Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » Gewonde ma veg soos tier ná skote wat haar seun eis
Gewonde ma veg soos tier ná skote wat haar seun eis [boodskap #87894] Wo, 03 Desember 2003 17:29
Frikkie Potgieter[2]  is tans af-lyn  Frikkie Potgieter[2]
Boodskappe: 439
Geregistreer: November 2000
Karma: 0
Senior Lid
Gewonde ma veg soos tier ná skote wat haar seun eis
Marida Fitzpatrick

Met twee koeëlwonde in haar onderlyf en bloed wat teen haar bene
afstroom, het 'n ma haar seun se gewapende aanvaller ingehardloop,
hom aan sy strot gegryp en byna doodgewurg.

"Ek het moord in my hart gehad - nes hy. Ek het myself tot sy vlak
afgebring, want ek wou hom dóód hê," sê mev. June Motto-Ros, wie se
seun, Marco (22), in 'n motorrooftog doodgeskiet is.

Sedert die voorval einde September is mev. Motto-Ros in 'n finansiële
penarie weens haar seun se hospitaalrekening. Hoewel hy net twee uur
in 'n private hospitaal was voordat hy dood is, beloop die rekening
meer as R20 000. Sy meen die regering behoort dié rekening te betaal
omdat sy meen hy ignoreer die misdaadprobleem.

Motto-Ros het gister huilend aan Beeld vertel hoe haar lewe in 'n
oogwink aan skerwe gespat het.

Sy het saam met Marco en sy vriendin op die stoep van hul huis in
Moffat View, Johannesburg, gesit toe die gewapende aanvaller langs
hulle verskyn en die sleutels van hul Jetta, wat in die oprit gestaan
het, gevra het.

Motto-Ros het gesê hy kan die sleutels kry sodra hulle veilig in die
huis is. Sy het die sleutels na die oorkant van die pad gegooi.

"Maar hy was daarop uit om te moor. Terwyl hy gehardloop het om die
sleutels te kry, het hy wild en wakker in ons rigting geskiet."

Toe die aanvaller terugkom, het Motto-Ros op haar seun geval in 'n
poging om hom teen die koeëlreën te beskerm. 'n Koeël het haar in die
dy getref.

"Marco het my gesmeek om van hom af te klim uit vrees dat die man my
sou vermoor. Ek het geweier, maar hy was te sterk en het my
afgestoot."

Die aanvaller het Marco verskeie kere in die bors en sy geskiet en in
die Jetta weggejaag. "Toe ek sien hoe hy my weerlose kind afmaai,
het 'n wilde woedevlaag in my losgebars. Ek was waansinnig."

Ondanks haar wonde het Motto-Ros die man agternagesit en
ingehaal. "Die motor se ratslot was gesluit. Die vark kon net in
trurat ry."

Sy het die passasiersdeur oopgepluk, ingespring en - ondanks verskeie
skote - die aanvaller aan die nek gegryp.

Intussen het 'n buurman wat gesien het wat aangaan met 'n
insleepvoertuig op die Jetta afgepyl. Sy het uitgespring.

Nadat die insleepvoertuig die Jetta getref het, het die rower
uitgeklim, sy magasyn op die buurman leeggeskiet en in die
insleepvoertuig weggejaag.

"Wonder bo wonder het hy (die buurman) bly leef, maar hy het nog nie
volkome herstel nie."

'n Man is dieselfde aand in 'n sjebien in hegtenis geneem weens die
onwettige besit van 'n vuurwapen.

http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,4127,3-975_1454057 ,00.html
Vorige onderwerp: Buurman red kind se lewe toe sy ophou asemhaal
Volgende onderwerp: Soek werk in London Engeland
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Sa Jun 01 03:54:52 MGT 2024