Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Prosa & poësie » " Egipte " deur FERDI GREYLING
" Egipte " deur FERDI GREYLING [boodskap #58127] Ma, 04 Maart 2002 02:42
Anoniem
Oorspronklik gepos deur: @rogers.com

Egipte
Ferdi Greyling

Onder die kanferboom,
kappertjies in die tuin,
in Benbowstraat, Johannesburg

waar ons koninkryk lê,
is Ou-Egipte.
Faraos, ek en jy.

Reën trek grys oor die strate,
vee blou jakarandas
soos rommel in afvoerpype.

In die persswart hemel
tussen skerp sterre
dryf die maan.

Die soet son nou net 'n spel.
Ons hou haar in herinnering met ons hande.
In soene soek ons haar klanklose naam.

Tot ons sterf en die slaap instap.
Toegevou in drome lê ons
in die piramiede van slaap,

omring deur hierogliewe van die dag
waar dade diere word.
Woorde vlieg soos voëls.

Diep in die skeure van slaap
op skale wat ons harte meet,
word ek en jy geweeg:

want al ons denke en elke daad
bepaal op die einde die mate
waarin ons bly of mekaar verlaat.

In heilige balans met mekaar
word ons in ons dinastie behou:
Die son trompetter geel in die ligblou lug!

Ons word gebore tot nog 'n helder dag,
en heilig staan die kombuistafel
met melk, suiker en tee.
Vorige onderwerp: " Pella lê 'n kruistog ver..." deur GEORGE WEIDEMAN
Volgende onderwerp: " Blom van die Baaierd" 2 deur D.J. OPPERMAN
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Sa Mei 11 22:53:51 MGT 2024