Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » DIE AFRIKANER AS BESKULDIGDE
DIE AFRIKANER AS BESKULDIGDE [boodskap #6883] Sa, 27 Julie 1996 00:00
Izak Bouwer  is tans af-lyn  Izak Bouwer
Boodskappe: 465
Geregistreer: Januarie 1996
Karma: 0
Senior Lid
In D.J. Opperman se werk is daar dikwels die
tema van skuld, skuldig wees, die nodigheid om
om vergifnis te vra. Hier volg so 'n gedig:

BESKULDIGDE

Die fluitjie blaas, ek word deur swart omring
en na vuishoue van verset
as my polse in blink boeie wring
noem een nog die gereg en wet!

Heftig wou ek my onskuld eers omskryf
maar die vervolger het toe koel
'n vlekkie van sy toga afgevryf
en ek reeds skuldiger gevoel;

nog meer toe ek die ander sake hoor
en die omstandighede ook oorweeg,
my hart het van geboorte af gemoor
en elke misdaad saam gepleeg.

"Ek vra die hof nie wat die aanklag is
met dag en datum van misdade;
ek wag net op die vonnis
en genade."

Hierdie gedig praat nog oor die angs en skuld
op persoonlike vlak.
Opperman sit egter dieselfde tema voort
in "Joernaal van Jorik," waar Jorik nou verteen-
woordiger word van die Afrikanervolk. Nie alleen
Manuel, die goddelike, vergesel hom in die duik-
boot waarmee hy by die moederstad aankom nie.
Daar is ook Dabor, wat grinnik wanneer Jorik bid
om redding.
Na die moederstad gaan Jorik die binneland in.
Sy beskrywing van die Natalse binneland word die
beskrywing van 'n jeug. Maar gou kom daar die
bewussyn van die korrupsie van die materialisme:
" Hy weet waar skuil die goud en antrasiet
Die rooi sinnaberstuk en die uraan"
Jorik word joernalis. Hy besef dat hy gebruik word:
gee ontspanning...
elke dag 'n mooi nooi en 'n moord
Hy besef ook dat hy in die proses dienskneg word
van "Die Sanhedrin met sigaar en blesse." Fyn roet
sif neer oor die vorige helderheid. Daar is dongas waar
Boesmans en sebras vantevore deur die gras kon stap.
Hy en sy nasie is 'n tipe van Judas:
My handelaars en rotte het die siel
hier in 'n bloed-en-bodem besigheid
om dertig silwerlinge so verniel...
Jorik kan nou net wonder: "O watter wraak sal daar nou
oor my kom?"
Vir Jorik eindig alles op 'n genadige noot. Wanneer
die dood hom kom haal, is dit Manuel wat beveel:
Kom in Sy naam.
Ek wat hier eenmaal in die tyd en vlees
ook was, neem jou in Sy genade saam.
Opperman het "Joernaal van Jorik" in die laatsomer van
1949 gepubliseer, voor dit duidelik geword het hoeveel
smart en ellende daardie dertig silwerlinge sou koop. 'n
Mens moet dus bly wees dat daar uiteindelik ook sprake
was van vergifnis.

Gloudina Bouwer
Vorige onderwerp: Oor Namakwaland se Blomme
Volgende onderwerp: Lady Anne Barnard se tuinbad
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Mei 14 10:31:29 MGT 2024