Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Begroting
Begroting [boodskap #132949] Wo, 19 Augustus 2020 16:05
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
'n Begroting is 'n raming van die inkomste en uitgawe van 'n toekomstige tydperk, gewoonlik 'n jaar.

Die belangrikste enkele begroting van 'n land is die begroting van die sentrale regering. Die minister van finansies dien gewoonlik in die begin van die boekjaar 'n begroting by die parlement in. Daaroor lewer hy sy begrotingsrede, waarin hy 'n oorsig gee van ekonomiese en finansiële toestande: hoeveel die staat ontvang en uitgegee het in die boekjaar wat ten einde loop; wat die ooreenstemmende bedrae, waarvan die besonderhede in witpapiere uiteengesit word, vir die komende jaar sal wees; hoe die staat bykomende inkomste of fondse gaan verkry as die verwagte belastinginkomste en leningsfasiliteite onvoldoende blyk; hoe 'n moontlike oorskot gebruik gaan word, bv. deur belastings te verminder; of hoe fiskale maatreëls gebruik sal word om ander oogmerke, soos ekonomiese stabilisasie, te bevorder.

In die weke wat op die begrotingsrede volg, word die voorgestelde uitgawe en die maatreëls ter verkryging van die benodigde inkomste in die parlement bespreek en word hulle uiteindelik, met of sonder wysiginge, d.m.v. 'n begrotings- en 'n finansiewet bekragtig. In die begrotingswet staan in die opgawe van die geoutoriseerde uitgawe twee kolomme. Die bedrae in die tweede kolom mag nie oorskry word nie en besparings daarop mag nie aangewend word vir enige ander doel as dié waarvoor dit toegestaan is nie. Besparings onder een subhoof van 'n begrotingspos in kolom 1 mag, met die goedkeuring van die minister van finansies, gebruik word vir dekking van uitgawe bo die gemagtigde bedrag onder 'n ander subhoof, of van uitgawe onder 'n nuwe subhoof van dieselfde begrotingspos. Indien dit nodig word om meer uit te gee as wat oorspronklik geraam was, word aanvullende begrotings ingedien. Kontrole oor die staat se finansiële transaksies word daarna in Suid-Afrika deur die Tesourie, die Kontroleur- en Ouditeur-generaal en die parlementêre komitee vir staatsrekeninge uitgeoefen. Die parlement behou vanselfsprekend die laaste seggenskap, en kan dit uitoefen deur die verslag van laasgenoemde twee liggame in oënskou te neem. Daar word egter nie altyd genoeg aandag daaraan bestee nie. Daarom dat 'n begrotingskomitee, wat die begroting voor indiening en wettiging kan ondersoek, aan die hand gedoen word.

Die begroting van S.A. verdeel die uitgawe en inkomste in 2 rekeninge: die Inkomsterekening en die Leningsrekening. Eersgenoemde omvat alle belasting- en ander lopende inkomste en gewone of lopende uitgawe; Laasgenoemde omvat die opbrengs van staatslenings, terugbetalings en sekere ander gelde daaraan toegewys, waaruit dan kapitaal-uitgawe vir paaie, brûe, spoorweë, damme, openbare geboue ens. gedek word.

'n Staatsbegroting soos dié van S.A., wat jaarliks bedrae behels gelyk aan 'n vyfde van die land se inkome, oefen sterk invloed uit op 'n groot aantal punte in die ekonomiese struktuur. In baie ander Westerse lande is die betrokke verhouding en die invloed selfs groter.

Bron: Die Afrikaanse Kernensiklopedie, J.P. Scannell (red.), 1965

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Beets, Nicolaas
Volgende onderwerp: Begum
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: So Jul 14 15:55:15 MGT 2024