Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » [AFRIKAANS:6113] Re: Private diskriminasie
[AFRIKAANS:6113] Re: Private diskriminasie [boodskap #5790] Wo, 14 Februarie 1996 00:00
Reinier de Vos  is tans af-lyn  Reinier de Vos
Boodskappe: 26
Geregistreer: Februarie 1996
Karma: 0
Junior Lid
Leendert skryf:

> Daar is ouens wat hoog opgee oor die gevare van die "world government"
> - dan word die VN en new age en wat ookal bygesleep. Persoonlik is ek
> besonder dankbaar vir die internasionalistiese dimensie in die Grondwet
> - wat vereis dat die hof rekening hou met die internasionale
> instrumente van menseregte, en ook aan regspraak in ander lander oor
> menseregte. Daar is natuurlik ook die grondwetlike beginsel wat bepaal
> dat enige reg wat universeel erken word, ook in die SA Grondwet erken
> sal word.
>
> My indruk is dat die internasionale instrumente van menseregte - en die
> internasionale regspraak - heelwat meer konserwatief is as bepalings
> soos die waarna jy hierbo verwys - en die neiging is op die oomblik
> _meer_ konservatief. Dit neig in die rigting van minderheidsregte, die
> gesin as draer van regte, ens. Tot dusver is die "African Charter"
> (waaraan ons gebonde is, as lede van die OAU) byvoorbeeld die enigste
> instrument wat die gesin identifiseer as 'n draer van regte - maar die
> Oosterse en Afrika-lande maak geluide dat hulle die afwesigheid daarvan
> sien as 'n leemte in die "westerse" dokumente van die VN.

Hmmm - ek het maar my bedenkinge oor die internasionale invloed, maar
ek sal toegee dat dit nog 'n bietjie vroeg is om nou al uitspraak
hieroor te lewer. Die VN se Verklaring van Universele Menseregte bevat
ook heelwat "sloppy thinking", om Hayek se woorde te gebruik - sien sy
kritiek daarop in "The Mirage of Social Justice". Of dit werklik enige
vooruitgang vir die mensdom beteken sal die geskiedenis nog moet leer.

> Ek vermoed dat hierdie tendens, saam met die neiging in ons grondwet
> tot nie-diskriminasie sal neig om die "volksbewegings" waarvoor ons so
> lief is te verswak ten gunste van die versterking van die gesin en die
> uitgebreide gesin. Enersyds is dit in lyn met die post-moderne sosiale
> ontwikkelinge. Andersyds kan dit, op die lang duur, net 'n positiewe
> uitwerking he^ op die Afrikaanse volks "huishouding". Ons het gans te
> lief geraak daarvoor om die basiese funksies van die gesin en die
> familie op die "volk" af te skuif.

[knip gedeelte oor ouetehuise en kleuterskole]

> Daar is 'n Afrika-gesegde dat elke oumens wat doodgaan 'n biblioteek
> is wat afbrand. As 'n verbod op "private diskriminasie" veroorsaak
> dat hierdie verskynsels verdwyn of verminder sal ek juig! Ek hoop net
> dit gebeur voordat die kultuuroordrag 'n permanente knak gekry het -
> as dit nie reeds gebeur het nie.

Ek deel jou gevoelens oor die ouetehuise en kleuterskole, maar ek kan
nie insien hoe 'n verbod op private diskriminasie juis sake verbeter
nie. Ek sien eerder groot geleendheid vir die misbruik van mag deur
die staat. Kom ons kyk byvoorbeeld na Swede. Die hoofideoloë van
die Sosiale Demokrate, Gunnar en Sofie Myrdal, het verklaar dat vroue
wat nie werk nie, bloot "lui of dom" is. Daar is dus geweldige druk
deur die staat op vroue toegepas om uit te gaan om te werk (mans en
vroue was volgens die staatsideologie "gelyk", en moes die "huisvrou"
of "huismoeder" gedagte dus afgetakel word), en hul kinders in
staatsbeheerde kindersorgsentrums te plaas, waar hulle "goeie sosiale
gewoontes" geleer is. Die ouers se reg tot vrye keuse (m.a.w. private
diskriminasie) is deur die staat afgetakel, alles in die naam van
grootse ideale.

Die Amerikaanse staat se pogings om, sedert die instelling van die
Burgerregtewet in die sestigerjare, private diskriminasie te verbied,
word deur talle skrywers, o.a. Thomas Sowell en Walter Williams,
verantwoordelik gehou vir die agteruitgang van die swart en Indiaanse
gemeenskappe in daardie land.

Deur in private diskriminasie in te meng, kry die staat die reg om
mense se motiewe te bevraagteken, en die reg om morele waardes voor te
skryf. Myns insiens word morele waardes beter deur ouers en sosiale
instellings soos kerke bevorder, nie die staat nie. Die probleme van
ouetehuise en kleutertuine sal waarskynlik eerder vererger word as die
staat moet begin bepaal hoe ons ons oues van dae en klein kinders moet
versorg.


Ons kan ons ook gerus afvra of die aftakeling van ons gesinslewe en
waardestelsels, wat jy so goed uitgebeeld het, nie ook sterk verband
hou met die Nasionaliste se staatsideologie nie. Kyk hoe het die
trekarbeiderstelsel en Bantoe-Onderwys swartmense se gesinslewe en
morele standaarde afgetakel - hulle reg tot vrye assosiasie, en die
private diskriminasie wat dit behels, is ernstig aangetas. Afrikaners
is ook onderwerp aan die "volksideologie" wat ons vertroue van gesin na
staat/volk verplaas het. Individuele verantwoordelikheid teenoor die
oues en kinders in die gesin is stelselmatig afgebreek - die staat sal
mos vir hulle sorg.

Sal private diskriminasie beteken dat mense keuses uitoefen waarmee ek
nie saamstem nie? Natuurlik. Maar as ek my vryheid wil hê, moet ek
dit aan andere gun. Die feit dat mense dwase keuses maak, of dat daar
armes en rykes is, dien, soos Hayek ook al gesê het, 'n belangrike
sosiale funksie. Dit verskaf voorbeelde van wat ons nie moet doen nie,
of wat ons wel moet doen, en so maak die samelewing vordering. Die
tragiese lot van ons oues van dae en kleuters moet as aansporing dien
om ons waardestelsels in hero"ënskou te neem. Enige poging deur die
staat om dit namens ons te doen, sal sekerlik nie sake verbeter nie.
Dit ontneem ons maar net weer ons verantwoordelikhede.
--
Reinier de Vos Internet: de...@aqua.ccwr.ac.za
Computing Centre for Water Research Tel: Int+27 331 260-5179
c/o University of Natal, P/Bag X01 Fax: Int+27 331 61896
Scottsville, South Africa, 3200 http://www.ccwr.ac.za/
#include
------------------------------------------------------------ -----------
Ons spaar die duiwel baie moeite
- C J Langenhoven
Vorige onderwerp: [AFRIKAANS:6115] Re: Private diskriminasie
Volgende onderwerp: PADANG -- C. Louis Leipoldt
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Mei 14 04:31:37 MGT 2024