Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » Die Stalinistiese danke in regeringskringe dwing die land se bekwaamste mense om hul tasse te pak
Die Stalinistiese danke in regeringskringe dwing die land se bekwaamste mense om hul tasse te pak [boodskap #89051] Sa, 10 Januarie 2004 16:42
Paul de Dilbeek  is tans af-lyn  Paul de Dilbeek
Boodskappe: 400
Geregistreer: Desember 2003
Karma: 0
Senior Lid
Die Stalinistiese danke in regeringskringe dwing die land se bekwaamste
mense om hul tasse te pak op soek na groener weivelde, skryf William
Saunderson-Meyer in sy weeklikse rubriek in Weekend Argus.

Suid-Afrikaners is hopeloos dubbelsinnig in hul gevoelens oor emigrasie en
'expatritates' - 'n woord wat deur baie van hulle 'ex-patriots' gespel word.

Op 'n sekere vlak is daar nog by geleentheid bravade-uitsprake van 'chicken
run' of 'taking the gap' - terminologie wat in Rhodesië gebruik was om
emigrasie te ontmoedig tydens die struggle. Dit is egter gekleur met
jaloesie vir die veronderstelde 'harde valuta' en 'n lotuslewe in
misdaadvrye Westerse paradyse.

Emosies word gekompliseer deur die feit dat daar onder wittes skaars 'n
gesin is wat nie 'n goeie vriend of geliefde het wat oorsee is nie; óf as
permanente emigrante óf as gastarbeiders met die voorneme om uiteindelik
terug te keer na die sonnige Suiderland.

In die geledere van arbeid is daar gereelde gal-uitsprake dat hoe meer
wittes en Indiërs - en toenemend ook kleurlinge - die pad vat, hoe meer
geleenthede sal daar wees vir swart Suid-Afrikaners. Dit is die stomp kant
van 'n ander onaantreklike vorm van werkersvakbonde se denke oor Europeërs,
d.w.s. blanke immigrasie na Suid-Afrika. Hulle redeneer dat dit ontmoedig
moet word omdat die werkloosheidsyfer reeds hoog is.

Dit is ondanks die ruim getuienis dat die meeste emigrante in beroepe is
waarvoor daar 'n akute tekort aan geskikte swart aansoekers bestaan, wat 'n
negatiewe ekonomiese uitwerking het en uiteindelik 'n remskoen is vir
werkskepping. Die mense wat emigreer is uiteindelik skeppers van
werksgeleenthede omdat hulle die ekonomie vinniger laat groei.

Ondanks sy besware is die arbeidsbeweging besmet met vreemdelingehaat. Hy
deel die regering se teenkanting teen swart immigrasie van ander
Afrika-lande op die veronderstelling dat daardie lande hul kundigheid moet
behou ten einde te groei.

Wel, óns het hulle ook nodig om te kan groei. En as hulle nie na Suid-Afrika
kom nie, word hulle afgestaan aan ontwikkelde lande met minder beginsels en
beter oorlewingsinstinkte.

Stemreg vir expats
In die regering self is daar ook vlakke van dubbelslagtigheid. Die ANC maak
gereeld mooi geluide oor die belangrikheid van expats wat moet terugkeer om
die land te help ontwikkel; of dan minstens hul gewig in die vreemde agter
die Republiek moet ingooi, pleks van om die land by elke geleentheid sleg te
sê, soos die gewoonte is.

En tog wil die regering nie hierdie gewaande waardevolle expats toelaat om -
anders as wat die gebruik in die meeste lande is - in volgende jaar se
algemene verkiesing te stem nie. Dit is ook in teenstelling met die gees wat
met die eerste demokratiese verkiesing geheers het. Toe het duisende oorsese
Suid-Afrikaners - en toevallig was die meeste van hulle ANC uitgewekenes -
tou gestaan om by die ambassades te stem.

'n Terloopse opmerking oor die verskillende etos wat onder die
Mandela-administrasie gegeld het, word weerspieël deur die feit dat burgers
van Lesotho en Mosambiek, wat meestal as trekarbeiders in Suid-Afrika was,
toegelaat was om te stem.

Ek erken dat die situasie sedertdien verander het. As buitelandse burgers in
Suid-Afrika nou toegelaat word om te stem - soos wat die geval is met
Statebondsburgers wat in die VK woon - sal die ANC in die volgende
verkiesing dalk ernstig uitgedaag word deur die Zimbabwiese Beweging vir
Demokratiese Verandering!

Tweeslagtige denke in die regering, hoewel dit waarskynlik niks meer is nie
as onvoorbedagte onbekwaamheid, kan gesien word in die verklarings wat
gelaai is met sentimente oor die noodsaaklikheid om gesondheidswerkers en
opvoeders vir die land te behou - onderwyl daar in die praktyk alles gedoen
word om hul vertrek te verhaas.

Die uittog van onderwysers en verpleegsters het epidemiese afmetinge
aangeneem. Maar pleks van hul omstandighede te verbeter - dinge soos swak
salarisse, swak werksomstandighede en 'n burokratiese geboelie - vra die
regering die oorsese lande om dit vir hulle moeilik te maak om te immigreer.

Hieride soort Stalinistiese denke is soortgelyk aan die Departement van
Gesondheid se planne om te wil bepaal waar dokters mag praktiseer. Sulke
verregaande diktatoriale gedrag is waarskynlik ongrondwetlik, maar die
boodskap aan ons slimstes en bekwaamstes is dat as hulle 'n waarborg soek
vir die vryheid van individuele besluitneming, hulle dalk maar hul tasse
moet pak en na groener weivelde moet vertrek.

Hierdie rubriek deur word geplaas met erkenning aan Weekend Argus en
Independent Newspapers.
Vorige onderwerp: Dagsê...
Volgende onderwerp: Re: So what have we learned??
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Wo Mei 15 18:35:42 MGT 2024