Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Woordeboek » jy (jý)
jy [boodskap #126478] Sa, 08 Junie 2019 08:35
Leksikograaf  is tans af-lyn  Leksikograaf
Boodskappe: 19021
Geregistreer: Maart 2019
Karma: 1
Senior Lid
jy
Afbreking: jy
Uitspraak: /jəɪ̯/




Persoonlike voornaamwoord: jy

Betekenis:
• Die manier hoe 'n mens iemand aanspreek wat jy goed ken (wat jou gelyke is).
• 'n Mens in die algemeen.

Gebruik:
• Sal jy met my dans? Jy moet jou nie staan en parmantig hou nie.
Jy weet nooit wat kan gebeur nie.

Spreekwoord:
• Maak soos jy lekker kry. [Maak soos jy wil.]
• Al staan jy op jou kop. [Al doen jy ook wat.]
• Maai wat jy saai. [Die gevolge van jou dade dra.]
• Besin eer jy begin. [Dink eers goed voor jy optree.]
• Het jy geen mond nie? [Kan jy nie iets sê nie?]
• Voel of jy in die aarde kan wegsink. [Baie skaam voel.]
• As jy aan die aas roer, stink dit. [Laat vuil sake rus.]
• Wys van watter stoffasie jy gemaak is. [Wys wat jy kan doen.]
• Is jy van glas gemaak? [Gevra vir iemand wat in jou lig staan.]
• As dit pap reën, moet jy skep. [Elke geleentheid moet gebruik word.]
• Kat se blad, lek hom plat dan weet jy wat. [Gesê om 'n nuuskierige kind stil te kry.]
• Ek meneer en jy meneer, wie sal dan die wa smeer. [Wie sal die handewerk doen as almal geleerd is.]
Jy moet speel met die kaarte wat jy het. [Jy moet gebruik maak van die middele wat jy besit.]
• Met die maat waarmee jy meet, sal jy gemeet word. [Soos jy iemand behandel, sal jy ook behandel word.]
• Praat jy wat baard het. [Uitnodiging aan 'n ouer persoon om sy opinie te gee.]
• Praat van die duiwel, dan trap jy op sy stert. [Gesê van 'n persoon wat bespreek word en dan juis inkom.]
• Soos jy jou bed maak, so sal jy daarop slaap. ['n Mens dra die gevolge van jou dade.]
• Toe jy nog 'n apie/bobbejaan was. [Voor jy nog gebore is.]
• Uit die mond van die kind, sal jy die waarheid hoor. ['n Kind sê wat hy dink en steek niks weg nie.]
• Waar jy mee verkeer, word jy mee geëer. [Jy word beoordeel na jou vriende.]
• Waar jy nie self by is nie, word jou gesig nie gewas nie. [Bly by jou goed as jy nie skade wil hê nie.]
• Wat jy bedank, is jy kwyt. [As jy 'n present afwys, kry jy dit nie later nie.]
• Wat jy saai, sal jy maai. [Jy sal die gevolge van jou dade moet dra.]
• As jy op twee stoele tegelyk wil sit, kom jy op die grond te lande. ['n Mens kan selde twee dinge gelyk met sukses doen.]
• As 'n mens in Rome is, moet jy maak soos die Romeine. [As iemand in 'n vreemde plek is, moet hy hom na die nuwe toestande skik.]

Afgelei:
• jy-en-jou

Vertaling:
Engels: you
Nederlands: jij, gij
Xhosa: wena

Nota:
• Onderwerpsvorm van die persoonlike voornaamwoord, tweede persoon, enkelvoud.

Laat weet asb as die inskrywing foute bevat of verder verbeter kan word.
Vorige onderwerp: gevalle
Volgende onderwerp: sulke
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: So Mei 19 21:13:41 MGT 2024