Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » Kalkoene en Kersfeesliggies
Kalkoene en Kersfeesliggies [boodskap #11847] |
So, 14 Desember 1997 00:00 |
Henry van Zyl
Boodskappe: 30 Geregistreer: Augustus 1997
Karma: 0
|
Volle Lid |
|
|
Hier is ons nou byna deur die tydperk waarna hier verwys word as die
holidays. As jy van 'n ander land af kom, soos ons, kan jy dalk die fout
maak om dit ter verwar met 'n konsep soos ons Kersvakansie in
Suid-Afrika, wat in die somer saamval met die skoolvakansie en 'n soort
algemene werkstilstand wat van drie tot ses weke of meer duur. Nie hier
nie. Hier werk jy tot Oukersdag, en die dag na Kersfees is almal weer
terug op kantoor. Die holidays verwys na Halloween, Thanksgiving en
Kersfees, met Nuwejaar om alles mooi af te rond. Met tussenposes van van
ongeveer 'n maand word daar pret en jolyt gevier. As jy godsdienstig is,
het Kersfees (vir die Christene) of Hanukkah (vir die Jode) natuurlik Ân
heel ander dimensie. Halloween en Nuwejaar is die groot pretfeeste.
Thanksgiving het 'n ander, inniger karakter, met die klem op gesins- en
familiebyeenkomste. In Philadelphia is Nuwejaar die dag van die Mummers'
Parade. Dis 'n soort Kaapse Klopse en uitbundige Mardi Gras ineengevleg.
Mense wat daaraan deelneem, ding met mekaar mee om die uitspattigste en
aanskoulikste kostuums denkbaar aan te trek. En natuurlik word alles oor
die TV aan die hele bevolking vertoon, sodat almal kan delneem aan die
pret.
Oor Halloween het ek reeds geskryf; dus gaan dit nou net oor die ander
twee feeste; een is reeds verby; die ander is op pad.
Thanksgiving is toe nie, soos ek gedink het,'n dag waarop die
Amerikaners die aankoms van die Pilgrim Fathers uit Engeland herdenk
nie. Dié groepie was die eerste koloniste wat in 1620 hierheen gekom het
om godsdienstige vervolging in Engeland te ontsnap. Hulle het in die
Mayflower hier aangeland nadat hulle meer as twee maande ter see was in
haglike omstandighede. Hulle eerste winter hier was glo erg; die helfte
van die groepie het omgekom, daar was 'n verskriklike droogte,maar nadat
die eerste reëns geval het, kon hulle saai en plant. Hulle eerste oes
was baie goed. Daar was mielies (Indian corn), gort en genoeg vleis.
Hulle het daardie eerste oes gevier met wilde kalkoene wat hulle gejag
het; daar was baie vis wat hulle kon vang en die Indiane het 5 takbokke
geskenk. Altesaam 90 Indiane het drie dae lank saam met die groepie
koloniste fees gevier. So het Thanksgiving ook die ondertone van 'n
danksegging vir die oes behou, wat vandag nog beklemtoon word.
Die Puriteine het die tradisie gehad om een dag per jaar opsy te sit vir
danksegging. So het hulle die tradisie in die Nuwe Wêreld kom voortsit,
en metteryd, meer as 200 jaar later, het die veldtogte begin om dit 'n
wettige vakansiedag verklaar te kry. Abraham Lincoln het dit as 'n
nasionale danksegginsgdag verklaar in 1863, en van toe af word die
vierde Donderdag in November gevier as 'n dankseggingsdag. Dan word daar
dankie gesê vir alles waarvoor mense dankbaar behoort te wees. Dis 'n
gesinsdag en mense reis ver, net om die dag met hulle gesinne en familie
deur te bring. Meer as 'n miljoen en 'n half mense het glo hierdie jaar
op Thanksgiving kruis en dwars oor hierdie land gevlieg om bymekaar te
kan wees; altesaam 27 miljoen het per pad, spoor en vliegtuig gereis.
Die dag is ook gevier met kospakkies wat uitgedeel word: die
Philadelphia-polisie het glo meer as 700 pakke kos, wat kalkoene en al
die trimmings insluit, by behoeftiges gaan aflewer. Hawelose mense is
met busse bymekaar gemaak en aangery na plekke waar hulle 'n gratis
kalkoenete kon geniet. Daar is ook minstens twee groot optogte hier aan
die Ooskus: die Macy's optog in New York, en die optog in Philadelphia.
Meer as 6000 mense het glo deel aan die optog in New York deelgeneem, en
byna twee miljoen mense was in die state om daarna te kyk. Daar was
sierwaens, reuseballonne, trompoppies, orkeste en wie weet wat nog
alles. Dis soos 'n reuse-opvoering in die buitelug, want elke kort-kort
stop die hele optog en dan word daar eers die een of ander dans opgevoer
of uittreksels uit bekende rolprente, soos Beauty and the Beast, Little
Mermaid en so aan. Van 9-uur af is dit op TV uitgesaai. Ek is net baie
bly ek was nie daar nie, want die wind het die dag erg gewaai, en die
temperatuur was so om en by -6 Celsius in die wind.
Nou is Kersfees in aantog. Dis natuurlik by uitstek 'n koopfees, soos
dit seker maar oral oor die wêreld is waar daar mense is wat koop en
ander wat verkoop. Die koopwaansin begin met Swart Vrydag, die dag direk
na Thanksgiving. Dit word Swat Vrydag genoem omdat die handelaars daarop
staat maak dat die verkope op daardie dag hulle bankbalanse sal red uit
die rooi. Winkels maak reeds om sesuur die oggend oop, en toue mense
ding mee om die winskopies wat aangebied word.. Van daardie dag af, tot
na Kersfees, is daar minstens een kettingwinkelgroep waarvan ek weet -
Walmart - wat 24 uur oop is vir inkopiejagters. Die groot winkelsentrums
in ons omgewing bly meestal tot middernag oop in hierdie tyd.
En mense bestee honderde, selfs duisende, om hulle huise te versier.
Liggies word in bome opgehang, huise word versier met liggies en alles
word gedoen om 'n Victoriaanse atmosfeer te skep met groot rooi strikke
en Kerskranse wat van dennenaalde gemaak is. Werklik 'n tyd om jou aan
die nostalgiese verlange na "die goeie ou tyd" oor te gee. Byna elke
huis het 'n uitstalling in die voortuin: takbokkies, Kersvaders met
slee, figuurtjies uit die Neutekraker-ballet, kriptonele en wat nog ook
versier die tuine. Een huis waarby ek dikwels verbyry, is heeltemal
oortrek van liggies, sodat dit lyk soos die stel van 'n feë-opvoering.
Pragtig verby! Nog 'n gebou lyk soos 'n reusagtige Kerspakket, met groot
rooi lint reg rondom en kolossale strik voor, in die middel.
Selfs ek het geswig onder die druk en 'n paar stringe gekleurde liggies
gaan koop om om die struike in die voortuin te drapeer.
|
|
|
Re: Kalkoene en Kersfeesliggies [boodskap #11874 is 'n antwoord op boodskap #11847] |
Wo, 17 Desember 1997 00:00 |
G.B.
Boodskappe: 2174 Geregistreer: Mei 1997
Karma: 0
|
Senior Lid |
|
|
Henry van Zyl writes:
en van toe af word die
> vierde Donderdag in November gevier as 'n dankseggingsdag.
In Kanada word Thanksgiving in die tweede
week van Oktober gevier. Dis die tyd wanneer
die oeste ingebring word. Die Amerikaners
op die noordelike grense moet egter wag tot
aan die einde van November voor hulle hul
Thanksgiving kan vier. Dan is alles al bedek
met sneeu in 'n deursnee jaar. (Ons bly net
'n uur se ry van die dorpe net oor die St.
Lawrence Rivier in Noordelike New York Staat.)
Gloudina
|
|
|
|
|
Gaan na forum:
[ XML-voer ] [ ]
Tyd nou: So Nov 17 16:49:52 MGT 2024
|