Tuis » Taal » Ensiklopedie » Seehulpbron
Seehulpbron [boodskap #123752] |
Thu, 10 January 2019 06:53 |
|
Inligting
Boodskappe: 4588 Geregistreer: November 2018
Karma: 1
|
Senior Lid |
|
|
'n Seehulpbron is enige natuurlike hulpbron wat uit die see geput kan word. Dit sluit vis, kreef en ander benutbare plante en diere van die see in.
Die suidelike helfte van die vasteland van Afrika het ryk seelewe langs die weskus wat intensief benut word deur Angola, Namibië (Suidwes-Afrika) en die Republiek van Suid-Afrika. Daarbenewens het Japanse koelskepe ook onlangs aangekom om tuna te vang op die oop see. Russiese, Spaanse en ander vissersbote is ook in die jongste tyd bedrywig. Die rede vir die rykdom van vis in die water van die weskus, is die noordwaartsbewegende Benguelastroom, wat in die sone van die landwinde ’n opwelling van koue, voedsame water opdam wat as ’n basis dien vir die kragtige groei van plankton. Aan die Ooskus word die water beïnvloed deur warm suidwaartse strome van tropiese oorsprong met ’n tekort aan die noodsaaklike soute en gevolglik is geen noemenswaardige visserye aan hierdie kus ontwikkel nie.
Die Weskus het, afgesien van sy hidroliese toestande wat bevorderlik is vir seelewe, ’n redelik wye kontinentale plat wat van Kaapstad tot na aan die grens van Angola strek. Dit maak ’n florerende visserybedryf moontlik wat gebaseer is op die bodemvangste van verskeie spesies vis soos die stokvis, Merluccius capensis (Castlenau), koningklipvis, Genypterus capensis (Smith) en tongvis Austroglossus-spesies.
Noord van Namibië (Suidwes-Afrika) beweeg die koue Benguela-stroom weg van die land en word dit verplaas deur warmer water langs die grootste deel van die kus van Angola. In hierdie gemengde water word florerende vislewe intensief benut deur die Portugese. Nog verder noord vloei die Benguela-stroom weswaarts om die suid-ekwatoriale stroom te vorm.
Die Republiek van Suid-Afrika en Namibië (Suidwes-Afrika) het in die jaar 1963 sowat 1,200,000 metrieke ton vis gevang. Van hierdie totaal het die diepseetreilers met Kaapstad as basis, en wat tot so ver noord as Walvisbaai vang, ongeveer 110,000 ton gevang. Hiervan is 65 % stokvis. Die treilerbedryf in Suid-Afrika het teen die einde van die 19de eeu begin en is vandag ongetwyfeld die beste georganiseerde en doeltreffendste tak van die visbedryf. Treilervis word verwerk in ’n wyer reeks produkte terwyl die afvalmateriaal gebruik word om wit vismeel en lewerolie wat Vitamine A bevat, te vervaardig.
Die kusvisserye in die Republiek en Namibië (Suidwes-Afrika) het sedert die Tweede Wêreldoorlog so uitgebrei dat dit die treilerbedryf later ver voor was, sowel in die totale as die waarde van die vangste. Die rede vir hierdie snelle groei was grootliks toe te skryf aan die ontwikkeling van die vismeel-, olie- en inmaakbedryf wat gebaseer is op pelsers, Sardina ocellata (Pappe), maasbankers, Trachurtus trachurus (Linnaeus) en makriel, Scomber colias (Lowe). In 1963 het die vangste van hierdie spesies in die Republiek en Suidwes-Afrika ongeveer 1,000,000 ton beloop, waarvan 15,000 ton makriel en die res pelsers was. Hierdie vis was verantwoordelik vir 260,000 ton vismeel en 63,000 ton ingemaakte vis wat saam met die olie R35,000,000 werd was.
Nog 'n belangrike afdeling van die kusvisserye in die Republiek en Namibië (Suidwes-Afrika) is die bevriesing en inmaak van die seekreef Jasus lalandii (Milne, Edwards (Ortmann)). Hierdie skaaldiere word van Kaapstad af tot sowat 40 myl van Lüderitz af gevang, terwyl Suid-Afrikaanse verkoelingsbote gedurende die somermaande dit vang van die seebedding wat die eilande van die Tristan da Cunha-groep omring. Die totale produksie van bevrore en ingemaakte kreefsterte vir die Republiek en Namibië (Suidwes-Afrika) beloop tot 5,000 ton per jaar. ’n Groot teelgebied van seekreef is in 1959 sowat 1,5000 myl noordwes van Kaapstad af by die ondersese berg Vema ontdek. Skepe van baie lande het dit sedertdien besoek en die bron is tydelik uitgeput.
Afgesien van die kreefvangste, is die skaaldier- en weekdierbronne van Suidelike Afrika feitlik onontwikkeld. Garnale word aangetref in die warmer water van die Indiese en Atlantiese Oseaan en word op klein skaal in die Portugese gebiede by Angola en Mosambiek gevang. Oesters is redelik volop langs baie dele van die kus, maar is nog nooit ten volle benut nie. Daar is egter onlangs ’n poging by Knysna in Kaapland aangewend om met staatshulp 'n oesterbedryf in te stel.
Perlemoen haliotis-spesies is volop in baie dele van die Kaapse kuswaters en die inmaak daarvan vir uitvoer na die Ooste het na baie terugslae in ’n klein, maar bestendige bedryf ontwikkel.
Lynvisvang, hoewel ’n swak georganiseerde afdeling van die Suid-Afrikaanse kusvissery, dra ’n aansienlike hoeveelheid vis by en sommige jare bedra dit na berekening tot 33,000 ton.
Op Gansbaai in Wes-Kaapland het lynvissers met behulp van die staatsondersteunde Vissery-Ontwikkelingskorporasie van Suid-Afrika Bpk. ’n suksesvolle Visserskorporasie gestig.
Die belangrikste van die lynvis is die snoek, Thyrsites atun (Euphrasen), wat gewoonlik ’n derde van die totale vangste verteenwoordig. Tuna word in die warmer waters tussen Mosselbaai en St. Helenbaai aangetref en word deur sporthengelaars gevang hoewel die Afdeling Visserye eksperimentele vangste op die gebied doen. Gedurende 1963 is sowat 5,000 ton bevrore tuna uitgevoer.
’n Redelike groot haaivissery bestaan aan die Kaap. Hiervan is die vaalhaai, Galeorhinus galeus (Linnaeus) die belangrikste. Hierdie spesies, waarvan die karkas gesout en gedroog word, het ’n lewer wat ryk is aan Vitamine A.
Walvisvangste is baie jare lank van kusstasies in Suid-Afrika uitgevoer. Daar is so 'n stasie in Durban en een aan die weskus naby Saldanhabaai.
Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967
Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
|
|
|
|
|
Gaan na forum:
[ XML-voer ] [ ]
Tyd nou: Tue Dec 03 18:15:18 UTC 2024
|