Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Prosa & poësie » " hillside" deur GERT VLOK NEL
" hillside" deur GERT VLOK NEL [boodskap #74141] Ma, 03 Maart 2003 02:15
Anoniem
Oorspronklik gepos deur: @rogers.com

Gert Vlok Nel
hillside

daar was i aand in hillside, 7 jaar
nadat amerika in 1968 was, op die N1
het karretjies liggies geprojekteer tot pff ver waar niemand sien
nie. (in die dorpshoek het die here i merry-go-round
gehou t.b.v. die suiderkruisfonds.) op so i aand is Tittertjie
getroud. klokke het begin beier in die eenvoudige skemer.
hoe mooi, was sy nie. sy is waaiend weg, in slow motion.
maar Tittertjie't snaaks gewaai.

"Ma, Tittertji't snaaks gewaai." in in
die heiliger nag in. ry hulle. uit uit die moordenaarskaroo uit.
hoekom onthou ek dat die straatligte een-een aangegaan het
as dit gelyktydig was? dit was i lukrake nag, vol warrelwinde
doellose liefde & eksakte haat. &Tittertjie
-hulle se ford capri het voortgesnel deur die verbete land
na die bakermat-hotel van die hart

toe die liefde nog nie intertekstueel was nie. (anderkant
die lewe, in china, het i amptenaar die rysveldvrou
met die ewige oë in die broeiende fluitjiesriet
ingestamp t.w.v. onnodige distansiering
& en die balansering van die as van die aarde.)
en hier het i trein die nag geknip soos i sker
(terwyl stokers met geel reenjasse afdiewerkkom)
die nag het volledig gebreek.

& nou & nou.

Tittertjie, my muse, my sussie, ek skryf hierdie bitter brief.
op i blooming oggend. die bloeisels ruik awhrgg. ek stap.
vanaand terug na ons huis in hillside, beaufort-wes ek
leen jou goeie aand en jou magiese reis vir die doel.
terug, terug, in by die stram voorhekkie stap ons in.
(sodat ons nie weer kan uitstap nie
as ons van buite af binnetoe stap nie.)

en Ma kom uitgehol
en sy neem ons in soos wasgoed voor die reën. sal
ons hello sê of koebaai? sal
ons sê ons was so ver soos pluto Ma & en die aarde was nowhere
to be had? sal ons die familie join aan die kombuistafel vir brood
met marmite en stroop? of sal ons bang se ons moet liewer loop?
sal ons verlos wees op alle vlakke
maar bowenal van
die fluit, die verbyfluit van treine
die druk, die drukking van die dakke?

ek het i foto van die aand in hillside
jy is i bruid
agter jou raak dit donker
gaste staan rond soos in i ruiter-in-swart-boekie, versteen
hul asems maak wolkies op die aarde soos op die môre
van die agtste dag
in die wolkies sê hulle
ons is lief.

en op die agtergrond kom i trein soos i byl uit die nag.
Vorige onderwerp: " Bloubok " deur JOHANN LODEWYK MARAIS
Volgende onderwerp: " Dopper Joris en Syn Seiltjie" deur PULVERMACHER
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Do Mei 02 10:46:15 MGT 2024