Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Prosa & poësie » " Liefdesonsin : 'n wiegeliedjie " deur LANGENHOVEN
" Liefdesonsin : 'n wiegeliedjie " deur LANGENHOVEN [boodskap #64752] Do, 11 Julie 2002 21:31
Anoniem
Oorspronklik gepos deur: @rogers.com

Liefdesonsin: 'n wiegeliedjie
Langenhoven

Lamtietie, damtietie, doedoe my liefstetjie,
Moederhartrowertjie, dierbaarste diefstetjie!
Luister hoe fluister die wind deur die boompietjie:
Heen en weer wieg hy hom al oor die stroompietjie.
"Doedoedoe bladertjies,
Slapenstyd nadertjies;
Doedoedoe blommetjies,
Nag is aan 't kommetjies:"
So sing die windjie vir blaartjies en blommetjies.

Bo uit die boompie kom nog 'n gesangetjie,
Soet soos 'n soentjie op kindjie se wangetjie -
Soet soos 'n stem uit die snaar van vioëltjie,
Sus daar 'n wieglied uit bekkie van voëltjie.
"Tietewiet, koeroeroet -
Pierewiet, toetoeloet!
Doedoe my kindertjies,
Wat sal dan hindertjies?"
So noem die voëltjie haar kuikentjies kindertjies.

Onder die boom uit kom nog 'n gesangetjie,
Rein soos 'n traantjie oor kindjie se wangetjie:
Hoor dan die orreltjie onder die boompietjie:
Luister die wieglied van ruisende stroompietjie:
"Trippetrip, koeloeloem.
Oor die klip doemeloem!"
Stroompie die rus nimmer,
Stroompie die sus immer,
Sus immer, suis immer, ruis immer, rus nimmer.

Luister die blêrtjies en luister die loeietjies:
"Mêê" sê die bokkies en "Boe" sê die koeietjies.
Doedoe maar kalwertjies, doedoe maar lammertjies,
Weg van die moedertjies, eensaam en jammertjies.
Kalfies en lammertjies -
Vér van die mammetjies -
Natjies en klammetjies -
Koudjies en jammertjies!
Moedertjies huil oor die kalfies en lammertjies.

Bo in die bloue lug flikker die sterretjies -
Hemelse brandwaggies, lampies van verretjies,
Wakend oor windjies en wolkies en stroompietjies,
Wakend oor mensies en diertjies en boompietjies.
"Wees maar gerustetjies,
Slaap maar met lustetjies!"
So sing die sterretjies -
Stilletjies, verretjies:
Vuurvliegies, lugliggies, ewige sterretjies!

Vér op die oseaan, wyd op die watertjies -
Vér van geselletjies, vrindjies, of matertjies -
Skommel die skepies, verlate en eensaampies,
Saggies gesus in die seewieg gemeensaampies.
Seewiegie, sus hulle!
Seekoelte, kus hulle!
Vér van hul matertjies,
Wyd op die watertjies -
Sussende, suisende, wiegende watertjies.

Swaar teen die remhoogte sukkel die waentjie -
Ossies is moeg, dit is laat in die aendjie -
Goeie moed, ossies, nog effentjies vorentoe -
Bo gaan ons uitspan en slaap tot na morentoe!
Los van die krammetjie,
Dan na die dammetjie,
Dan by die bossietjies -
Bekkie vol kossietjies -
Dan na die lêplek, geduldige ossietjies!

Kindjie se pappa kom aan met die waentjie -
Nader na mamma en kindjie elk aendjie -
Pappa vra: "Praat hul van Pappa vanaendjie?
Pad is so lank en so verre vandaantjie!"
Pappa maak vlammetjie
Daar by die dammetjie, -
Treurig en eensaampies,
Vér en alleensaampies,
Kook hy sy keteltjie daar by die vlammetjie.

Ossies se kossies is bossies en polletjies,
Pappa eet droë brood, Mamma kry bolletjies.
Wielietjies woeletjies, tolletjies rolletjies!
Pappa kom huis toe, sy waentjie is volletjies.
Huis toe na Mammetjie,
Huis toe na lammetjie,
Weg van die vlammetjie,
Weg van die dammetjie,
Pappa kom huis toe na kindjie en Mammetjie.

Hier is die boompie vir Moeder se blommetjie,
Hier is die wieg as die slapenstyd kommetjie -
Wieg vir die kleintjie in Moeder se arrempies -
Saggies en veiligies, liefies en warrempies.
Doedoe dan, liefstetjie,
Moeder se diefstetjie!
Doedoe maar, tapies maar -
Moedertjie wakies maar,
Wiegies maar, sussies maar, kindjielief tapies maar!

Onskuldig ogies en voetjies en handetjies!
Wie weet hoe vér moet my kleintjie nog ganetjies,
Ver deur die wêreld se kronkels en gangetjies!
Bly tog maar kleintjies en bly dit maar langetjies.
Bly maar by Moedertjie,
Kindlief se hoedertjie -
Slaap in haar arrempies,
Saggies en warrempies -
Doekies dan, doekies in Moeder se arrempies!
Vorige onderwerp: " Die Toring van Babel " deur FERDI GREYLING
Volgende onderwerp: " Ná 'n besoek aan die dieretuin " deur D.J. OPPERMAN
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Ma Mei 06 12:12:48 MGT 2024