Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Prosa & poësie » "In Memoriam: Strooi" deur MARLISE JOUBERT
"In Memoriam: Strooi" deur MARLISE JOUBERT [boodskap #19542] Vr, 04 Desember 1998 00:00
G.B.  is tans af-lyn  G.B.
Boodskappe: 2179
Geregistreer: Mei 1997
Karma: 0
Senior Lid
In memoriam: Strooi
Marlise Joubert

Sonder die veld se geur

van wit lelies in 'n vuis

of die trae note van gesang en gebed

sonder 'n graf of 'n woord van eerbetoon

sterf hy op die vaal handdoek

op 'n skoongeskropte tafel

eerloos

en ek onthou Lucebert:

alles van waarde is weerloos

sonder 'n sug en sonder protes

sterf hy

stil en donker terwyl die bloed

oor die lip bly stoot bly stoot

terwyl die pyn die gapende wond verlaat

en elke pupil al groter rek

om verlossing in te laat

terwyl my kind se hand

die troetelkop bly troos bly troos

en ek onthou Lucebert:

alles van waarde is weerloos

sonder dat hy weet dat ons hom groet

word sy lyfie riemslap onder die naald

lê die swart pels in 'n boog gestol

half verleë die wit sokkies

van sy pote oor mekaar gevou

die bors se wit ster

gevlek en rou

en ek onthou van Lucebert

so moes ek hom verlaat

sonder 'n lied of die veld se geur

en ek onthou terwyl ek huil

teësinnig teen die misreën op die ruit

my vingers om die stuur geklem en koud

dat ook hy, ja, tog,

soos 'n mens van waarde was

'n keelronde warmte kon gee

met kromgeskuur teen jou kuit

of sysaglyf op jou voet kon pas

weerloos in sy dierlikheid

en onvoorwaardelik elke dag

veertien jaar lank

getrou op ons tuiskoms kon wag
Vorige onderwerp: "Biologie Klas" deur ANTJIE KROG
Volgende onderwerp: "Sonneblom" deur JEANNE GOOSEN
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Vr Mei 03 10:36:45 MGT 2024