Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Belasting
Belasting [boodskap #121140] Vr, 23 November 2018 19:41 na volgende boodskap
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Belasting is 'n verpligte finansiële heffing (of 'n ander soort heffing) wat deur 'n regeringsorganisasie aan 'n belastingpligtige ('n individu of ander regspersoon) opgelê word om openbare uitgawes te finansier. 'n Versuim om te betaal, tesame met ontduiking of weerstand teen belasting, is deur die wet strafbaar.

In die tyd van die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie in die 17de en 18de eeu, het belasting gewoonlik die vorm aangeneem van betaling vir monopolieë wat op 'n openbare veiling aan die hoogste bieër, toegeslaan is, en heffings op die oordrag van grond. Van 1711 af moes alle plaasboere tiendeheffings op graan betaal; iets wat baie oortredings en ontwyking meegebring het. In 1751 het die State-Generaal in Holland opdrag gegee dat elke blanke aan die Kaap en in alle oorsese Nederlandse besittings die '50ste pennie', gelykstaande aan 2 persent van die waarde van sy eiendom, moet betaal as 'n bydrae tot die oorlogsuitgawe. Teen die einde van die N.O.I.K.-bewind in 1792 is twee buitengewone Kommissarisse, Nederburgh en Frykenius uit Holland gestuur om nog 'n reeks swaar belastings te hef, insluitende 'n heffing op elke ingevoerde slaaf asook een op alle goedere wat na en van die kolonie verskeep word. Die hereregte op grond is van 2.5 persent na 4 persent opgeskuif.

'n Nuwe belasting is gehef op alle koetse en plesiervoertuie, op skepe wat by Tafelbaai aandoen, op brandewyn wat na Kaapstad geneem is, op die eiendomme van mense wat die kolonie verlaat het, op veilings, ens. 'n Seëlbelasting is ook gehef op 'n groot aantal transaksies.

Kopbelasting, waarvan die bedrag nie deur die wet gedefinieer is nie, is lank in die digter bevolkte distrikte Stellenbosch en Swellendam gehef, waar die sogenaamde 'Leeu-en-Tier-geld' ook ingesamel is ter bestryding van wildediere. Huisbelasting is net in Kaapstad gehef om die nagwag te betaal. Skape en swart beeste is belas in Stellenbosch, Swellendam en Graaff-Reinet.

Na die eerste Britse besetting van die Kaap in 1795 is die stelsel van monopolieë afgeskaf en deur lisensies vervang, terwyl 'n stelsel van markbelasting in die plek van tiendeheffings ingestel is. Seëlbelasting, Veiling- en Doeanabelasting is behou.

In die 19de eeu is die doeanestelsel ingestel en die meeste uitvoerheffings afgeskaf. Sowel die Vrystaat as Transvaal het hulle eie doeanetariewe ingestel, hoofsaaklik as 'n bron van inkomste. Inkomstebelasting het in 1840 in Kaapstad sy verskyning gemaak, maar het weer verdwyn en is eers tydens die depressie van 1904 heringestel. Die Unie-Inkomstebelasting dateer uit die jaar 1914 en is ingestel om geld te kry vir die Eerste Wêreld-oorlog.

Met die ontdekking van Suid-Afrika se mineralerykdomme is 'n nuwe reeks belastings ingestel, in besonder, Kleim- belasting, Delwerslisensies, ens: Maar met die ontwikkeling van die nywerheid het 'n meer wetenskaplike stelsel ontstaan wat gebaseer is op die feit dat minerale inherent die reg van die staat is. Dit het 'n stelsel van Mynpag tot gevolg. Dit is in 1902 ingestel en maak vandag 'n groot deel van die Republiek se inkomste uit. Ander eg Suid-Afrikaanse belastings is, Erfpag op plase en Kopbelasting vir die Bantoe - albei van besondere belang in Victoriaanse tye.

Vandag is Inkomstebelasting verreweg die grootste bron van inkomste vir die Republiek. Dit verteenwoordig meer as die helfte van die totaal. Doeane en Pos- en Telegraafwese volg daarop. In Rhodesië (nou Zimbabwe) is Inkomstebelasting in 1918 ingestel. In Suidwes-Afrika (nou Namibië) was die belasting soortgelyk aan dié van die Republiek. Afgesien van Inkomstebelasting is daar ook die Persoonlike Belasting, wat op inkomste bereken word en deur die onderskeie provinsies gehef word. In die Protektorate het net die blankes Inkomstebelasting betaal, maar die Bantoe-inwoners het Kopbelasting betaal.

Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Belasting [boodskap #133495 is 'n antwoord op boodskap #121140] Sa, 12 September 2020 17:55 Na vorige boodskap
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Belasting is geld wat deur sentrale, streek- en plaaslike regerings gehef word om inkomste te verkry, waarmee hulle uitgawes gedek kan word. Die sentrale regering gebruik dikwels ook belastings om ander oogmerke te bereik, bv. om persone te penaliseer, sekere bedrywighede te beperk of aan te moedig, inkomste uit die hande van mense te neem om hul besteding te verminder, of groot verskille in rykdom en inkomste uit die weg te ruim. Eiendomsbelasting is een van die belangrikste inkomstebronne van plaaslike besture. Die provinsiale owerhede maak veral staat op persoonsbelasting (soms as hoofbelasting aangedui) en inkomstebelasting, wat aangeslaan word as 'n persentasie van die inkomstebelasting wat aan die sentrale regering betaal word. Inkomstebelasting is die vernaamste bron van die sentrale regering, gevolg deur aksyns- en doeaneregte. Minder belangrike vorme van belasting is die boedelbelasting, hereregte (d.w.s. belasting op oordrag van vaste eiendom), seëlregte en belasting op buitelandse aandeelhouers.

"Regverdige" verdeling van die belastingdruk vereis dat burgers ooreenkomstig hul betaalvermoë belas word. Die belasting op inkomste, met kortinge weens verpligtinge teenoor vrou en kinders en ander afhanklikes, skyn die beste aan hierdie beginsel te voldoen. Dieselfde geld in die geval van boedelbelasting. Hulle word direkte belastings genoem, omdat die las val op die persoon wat dit betaal, d.w.s. hy kan dit nie afwentel of op iemand anders afskuiwe nie. Dit is ook progressief, d.w.s. hoe groter die inkomste of boedel, hoe hoër is die persentasie wat aan die staat afgedra moet word. Doeane- en aksynsregte wat op goedere, bv. sigarette en brandewyn, en belastings wat op dienste soos vermaaklikhede ens. gehef word, word indirekte belastings genoem, omdat dit gedeeltelik of in sy geheel op die verbruiker afgewentel) word wat dan ’n ooreenkomstige hoër prys betaal. Hierdie belastings is ook regressief; d.w.s. hoe hoër die inkomste van 'n persoon, hoe kleiner die gedeelte van sy inkomste wat gewoonlik aan indirekte belasting gaan. Die regressiwiteit word verminder, en 'n mate van progressiwiteit soms in hierdie belasting ingevoeg, deur net weeldeartikels te belas, of die koers volgens die waarde van die goed of diens te laat wissel.

Bron: Die Afrikaanse Kernensiklopedie, J.P. Scannell (red.), 1965

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Bekken
Volgende onderwerp: Belegging
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Ma Mar 04 11:24:46 MGT 2024