Tuis » Taal » Ensiklopedie » Afrikaanse letterkunde
Afrikaanse letterkunde [boodskap #120908] |
Sa, 10 November 2018 16:11 |
|
Inligting
Boodskappe: 4588 Geregistreer: November 2018
Karma: 1
|
Senior Lid |
|
|
In die ontwikkeling van die meeste tale vind ons 'n tyd wanneer die gesproke vorm afwyk van die letterkundige vorm en dan aanspraak maak op erkenning as deel van die geskrewe tradisie. So 'n tyd het vir Engels aangebreek in die dae van koning Alfred en vir Italiaans in die dae van Dante. Die taal begin neig om sy onbuigsame uitgange af te skud, om sy grammatika te vereenvoudig, en (soos dit gebeur het in die oorgang van Latyn na die Romeinse tale en van die ou Grieks na moderne Grieks) om gebruik te maak van verkleinwoorde wat die taal van die volk karakteriseer.
Dit is wat gebeur het toe Afrikaans ontwikkel het van die Nederlands wat die eerste setlaars in 1652 met hulle saamgebring het na die Kaap. Blootgestel aan die plaaslike invloede van die inheemse stamme, van die Maleis-Portugese slawe, die Franse Hugenote, het die taal van sy oorspronklike vorm begin afwyk; en so vroeg as 1750 is daar reeds spore van hierdie afwyking.
Dit is dus geen wonder nie dat terwyl Nederlands voldoende was vir formele gesprekke, die gesproke taal vir intieme meningsuitings gebesig is.
'n Dekade gelede sê Roy Campbell in 'n ongepubliseerde brief: 'The Afrikaans language... is full of adventure for the bold and daring... and unique among contemporary tongues for youth and freshness... Afrikaans is just now in such state as was the English language when Marlow first snaffled its jaws with thunder'.
Die eerste geskrifte wat verbind word met S.J. du Toit en sy vriende in die jaar 1875 kan beswaarlik letterkunde genoem word, hoewel dit die moontlikhede van Afrikaans getoon het. Dit was die oorlog van 1899-1902 wat die eerste ware Afrikaanse letterkunde te voorskyn laat tree en 'n nasionale gevoel laat opwel het.
Die vroeë gedigte van die groot driemanskap, Jan Ciliiers, J.D. du Toit ('Totius', seun van die bogenoemde pionier) en C.L. Leipoldt, was noodwendig hoofsaaklik oor die oorlog. Dr. Leipoldt, hoewel dikwels agtelosig as 'n skrywer, was verreweg die spontaanste -- voorwaar 'n man van groot aanleg. Hy was ook die skrywer met die wydste belangeveld, bekend met Engels en Europese letterkunde en met die Nederlandse Ooste. Sommige van sy Engelse gedigte, wat na sy dood gepubliseer is, het 'n hoë standaard bereik.
Net soos die Romeinse boer te staan gekom het voor die enorme prestige van 'n ouer Letterkunde in Grieks toe hy begin het om sy eie letterkunde te ontwikkel, so het die Afrikaner te staan gekom voor 'n Engelse en Europese letterkunde, wat, so het hy gevrees, sy individualiteit sal verswelg. Maar die Romein het sy eie tradisie verryk deur 'n versoening van kulture te verkry, en Leipoldt het die rigting aangedui tot 'n uiteindelike harmoniëring van die Engelse en Afrikaanse kulture in Suid-Afrika sonder die prysgawe van individualiteit.
Die ontsaglike en vrugbare werke van C.J. Langenhoven het 'n breë grondslag gelê vir toekomstige ontwikkeling. In die roman was oorlog eers die tema in die werke en daarna was dit die agteruitgang van die Afrikaner wat sy plaas verloor het en homself nie kon aanpas by die stadslewe nie wat in die werke van C.M. van der Heever en ander beskryf is. Later het die besliste vestiging van die Afrikaner in die groot dorpe 'n meer realistiese studie van die huidige toestande in Suid-Afrika teweeggebring.
Daar was ook merkwaardige pogings om toestande buite Suid-Afrika te behandel, byvoorbeeld die treffende dramas van Opperman (Períandros van Korinthe); Van Wyk Louw (Germanicus) en die roman van F.A. Venter (Die Man van Cirene), wat ook 'n simpatieke studie van die Bantoelewe (Die Swart Pelgrim) geskryf het. Uys Krige het weer die sjarme van Spanje bekend gestel in prosa en liriese gedigte en bowe-al in sy beroemde drama, Die Goue Kring.
Op die gebied van drama het G. Beukes en W.A. de Klerk (wat die berge in Suid-Afrika vir ons laat lewe het) groot sukses behaal. Eugene Marais was uitstaande as digter en is gelykstaande aan Maesterlinck in sy natuurstudies. Toon van der Heever het net soos H.A. Fagan bewys dat 'n regter toegewy kan wees aan letterkundige werke.
Daar is groot vordering gemaak op die gebied van karaktertekening, waar die epigrammatiese krag van Afrikaans en sy humoristiese moontlikhede (voortreflik geïllustreer in die werk van die digter A.G. Visser, vriend van sir Thomas Holland, voormalige hoof van die Universiteit van Edinburgh, asook deur I.D. du Plessis en prosaskrywers soos C.M. van den Heever en Dirk Mosterd) treffend gebruik is.
Satire is verwant aan snydende humor soos in die Romeinse letterkunde en soos byvoorbeeld gesien kan word in die dierefabels van I.D. du Plessis, wat bekend is vir sy studies van die Kleurlinge, 'n gebied waarin baie goeie werk gedoen is deur C.W. Kuhn ('Mikro'), en in die jongste tyd deur 'n jong skrywer wat baie belofte inhou, J.S. Rabie.
'n Interessante ontwikkeling is die opkoms van Kleurlingdigters in Afrikaans soos S.V. Petersen, en P.J. Philander wat die patos van hulle mense pynlik skerp uitbeeld.
Daar is ook 'n Joodse digteres, Olga Kirsch, vir wie die probleme van Israel na aan die hart lê en wat 'n soepel Afrikaans gebruik.
Met die groterwordende belangstelling in tegniek was dit onvermydelik dat in teenstelling met die ou en gewaardeerde staatmakers soos D.F. Malherbe,'n skrywer van onuitputbare vrugbaarheid, 'n nuwe digterskool in die jare dertig ontstaan het. Hulle is beïnvloed deur skrywers soos T.S. Eliot en het nuwe uitingsvorms en nuwe temas gesoek. Hulle het afgewyk van die romantiese idee en die retoriek hoewel hulle nie altyd besef het dat daar so iets is as goeie retoriek nie en hulleself aangepas by die vaartbelynde wêreld van moderne tegnologie en het die taal uit 'n semantiese oog beskou. Baie meer selfwaarnemend as die ouer digters het hulle die reëls van gereelde ritme in die wind geslaan in proefnemings wat dikwels interessant is.
Van hierdie skool is die leiers: Van Wyk Louw, in wie ons die soeke sien na die interpretasie van lewe en 'n terugkeer na die Romeinse begrip van die digter as profeet (Vates); D. Opperman, wat treffende hulde bring aan William Blake en in wie ons die strewe sien om deur die sluier van uiterlike dinge te dring en die waarheid te vind; Elizabeth Eybers, ook 'n soeker na geestelike waardes, wat in klankryke verse met die probleme van die vrou worstel; W.E.G. Louw, wie se merkwaardige eerste bundel die inleiding tot die beweging was; Uys Krige, modem in vorm, maar in teenstelling met ander hoofsaaklik romanties in sy ryk en spontane trant van
liriese sentiment; C.M. van den Heever, nie altyd geassosieer met die nuwe groep nie, maar net soos hulle 'n soeker en skrywer van treffende verse; Ernst van Heerden, 'n mensliewende digter van groot waarde wat 'n fyn aanvoeling vir tale het; S.J. Pretorius, hoofsaaklik begaan oor maatskaplike toestande in die stad en vaardige skrywer; G.A. Watermeyer, wat 'n Engelse gedig oor Atlantis geskryf het asook baie ballades van hoë standaard; en ander wat weens gebrek aan ruimte nie genoem kan word nie.
Opgestel deur PROFESSOR T.J. HAARHOFF; Kaapstad
Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967
Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
|
|
|
Re: Afrikaanse letterkunde [boodskap #124814 is 'n antwoord op boodskap #120908] |
So, 17 Februarie 2019 06:00 |
|
Inligting
Boodskappe: 4588 Geregistreer: November 2018
Karma: 1
|
Senior Lid |
|
|
Die Afrikaanse Letterkunde kan grofweg in agt periodes ingedeel word:
(1) Nederlandse geskrifte in S.A. ontstaan, bv. Dagregister (1651 - 1662) van J. van Riebeeck, Dagregister (1705 - 06) van A. Tas, Dagboek (1836 - 38) van L. Trichardt;
(2) Afrikaanse geskrifte voor 1875, bv. "Lied ter eere van de Swellendamsche en diverse andere Helden..." (1795), aanhaling van ’n gesprek in Afrikaans (1825) deur M.D. Teenstra in sy Vruchten mijner werkzaamheden... (1830), die gesprek tussen Manus Kalkfachter en Grietje Drilbouten in De Temperantisten (1832) van C.E. Boniface. L.H. Meurant se stukke in die Kaapsche Grensblad (1844 - 50) en sy Zamenspraak (1861), Boerebriewe van Samuel Zwaartman, enkele gedigte van bv. F.W. Reitz en Pulvermacher;
(3) die Eerste Beweging met as belangrikste kragte: S.J. du Toit, C.P. Hoogenhout, J.L. Cachet;
(4) die Tweede Beweging met verse van G.S. Preller, E.N. Marais, J.F.E. Celliers, Totius, C.L. Leipoldt, D.F. Malherbe; prosa veral van: J.H.H. de Waal, G.R. von Wielligh; kritiek van G.S. Preller;
(5) die twintiger jare, met die poësie van die Twintigers, bv. Toon van den Heever; sterker aksent op die prosa met die didaktiek van C.J. Langenhoven, die dier- en jagverhale van Sangiro en die Hobsons, tipetekening - realisties in die geval van Jochem van Bruggen, romanties-idealisties in die geval van D.F. Malherbe; drama: C.L. Leipoldt en J.F.W. Grosskopf; kritiek: E.C. Pienaar, P.C. Schoonees, M.S.B. Kritzinger en J. Kamp (Nederlands);
(6) die dertiger jare met die aksent op die poësie: Dertigers; daarnaas prosa van E.N. Marais, C.M. van den Heever, J. van Melle, Hettie Smit, Boerneef - opkoms van die kortverhaal; drama: H.A. Fagan; kritiek: G. Dekker, H.A. Mulder, F.E.J. Malherbe; essay: N.P. van Wyk Louw;
(7) die veertiger jare met die aksent op die poësie: Veertigers; prosa: Mikro, M.E.R., W. van der Berg, Holmer Johanssen; drama: G.J. Beukes, W.A. de Klerk, D.F. Malherbe - opkoms van die eenbedryf; kritiek: W.E.G. Louw, D.J. Opperman;
(8) vyftiger jare: poëtiese groei voortgesit o.a. deur P. Blum; nuwe belofte in die prosa, veral t.o.v. die kortverhaal; bloei van die versdrama (N.P. van Wyk Louw en D. J. Opperman); kritiek: R. Antonissen, E. van Heerden en A.P. Grové.
Bronne:
1. Die Afrikaanse Kernensiklopedie, J.P. Scannell (red.), 1965
2. Antonissen, R.: Afrikaanse Letterkunde van die Aanvang tot Hede
3. Conradie, Eliz.: Hollandse Skrywers in S.A.
4. Dekker, G.: Afrikaanse Literatuurgeskiedenis
5. Louw, W.E.G. e.a.: Kultuurgeskiedenis van die Afrikaner, III
6. Nienaber, G.S. en P.J.: Geskiedenis van die Afrikaanse Letterkunde
7. Nienaber, P.J.: Bronnegids I - III
8. Nienaber, P.J. (red.): Perspektief en Profiel
9. Opperman, D.J.: Groot Verseboek en Digters van Dertig
10. Pienaar, E.C.: Die Triomf van Afrikaans
11. Schoonees, P.C.: Die Prosa van die Tweede Afrikaanse Beweging
12. Van Niekerk, L.: De Eerste Afrikaanse Taalbeweging en zijn letterkundige Voortbrengselen.
Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
|
|
|
|
|
Gaan na forum:
[ XML-voer ] [ ]
Tyd nou: Sa Nov 23 10:03:04 MGT 2024
|