Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » Re: artappelschnapsie
Re: artappelschnapsie [boodskap #6122] Di, 02 April 1996 00:00
Frank Snyckers  is tans af-lyn  Frank Snyckers
Boodskappe: 68
Geregistreer: Maart 1996
Karma: 0
Volle Lid
On Tue, 2 Apr 1996, Bernhard Bezemer wrote:

> GEBAKKEN-AARDAPPELEN-OPROER
> ---------------------------
> Het is natuurlijk zeer goed mogelijk Frank, dat er iemand
> in het oerwoud of soortgelijke woesternij jouw gerijmel
> op prijs stelt. Zelfs een vies oud wijf schijnt uiteindelijk
> aantrekkelijk te worden, als je als man er jaren niet een
> meer hebt gezien. Persoonlijk kan ik mij dat niet erg goed
> voorstellen, maar, dat kan, zegt men.
> Niettemin vind ik je kreupel-rijmelarij een belediging
> voor de taal in het algemeen, voor het Afrikaans in het
> bijzonder, en voor het Algemeen Beschaafd Nederlands, het
> ABN, in het bijzonder bijzonder.

Dankie Bernhard. Miskien sou nog 'n "Dorre Strande" 'n beter soort
antwoord gewees het (maar hierdie keer met 'n minder vrye
metrumspatroon). Ten minste bevat jou boodskap 'n goeie beeldende
vergelyking (hoewel sommiges dit redelik onsmaaklik mag vind). Die
enigste reaksies tot dusver op die rymelarye was uit die "oerwoud of
soortgelyke woesterny", behalwe vir diegene wat 'n rol in die rympies
gespeel het. Daars rymelary en rymelary, nes daar po"esie en verbastering
is, soos jy tereg in jou boodskap uitwys (hoewel Jacqueline en "Zakkeline"
na my beskeie mening omtrent gelyke kunsvermo"e in die kort versies wat
jy siteer uitstal). Daars "pornografiese" limerieke wat oulike limerieke is,
en dan is daar "pornografiese" limerieke wat simpel is. Elkeen het maar
sy mening. Maar ek meen wel ek het al genoeg van alle soorte gesien om
die verskil te ken. In elk geval maak dit glad nie saak nie, solank dit
pret is. Niemand kry seer nie. (Of hoe...?)

In die 17e en 18e eeue in Engeland is die koepletvorm so dikwels gebruik
dat daar omtrent soveel weergawes daarvan was as van die algemene
taalgebruik. Dryden en Pope was omtrent altyd goed (nie net slim nie), en
andere was minder goed, en andere weer altyd power. Maar partymaal kon
mens in 'n satire met 100 koeplette twee of drie vind wat die teiken
tref, en dan die ervaring die moeite werd maak. Soms was dit net wat
die inhoud betref, en soms weer die epigrammatiese effek van die vers. Dit
was byvoorbeeld my indruk van Thomas Hobbes se middelmatige
vers-outobiografie, wat ook in koeplette geskryf is. Ek weet glad nie of
dieselfde tradisie in Nederlands bestaan nie. Duits het sy eie soort
volksrymkoeplette, maar dit het min in gemeen met Dryden se politieke
satires. Die presiese soort volksrym wat mens in Max und Moritz en die
Struwwelpeter vind, en dan weer Raeuber Hotzenplotz, is uniek aan Duits,
sover ek weet. Ek ken nie die Nederlandse volksrym tradisie nie - behalwe
die Middelnederlandse goed soos Van de Vos Reinaerde, en so aan (en dis
seker ook nie "volksrym" nie).

Wat jou taalopmerkings betref: Daars sommiges wat in jou trant meen
Nederlands is 'n verkleinering van, en 'n belediging vir, Hoogduits. Nes jy
geregtig is om Nederlands te praat en jou soort Nederlands as ABN te
beskou, is ek geregtig om Afrikaans te praat en my soort Afrikaans as ABA
(wanneer die geleentheid dit wil hê :-)) te beskou. Ek dink, ten spyte van
my akademiese verengelsing, dat ek tog nog die verskil kan sien. Of jy
die verskil ken, weet ek nie. Ek het geen benul wat jou ervaring van
Afrikaans is nie.

Kom nou Bernhard, hou nou op met die gif. Jy dwing my elke keer om 'n
antwoord te verskaf, want jou boodskappe bevat altyd ietsie meer as
suiwer gif, waarop mens tog kan reageer. Jy wil tog nie sê jy voel so
diep in jou siel gekrenk dat jy nie anders kan nie. En die ander
"abonnees" sal mettertyd al ons boodskappe ignoreer, ingeval hulle alweer
deur gif moet ploeg. Daars 'n verskil tussen "goed gehumeurde" skertsery,
in kreupelrym, prosa, Arabies of pidgin-Swahili, en kleinlikheid. Daars
'n verskil tussen hewig stry en kleintjies kry. Die "Dorre Strande"
poging was 'n bewys van jou vermo"e om 'n spesifieke gees raak te sien,
en in dieselfde gees voort te gaan. Van jou ander bydraes was weer 'n
bewys van iets anders in jou. Ek kan sien jy het wel 'n humorsin, maar
soms is jy weer amper koddig important en sentensieus. Miskien is dit
eintlik 'n uiting van 'n goed vermomde dieper vlak van humor en ironie
wat jy heerlik geniet. As dit wel so is - knap gedaan. Jy't my beslis
geflous. As dit nie so is nie, dan krap daar iewers diep in jou iets baie
lelik of baie hartseer, en is dit moeilik om daarop te reageer as mens
jou nie beter ken nie. Ek wil jou nog gebruik vir verwysings na Reve se
boeke - ek het op die oomblik nie tyd vir ander leeswerk nie, maar sou
graag wou weet watter een van die twintig Reve-boeke wat jy ken jy sou
aanbeveel. (Ek het net De Avonden gelees, en geniet. Ek is nie 'n
ou vir homo-erotiese dinge nie, maar die anargiese denke wat in Reve
voorkom vind ek heerlik, en dan was daar iets aan De Avonden wat op 'n
ontstellende manier die verganklikheidswaansin wat ek dikwels voel netjies
vasgevat het.)

Drink maar daardie schnapsie, Bernhard. Miskien help dit.

Warmste lentedrukkies en soetsappige ouvrousoene,
Frank.
Vorige onderwerp: Re: Gebakken aardappelen-oproer
Volgende onderwerp: Re: staatsinmenging
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Wo Mei 15 16:13:46 MGT 2024