Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » Die ou Grote
Die ou Grote [boodskap #6311] Vr, 19 April 1996 00:00
At de Lange  is tans af-lyn  At de Lange
Boodskappe: 297
Geregistreer: November 1995
Karma: 0
Senior Lid
Op die kaarte staan geskryf Oranje.

Sommige praat van hom as die Grootrivier.

Sy eerste naam was die Gariep.

Gemeet aan ander riviere in Afrika, Asi"e, Euorpa en die Amerikas
is hy maar klein. Maar in ons land is hy die grootste, letterlik
en figuurlik. Sy verste punte is oos in die Drakensberge. (Dink
ook aan die Vaalrivier). Maar hy sterf weg in die verste
westelike hoek van ons land.

Soos wat hy weswaarts loop, raak hy al hoe meer soos die Nyl, die
woestyb se lewensaar. Eers loop hy deur die dro"e Karroo, dan die
dro"er Boesmanland en uiteindelik die dorre Richtersveld. Hoe
verder jy weswaarts met hom gaan, hoe minder word die mense,
behalwe die wat teenaan hom bly.

Vir baie is Upington die laaste groot leefbare plek langs die
rivier. Maar gaan kuier gerus verder wes by Keimoes en Kakamas.
Hierdie plekkies staan vir niks verkeerd nie. Moet net nie in die
vier maande rondom Januarie hier teen twee uur smiddags te besig
wil raak nie. Moet ook nie laatnag in die twee maande rondom
Julie buite die kooi wees nie.

Anderkant Kakamas begin die lewe wat die rivier groot maak. Eers
is daar die Augrabies. Mense wat watervalle ken, is gewoonlik nie
beindruk met die plek nie. Maar dis omdat die Gariep so selde vol
van lyf is - omtrent een keer in elke 12 jaar. Wag tot die groot
reens kom. Dan brul Augrabies so dat jy jouself nie kan hoor
praat nie.

Na Augrabies kom die tonele van maanlandskappe wat by Onseepkans
onverbeterlik is. Dis by Onseepkans waar die ou Grote jou aftrek
na hom toe. Dis daar waar, selfs al staan jy kniediep in die slik
van sy bedding, besef wat lafenis is. Dis daar waar mense nie
pretensies het nie. Jy loop die pad wat almal kan sien. So kry
'n mens die minste seer.

Nog verder, 'n paar kilometer neffens die rivier, is daar 'n
stukkie hemel gemaak in 'n wêreld wat al hoe meer die hel word.
Pella. 'n Sendingstasie. 'n Plek waar die son alles wegbrand wat
paaps is tot net die eenvoudige onveranderlike waarhede van die
geloof oorbly. 'n Plek wat so gebou is dat dit kan hou totdat die
Here weer kom. Binne die kerkie het ek een keer die voorreg gehad
om in 'n gebroke handskrif op 'n vel papier teen 'n pilaar die
volgende te lees: Dankie Heer dat ek U liggaam kan eet en u bloed
kan drink totdat U weer kom.

Dankie Heer vir hierdie hemeltjie by Pella.

Want verderaan begin 'n mens 'n idee van die hel kry. Eers is
daar Goodhouse. As die warm winde winde met hulle sand jou daar
vang, word jy eers biltong gemaak voordat jou doodsbeendere
ontbloot word. Daar het ek beleef hoe 'n motor binne drie uur van
sy verf gestroop word. En waar Goodhouse darem nog winde het, is
Vioolsdrif toegevou in sy swart kranse waarin alles le en braai.

Vir meeste mense is Vioolsdrif net 'n plek waardeur jy moet rys
om by Namibi"e uit te kom. En hulle doen dit vinnig - so vinnig
dat hulle se 'Merks' en 'BlikMetWiele' teen die lang opdraendes
staan kook. A nee a, dis hier waar die ou Grote vra dat respekte
betoon sal word, veral teen twee uur die middag in Desember.

En dit is nog nie die einde nie. Want nou moet die ou Grote sy
groot draai maak om die Richtersveld vir ons af te pen. Die
Richtersveld is meestal 'n klip woestyn met berge soos hulle nog
in die oertyd gelyk het. Aan die noordekant van die rivier is
daar 'n stofvlakte wat eers ophou wanneer die Visrivier uit die
noorde met die Gariep een word. In hierdie vlakte is daar geen
lewe nie. Maar by die plek van ontmoeting staan die nooienes
kokerbome (Aloe ramossima) wat met hulle honderde verskrimpte
kokertjies gryp na iets daarbo. Kan dit reen wees? Maar hulle
massiewe voetstukke vertel 'n ander storie. Hulle soek nie genade
in 'n ander plek nie. Daar vrot hulle. Hier langs die ou grote
wil hulle bly om die verdwaalde mis wat soms langs die ou grote
opvaar, net te kan te ruik.

Wanneer die ou Grote sy draai begin klaarmaak, kry 'n mens
Sendelingsdrif en Ochta. Dit is net die ywer van 'n sendeling,
'n diamantdelwer, 'n vetplantliefhebber of 'n fotograaf wat jou
hier kan hou. Waar Vioolsdrif jou nog intimideer met hoe die hel
kan wees, gee Ochta jou 'n behoorlike voorsmaak.

Aan die einde le Alexanderbaai. Hier wil die duine die ou Grote
oorneem, maar kon hulle dit nog nie reg kry nie. Dertig jaar
gelede kon 'n mens in die winter wanneer die ou Grote se laaste
lewensbloed getap is, met vreugde van hom drink. Maar nou dra hy
eerder die hel in hom wat vanuit die ooste kom. Vrot stinkende
slyk met alles wat kan dryf daarin, komende van die stede baie
ver daarvandaan. Dan eers besef 'n mens dat Sendelingsdrif en
Vioolsdrif nie so sleg is nie. Dit is asof die ou Grote van
hierdie stede wil wegvlug, sover wes as moontlik, om in die koue
mistige see met waardigheid te kan sterf. Gaan ons hom daardie
waardigheid terug gee?

Beste wense
At de Lange
Universiteit van Pretoria
Vorige onderwerp: Re: Das Kapital
Volgende onderwerp: Re: Anna Boshoff op "Future Imperfect"
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Wo Mei 15 15:30:55 MGT 2024