'n Katalogus van Winde: DIE WESTEWIND VAN DIE NOORD-KAAP [boodskap #5787] |
Wo, 14 Februarie 1996 00:00 |
Izak Bouwer
Boodskappe: 464 Geregistreer: Januarie 1996
Karma: 0
|
Senior Lid |
|
|
Wanneer ons in hierdie nuusgroep met mekaar praat,
argumenteer, mekaar beinvloed, dan beweeg ons in
die Noosfeer.
Dan is daar ook die Biosfeer : vol plante en insekte,
voels en klein en groot diere. Laasgenoemde sluit in ons,
homo sapiens, dierbare goed wat op hul agterpote loop
(behalwe as hulle baie klein is) en wat soms so tragi-komies
hulle gebiedsruimtes wil probeer merk en beskerm.
En dan is daar die Atmosfeer : waar weerstelsels regeer
en waar daar soms geliefde en soms vreesinboesemende
winde waai. Kom ons maak 'n katalogus van sulke winde.
DIE WESTEWIND VAN DIE NOORDKAAP
So tussen nege en elf uur op meeste somersaande begin
'n koel wind uit die weste waai oor die noordelike dele van
Kaapland. Dit waai van die koue Atlantiese Oseaan na die
warmer landsgebied. Dit waai diep in die binneland in, tot
daar waar ek grootgeword het op die eilande in die Oranje-
rivier, ver meer as 500 kilometers van die see af.
Omdat dit so warm is, slaap meeste mense daar buite onder
die sterre op spesiale beddens, hulle skoene veilig ingesteek
onder die matras sodat die skerpioene nie daarin kan klim nie.
Gewoonlik is dit te warm om jou toe te maak, maar as ons die
westewind hoor aankom, dan het ons geweet dit is tyd om op
te hou sterre kyk, ons toe te maak en te gaan slaap. (Nou, hier
in Kanada, waar elke deur en venster met muskietdraad beskerm
moet word, dink ek soms : hoekom het die muskiete ons nie
weggedra nie? En dan besluit ek : daar is baie minder insekte
in Suid-Afrika as in Kanada.)
Sommige aande het die westewind nie gekom nie. Dan kon
jy weet dat dit die volgende dag abnormaal warm sou wees en
dat donderwolke sou opbou uit die noorde en uiteindelik die
verskriklikste storms sou kom wat vir ure en ure op dieselfde
plek sou staan en donder en blits.
Maar dit het nie baie gebeur nie. Die gemiddelde reenval
van die Noordkaap is maar omtrent 30 centimeters, en al
daardie reen het gewoonlik op my pa se druiwe geval as hy
dit wou droog vir rosyntjies.
Net somtyds, in die winter, wanneer die winterreens
van die Boland verder noord gereik het as gewoonlik, het
ons 'n landsreen gekry wat twee of drie dae kon duur. Dan
het ons geweet dat die veld die volgende lente vol klein
veldblommetjies sou wees, dat die driedoring sou blom en
dat selfs die aalwyne en die bokkloutjies en ander vetplante
geiler as gewoonlik sou staan.
Gloudina
|
|
|