Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » [AFRIKAANS:6115] Re: Private diskriminasie
[AFRIKAANS:6115] Re: Private diskriminasie [boodskap #5789] Wo, 14 Februarie 1996 00:00
Reinier de Vos  is tans af-lyn  Reinier de Vos
Boodskappe: 26
Geregistreer: Februarie 1996
Karma: 0
Junior Lid
Leendert skryf:

>>  Ek deel jou gevoelens oor die ouetehuise en kleuterskole, maar ek
>>  kan nie insien hoe 'n verbod op private diskriminasie juis sake
>>  verbeter nie.
>
>  Wel, as Isak Viljee nie 'n "afrikaanse ouetehuis" kan kry om in te
>  gaan woon nie, sal hy dit miskien oorweeg om 'n "granny flat" by die
>  kinders in te rig.

Miskien - totdat die staat besluit dat dit ook nie aanvaarbaar is nie.
Vergesog?  Ek glo nie.  Kyk wat kan in 'n "beskaafde, demokratiese"
land soos Swede gebeur.

>>  Ek sien eerder groot geleendheid vir die misbruik van
>>  mag deur die staat.  Kom ons kyk byvoorbeeld na Swede.  Die
>>  hoofideoloe van die Sosiale Demokrate, Gunnar en Sofie Myrdal, het
>>  verklaar dat vroue wat nie werk nie, bloot "lui of dom" is.
>
>  Wel, vroue wat nie werk nie is, net soos mans wat nie werk nie,
>  inderdaad lui. Vroue wat as tuisteskeppers werk en toelaat dat mense
>  van hulle praat as "vroue wat nie werk nie" is inderdaad dom.

Touché - ek het dit swak gestel - maar ek dink jy weet wat ek bedoel
:-)

>>  Daar is
>>  dus geweldige druk deur die staat op vroue toegepas om uit te gaan
>>  om te werk (mans en vroue was volgens die staatsideologie "gelyk",
>>  en moes die "huisvrou" of "huismoeder" gedagte dus afgetakel word),
>
>  Dit loop maar by ons ook sterk - dis waarna Penny Enslin verwys as
>  sy praat van "families that instill highly differentiated gender
>  roles". 'n Knap boekie oor die onderwerp gaan onder die titel "what
>  is a smart woman like you doing at home". Die boek kom uit die VSA,
>  maar die titel bevestig dat dieselfde vooroordele wat in Swede
>  voorkom, daar ook bestaan.

Om nou na die ander kant oor te hel, sal jy dalk Francis Kendall se
"The SeXY Factor" geniet.  Sy som die nuutste navorsingsresultate op,
wat wys wat ons maar altyd vermoed het :-).  Die twee geslagte is so
radikaal anders, dat hulle maar liewers as twee verskillende subspesies
geklassifiseer moet word - 'n uiters polities onkorrekte
gevolgtrekking.  Om maar 'n enkele voorbeeld te gebruik - daar is
ongeveer 15 manlike hotpote vir elke vroulike (ek is nou nie seker van
die presiese syfers nie), en talle ander aanduidings dat die manlike en
vroulike geslag die twee hemisfere van die brein verskillend benut.
Dit het ook 'n effek op die verstandelike vermoëns van die
geslagte.  En voordat ek deur feministe aangeval word - dit bepaal nie
dat vrouens dom, en mans slim is nie (eerder andersom, volgens my
ervaring :-)).  Dit bepaal slegs dat hulle 'anders' is.

>>  en hul kinders in staatsbeheerde kindersorgsentrums te plaas, waar
>>  hulle "goeie sosiale gewoontes" geleer is.  Die ouers se reg tot
>>  vrye keuse (m.a.w. private diskriminasie) is deur die staat
>>  afgetakel, alles in die naam van grootse ideale.
>
>  Ek dink jy sal sukkel om 'n hof te kry om die term "private
>  diskriminasie" so wyd te lees dat 'n vrou (of man) nie die keuse mag
>  uitoefen om te verkies om tuis te bly en die huishouding en gesin te
>  versorg nie.

Die arme Sweedse gesinne wat onder die staat se welsynspolisie
deurgeloop het, moes hulle na die Europese Hof vir Menseregte in Den
Haag wend, en dit nadat hul gesinslewens deur die staat verwoes was.
Sal ons dit ook moet doen?  Hoeveel mense sal dit kan bekostig?  Sal
die Suid-Afrikaanse regering hom aan die hof se uitsprake steur?
Ondervinding het gewys dat ons nie te optimisties hieroor moet wees
nie.

>>  Die Amerikaanse staat se pogings om, sedert die instelling van die
>>  Burgerregtewet in die sestigerjare, private diskriminasie te
>>  verbied, word deur talle skrywers, o.a. Thomas Sowell en Walter
>>  Williams, verantwoordelik gehou vir die agteruitgang van die swart
>>  en Indiaanse gemeenskappe in daardie land.
>>
>>  Deur in private diskriminasie in te meng, kry die staat die reg om
>>  mense se motiewe te bevraagteken, en die reg om morele waardes voor
>>  te skryf.
>
>  Ek stem saam - regerings wil dit graag doen, en dit is ysingwekkend.
>  Die enigste beskerming hierteen is om die staat te beperk tot die
>  voorskryf van gedrag.

Myns insiens moet die staat beperk word tot die handhawing van die
gemenereg.  Maar nou ja, ek gee toe dis miskien ietwat idealisties :-)

>>   Myns insiens word morele waardes beter deur ouers en
>>  sosiale instellings soos kerke bevorder, nie die staat nie.
>
>  Dis net net 'n kwessie van graad nie. Die staat het daar niks mee te
>  doen nie.

Selfs beter gestel.

>>   Die
>>  probleme van ouetehuise en kleutertuine sal waarskynlik eerder
>>  vererger word as die staat moet begin bepaal hoe ons ons oues van
>>  dae en klein kinders moet versorg.
>
>  Dit was ook nie my voorstel nie - my argument is bloot dat so 'n
>  situasie vir die meeste mense so onaanvaarbaar sal wees, dat hulle
>  sal verkies om self die versorging te doen - en daaroor is ek bly.

Sien my kommentaar hieronder.

[knip]

>  Ek dink jy behoort kennis te neem dat "die Nasionaliste" hoofsaaklik
>  deur "die Afrikaner" aan bewind gebring en gehou is. Dit sou dus
>  redelik wees om te aanvaar dat "die Afrikaner" hom die
>  "volksideologie" laat welgeval het. Soos jy ook aantoon is die
>  betrokke verskuiwing van verantwoordelikheid vanaf die gesin na die
>  staat nie tot die Afrikaner beperk nie. Dit was 'n redelik algemene
>  verskynsel in die gei"ndustrialiseerde gemeenskappe.

Dis 'n verskynsel wat veral in die 20ste eeu, saam met groot,
gesentraliseerde regerings, ontstaan het.  Dis interessant dat, in
post-industriële samelewings waar daar weer klem op desentralisasie
is, die teenoorgestelde tendens nou te bespeur is.  Mense neem nou weer
verantwoordelikheid vir hul gemeenskappe - sien Kendall se "The Heart
of the Nation", en ander werke wat sy daarin aanhaal.  Die
"volksideologie" is veral ook te vinde by enige nasie (of eerder, die
nasie se intellektueles) wat hom tot 'n grootse taak geroepe voel -
Imperiale Brittanje, Nazi Duitsland, Kommunistiese Rusland en Sjina,
ens.  Hieroor het W. A. de Klerk baie interessante dinge geskryf.  Sien
ook Hayek se "The Road to Serfdom".

>>  Enige poging deur die staat om dit namens ons te doen, sal sekerlik
>>  nie sake verbeter nie. Dit ontneem ons maar net weer ons
>>  verantwoordelikhede
>
>  My argument is dat, hierdie keer, pogings deur die staat om dit te
>  doen waarskynlik wel sake sal verbeter. Ek dink mense sal hulle
>  daarteen verset. Hulle sal daardeur wel gedwing word om ons
>  waarstelsel te heroorweeg.

Hmmm - 'n soort 'reductio ad absurdum'.  Miskien het jy gelyk - as ons
voldoende onderdruk word, sal ons in opstand kom.  Nie juis 'n goeie
resep vir regverdige regering nie - eerder 'n resep vir revolusie. :-)
--
Reinier de Vos                          Internet: de...@aqua.ccwr.ac.za
Computing Centre for Water Research     Tel:      Int+27 331 260-5179
c/o University of Natal, P/Bag X01      Fax:      Int+27 331 61896
Scottsville, South Africa, 3200         http://www.ccwr.ac.za/
#include
  ------------------------------------------------------------ -----------
                    Ons spaar die duiwel baie moeite
                                   - C J Langenhoven
Vorige onderwerp: [AFRIKAANS:6116] Mail & Guardian Research
Volgende onderwerp: [AFRIKAANS:6113] Re: Private diskriminasie
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Mei 14 22:06:53 MGT 2024