het toe by ons
gekom. Vanoggend (22 Oktober) is alles wit van
die sneeu. Maar dit sal seker gou weer smelt. Ons
is veronderstel om as gevolg van El Nino 'n warm
winter te h^e, met die koue in die suidelike VSA.
Gloudina
Vorige onderwerp: Re: Waarop kan afrikaners trots wees?
Volgende onderwerp: Oos Kaapse Afrikaners antwoord asb!!!
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: So Jun 02 10:30:53 MGT 2024