Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » "Vertrek" deur ELMARIE OTTO
"Vertrek" deur ELMARIE OTTO [boodskap #52221] Di, 23 Oktober 2001 03:15
Anoniem
Oorspronklik gepos deur: @home.com

Vertrek
Elmarie Otto

Dit was die jagters
niemand anders sou so geruisloos
kon reis op daardie somersaterdag
toe jy moes gaan
en hulle met engelvlerke
van wilde eende en knapsakke
bultend met biltong en die blink van vye
onder die selonsroos by jou venster
neerstryk so lig en stil
sonder om 'n enkele duik
in jou kussing eers te maak

Jy was bewend van bokkoors
toe julle vertrek so lig en stil
sonder dat ek 'n enkele vlerk
se klap eers kon hoor -
net veraf die kraak van die Grotes
in die bos by Humpata
Monomotapa waar jou grootvader
grootwildjagter jou blou hande in syne
neerhurk by die eerste spoor

En toe ons jou rietjiebeentjies
in die kis gelê het Pa -
eers later sal brose been en vel
verweer tot bessies van karee
knoppiesdorings soetdorings
en die mikstert van byevangers -
die roosblare val so stil
in die nat graf eers toe
het die eerste skoot deur my lyf geruk

Son speel nie as hy op klipspore
water laat vloei
by Keimoes en Kakamas:

teen hoogmiddag
vat die rooskwarts vonk
die rosyntjiebane
is stoofplate wat skroei
in die wingerd dank die boere
skreefoë teen die vuurkolom
die Here vir nog 'n wolklose dag
en korrels wat daagliks plomper swel

Toe hy soos Ra van ouds by Riemvasmaak
die afdraand vat
raak hy warm om sy hart se plek:
die sultanas is soetwyn vanjaar
en soos portwyn dadels en spanspek

soel gebak in die nagloed van sy mag
trek die soewereine son
by Klein-Pella die kuipe in
die klippers spat maar hy sit stewig in die saal

die ou heethoof het sowaar vergeet
van daardie dag toe hy
sy vier vuurpêre in die bek geruk
halfpad in die hemel moes bly hang
Vorige onderwerp: Oud stryders
Volgende onderwerp: "Seeskulp" deur LOUIS ESTERHUIZEN
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Wo Jun 26 06:32:56 MGT 2024