Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » oor Herman Charles Bosman
oor Herman Charles Bosman [boodskap #108877] Di, 14 Februarie 2006 23:45 na volgende boodskap
bouer  is tans af-lyn  bouer
Boodskappe: 4803
Geregistreer: Desember 2003
Karma: 0
Senior Lid
Resensie van Herman Charles Bosman - Between the lines deur Valerie
Rosenberg
Jaco Fouché


Dit moet dalk kommerwekkend wees hoeveel mense nie net daaraan dink om
hulle op die een of ander manier aan 'n kunsvorm toe te wy nie, maar
inderdaad tot die stap oorgaan en die wilde en gekke ding doen - die
woonstel verkoop, die kar inruil op 'n ouer model, die wye wêreld
aandurf in die hardkoppige geloof dat die boheemse leefwyse sy eie
beloning is en dat die opofferinge nie hóéf te lei tot grootsheid en
aansien en geld in die bank nie. Sekerlik is menige hart al gebreek
deur die obsessionele gesukkel van 'n geliefde om aan die kloue van
toewyding, matrimonie en burgerlikheid te ontkom, net om tog maar
afhanklik (en nie net finansieel nie) te bly van wat daardie
burgerlikheid bied - sekuriteit, geldelike ondersteuning, selfs net
'n gehoor.

Want dis die kunssinnige burgerlikheid wat die kunswaansinniges
onderhou, maak nie 'n fout nie. En die kunswaansinniges sal dalk 'n
tikkie verstandigheid openbaar deur op goeie voet met hulle publiek te
bly. Bosman het nie altyd nie, en Valerie Rosenberg se boek is nie net
'n storie van moord, prisonierskap, aborsie en verguising nie, maar
ook van verwaandheid (Bosman het George Bernard Shaw as 'n
"intellectual poseur" afgemaak, en van Roy Campbell se "sterile
wit" gepraat) en 'n meestal onwrikbare geloof in die "life of the
poet" ("I can't speak as a man in the street. I can speak only as
an artist").

Die storie sal sekerlik goed aan sommiges bekend wees, ook omdat
Rosenberg self al oor Bosman geskryf het, maar vir mense wat nog moet
hoor van die moord op Bosman se stiefbroer (hy het hom doodgeskiet),
tronkstraf en verblyf in Groot Marico en die tyd in Europa, asook
Bosman se liefdesverhoudings, is hier heelwat intrigerende materiaal.

Een van hierdie liefdesverhoudings was met Helena Stegmann, 'n
onderwyseres wat Bosman, wat toe met 'n ander vrou getroud was,
ontmoet het toe hy in Pietersburg gewerk het. Daar was die verwagte
vonke. Daar was gevolge. Stappe moes gedoen word met betrekking tot
ongewenste lewe. Bosman het 'n plan gemaak en Helena het in die sorg
beland van 'n distriksgeneesheer wat 'n wrok teen Bosman gehad het
en hom aanspreeklik wou hou. Aanvanklik het sy haar minnaar beskerm,
maar die feite het uitgekom en Bosman moes uiteindelik sy werk as
redakteur agterlaat en teruggaan Johannesburg toe, hoewel hy darem
weldra Helena sy vrou kon noem.

Daar was ook vriendskappe. Bosman was Lionel Abrahams, vir wie hy
agtien maande lank as privaat onderwyser klas gegee het, se mentor. Oor
kuns het Bosman een keer in Abrahams se teenwoordigheid gekonstateer:
"We don't want to be judged on merit. We want to be judged on
genius." Hy het aan Abrahams gesê dat dit noodsaaklik is om slegs
dit te skryf wat 'n mens vir seker wéét van die lewe. Maar tesame
met 'n realistiese benadering tot die lewe het hy natuurlik ook gewys
op die belangrikheid van humor in 'n stuk werk. Abrahams het later sy
skuld betaal deur literêre eksekuteur en eerste postume redakteur van
Bosman te wees, asook sekerlik deur die blote feit dat hy self 'n
skrywer geword het.

Gordon Vorster was 'n ander student, en gou groot vriend en
drinkebroer. Rosenberg haal hom aan: "... we hated each other as
well, because I was brash and he had the wisdom of many
disillusionments. I believed in people and with some reservations, had
stars in my eyes about them; he accepted people unreservedly, with all
the muck."

Bosman het die lewe van 'n boheem geleef, of dan die naaste ding
daaraan. Daar was verskeie werke en soms onwyse besluite, soos om in
die veertigerjare Kaapstad toe te trek waar hy klassieke literêre werk
vir 'n onderneming met die naam Die Afrikaanse Kulturele Leserskring
sou vertaal en verkoop, maar gou was die problematiek van die stap
duidelik en was sy en Helena se posisie benard. Hy het darem so ver
gekom om Omar Khayyam in Afrikaans te vertaal, maar daar was geen
vooruitsigte in en vir die onderneming nie. Nadat hy op die koop toe sy
eerste hartaanval beleef het, is hulle terug Johannesburg toe.

'n Mens lees van karton wat hy gebruik het om sy skoensole langer te
laat hou, van swaarkry in Londen, van uitsetting en skrynende oordeel
- en gedurig die finansiële probleme by die ander krisisse. Tog was
sy gesindheid, soos hy aan Helena in Pietersburg verduidelik het, dat
'n ander deur vir 'n mens oopgaan sodra jy een toemaak.

Die laaste deur om vir Bosman toe te gaan, het so gemaak toe hy 46 was.
Wat kon hy wys vir daardie vier dekades en 'n bietjie? Drie vroue,
van wie Helena miskien die groot liefde was, en die drie boeke wat in
sy leeftyd gepubliseer is (die eerste toe hy 42 was), en natuurlik die
nalatenskap van die romans en karakters soos oom Schalk Lourens.

Maar die man was dalk groter as sy werk, of is ten minste
ononderskeibaar daarvan. "A poet is no small thing," het hy
geskryf, maar bygevoeg: "Before embarking on what sounds like the
start of a fanfare, I should like to point out that a poet is also a
fool."

Dis 'n boek vir aficionado's en belangstellendes, maar ook
kunsdissipels, wannabe's en has-beens kan maar kennis neem van
hierdie leesbare lewensbeskrywing.

Nadat Mafeking Road verskyn het, het die Sunday Times-resensent haar
soos volg uitgelaat oor die boek en Bosman: " ... after reading a few
of the stories in bed that night, I felt a strange elation. Here, I
realised, was no amateur author but a writer of genius."
Re: oor Herman Charles Bosman [boodskap #108895 is 'n antwoord op boodskap #108877] Wo, 15 Februarie 2006 13:54 Na vorige boodskapna volgende boodskap
Jonas  is tans af-lyn  Jonas
Boodskappe: 1070
Geregistreer: September 2001
Karma: 0
Senior Lid
Ek verstaan dat Stephen Gray ook oor Bosman geskryf het - maar is sy
werk ietwat akademies.
Ek het ongeveer 4 maannde gelede 'n koerantartikel (iewers?) gelees oor
sy familieverwantskappe. Heel interessant.
Re: oor Herman Charles Bosman [boodskap #108898 is 'n antwoord op boodskap #108895] Wo, 15 Februarie 2006 15:34 Na vorige boodskapna volgende boodskap
bouer  is tans af-lyn  bouer
Boodskappe: 4803
Geregistreer: Desember 2003
Karma: 0
Senior Lid
Jonas skryf

> Ek verstaan dat Stephen Gray ook oor Bosman geskryf het - maar is sy
> werk ietwat akademies.
> Ek het ongeveer 4 maannde gelede 'n koerantartikel (iewers?) gelees oor
> sy familieverwantskappe. Heel interessant.

Ja, ek sou graag die jongste biografie oor
Bosman lees. ( Iemand hier in Ontario het
dit gehad, maar uitgeleen, en kry dit seker
nog nie terug nie.) Blykbaar is daar sprake
van dat Bosman die spruit is van 'n broer/
suster affaire.

Gloudina
Re: oor Herman Charles Bosman [boodskap #108911 is 'n antwoord op boodskap #108898] Do, 16 Februarie 2006 05:24 Na vorige boodskap
Annette  is tans af-lyn  Annette
Boodskappe: 11114
Geregistreer: Augustus 2003
Karma: 1
Senior Lid
Dis dan seker die rede hoekom hy so eenders gelyk het:))
--
Groetnis
Annette
"Hessie" wrote in message
news:1140017688.746286.289170@g47g2000cwa.googlegroups.com.. .
>
> Jonas skryf
>
>> Ek verstaan dat Stephen Gray ook oor Bosman geskryf het - maar is sy
>> werk ietwat akademies.
>> Ek het ongeveer 4 maannde gelede 'n koerantartikel (iewers?) gelees oor
>> sy familieverwantskappe. Heel interessant.
>
> Ja, ek sou graag die jongste biografie oor
> Bosman lees. ( Iemand hier in Ontario het
> dit gehad, maar uitgeleen, en kry dit seker
> nog nie terug nie.) Blykbaar is daar sprake
> van dat Bosman die spruit is van 'n broer/
> suster affaire.
>
> Gloudina
>
Vorige onderwerp: " Bou brûe oor onoorbrugbare " deur Henry Jeffreys ( uit Beeld)
Volgende onderwerp: Ferdi se lieflingsregering gaan 6000 plase onteien
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Sa Jun 01 15:48:24 MGT 2024