Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » Die Geografie van die Paradys
Die Geografie van die Paradys [boodskap #6337] Do, 25 April 1996 00:00
Izak Bouwer  is tans af-lyn  Izak Bouwer
Boodskappe: 464
Geregistreer: Januarie 1996
Karma: 0
Senior Lid
Dit is 'n algemene gebruik by digters om die stuk
aarde, waar hulle hul kinderjare deurgebring het,
te gebruik in later jare as 'n simbool vir Eden, die
toestand van onskuld voor die Val. Toon van den
Heever praat van die Hoeveld "waar jy baie ver kan
sien." Leipoldt vul ons met die kleure en geure van
die Hantam. Boerneef bring ons die Boland. Opperman
se gedigte is vol van die subtropiese klimaat en etniese
diversiteit van Natal. Ferdi Greyling beskryf sy kinder-
jare in Oudtshoorn so in "Voor die Val."

In die Klein Karoo het ek geweet
dat die Swartberge elke oggend
soos kerkorrels weer uit my drome sal verrys.
En dat die bougainvilleas elke dagbreek weer
uit die stof sal opstaan
om in pers vlamme teen die bome te dans.

Daar het ek die wonderwerk van elke dag gesien.
En geglo.
Heel die dag lank
het ons met fietse deur die strate gebid
en hallelujas in die sagte gras gelag.
Met pakkies Lucky Strikes
het ons skelm psalms agter die heinings gerook
en met meisies onskuldig soos Post Toasties
het ons nagmaal in die stil skemer van die bioskoop gehou.

In die ligblou lug,
wyd en glad soos 'n stil rivier,
het die tierende son elke middag laat
in die Klein Karoo
soos 'n oopgesnyde waatlemoen
ondergegaan.

En dan het die soet nag
om ons
soos 'n donker vrug oopgebreek in sterre
en die koel aand het sag soos water
deur die strate van die dorp gespoel.

Terwyl die saad van nog 'n heilige dag
op die sypaadjies ontkiem het.

Ek het in Noordelike Kaapland grootgeword. Daarom
is die paar gedigte van Donald Riekert wat ek ken vir
my veral kosbaar. Hier volg sy gedig "Pofadder." Daar
is 'n plek wat Pofadder heet in die droe geweste suid
van die groot eilande van die Oranje-rivier, waar ek my
kinderjare deurgebring het.

Die pofadder le
een tand mond oop
oor Boesmanland
sy lang tong
laat staan die son stil
rooi in die waas
van sy groot asem
sodat vir baie jare
die veld droog is
en niks wou groei
net brakbos blom

In die gedig "Pionier" ontsluit Riekert vir my 'n
ou herinnering: die kleur en die snaakse syerige
tekstuur van die peul van die kameeldoring:

Jy het nie sommer net
hier gebly nie
sommer net gelewe nie
met jou kort vingers
het jy takke van die
kameeldoring gebuig
en die vaalblou peul gepluk
met jou eie hande gemaal
en gesif as kos vir die bees
in die halfwoestyn
sodat ons wat kinders was
die melk kon drink
met die snaakse peulsmaak

Omdat ek op een van die vrugbare eilande in die
Oranje grootgeword het, het ons koeie nooit peule
hoef te eet nie! Ek onthou egter die kameeldoring-
boom ook vir sy lang wit baie skerp dorings (wat
as grammofoon-naald gebruik kan word). En die
wortels van die kameeldoringboom, as jy dit sag
kap, ruik verskriklik sleg. Die skoolseuns het dit
in die klaskamers versteek en op lang warm middae
van menige onderwyser so ontslae geraak.

Gloudina Bouwer
Vorige onderwerp: DS: Afrikaans
Volgende onderwerp: Ek soek 'n egte "chat-mate"
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Sa Nov 16 00:44:02 MGT 2024