Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » Dronk ou.....
Dronk ou..... [boodskap #87314] Do, 20 November 2003 06:13
Sandvlooi  is tans af-lyn  Sandvlooi
Boodskappe: 484
Geregistreer: Julie 2003
Karma: 0
Senior Lid
'n Mooi storietjie is die van op die vakansiedorpie Hentiesbaai hier langs
ons kus. Die gehuggie het mos sy ontstaan gehad in die 1930's toe een ou
toevallig op die riviermonding afgekom het en toe uitgevind het dat daar
geweldig vis in die water was met vars water by 'n fontein in die monding.
Toe't hy en ander ouens sommer 'karkaste' [vroeër jare se ou motors is
sommer in kratte per skip uit die buteland ingevoer] soontoe aangery het en
daarvan huise gemaak het [bungalows].
Soos die jare gevorder het en die mense met meer permanensie
vakansiehuise begin bou het, was daar vir lank nie elektrisiteits of
rioolvoorsiening op die dorp nie. Elke man het sy eie 'generator' gehad
[as hy nie net wil kers en lamp nie] en elke huis het sy buitetoilet gehad
waar jy in 'n emmer gekorrel het wat hulle darem met 'n jamlorrie gereeld
kom leegmaak het.
Dit net as agtergrond. Ou Koos kon lekker dop en hy het elke aand na
die hoteltjie gegaan en daar gaan goed kuier en sy vrou was kinderlik
ongelukkig met hom daaroor. Dié aand was Koos ekstra ingesout want hy't 'n
klomp ou pelle in die kroeg ontmoet en hy strompel huistoe. Toe hy in die
kamer kom, toe is daai vrou van hom lekker bemoerd en lê op haar rug in die
bed en loer vir hom onder kwaai wenkbroue uit. Koos besluit dis nou die
tyd om 'pose' te hou en hy trek versigtig uit en klim in sy kant van die
bed. Hy vat 'n tydskrif en hou dit voor sy gesig en maak asof hy lees.
Die volgende oomblik vrek die 'generator' in die buitekamer toe sy brandstof
opraak en dis skielik stikdonker.
"O fok," gil Koos terwyl hy sy hand voor sy gesig hou en dit probeer
sien. "Ek het blind geword. Sarie? Sarie!! Jy moet my help!"
Sy kon dit nie meer hou nie en begin lag. "Aag jou ou dronk drek, slaap
tog liewer. Dis die generator wat gevrek het.
Sy giggel steeds as sy die storie vertel. Sy sê dit was maklik 'n vyf
minute later toe sy so 'n sagte 'dankie tog' van sy kant van die bed uit die
donker gehoor het!
Vorige onderwerp: Edgars :-(
Volgende onderwerp: Onthou nog van Aspoestertjie
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Do Mei 23 07:55:31 MGT 2024