Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » Die ontstaan van Afrikaans
Die ontstaan van Afrikaans [boodskap #15148] Ma, 25 Mei 1998 00:00
G.B.  is tans af-lyn  G.B.
Boodskappe: 2179
Geregistreer: Mei 1997
Karma: 0
Senior Lid
Soos Swahili in Oos-Afrika en fanagalo op
die myne in Suid-Afrika in die twintigste eeu, was
daar in die sewentiende eeu 'n geleentheidstaal in
Suid-Oos Asië wat wyd en syd gepraat is, ook op
die skepe wat vanuit die ooste om die Kaap van
Goeie Hoop na Europa gevaar het. Hesseling het
in 1899 alreeds in �Het Afrikaanschê besluit dat
dit een van die redes was waarom Nederlands na
Afrikaans verander het. Sy argument was as volg:
Slawe uit baie verskillende dele van Asië het die
taal aangeleer en dit was dus die hawetaal aan die
Kaap. Daar was ook politieke bannelinge en oud-
Indiese amptenare aan die Kaap. Hesseling neem
as ontstaantydperk die begindatum 1658, toe die
eerste groot toevoer van slawe uit suid-oos Asië
begin het, tot 1685 toe die eerste plakkate teen on-
wettige seksuele verkeer met slavinne uitgevaardig
is. Na hierdie punt was daar 'n intensiverende aan-
voer van Nederlandse meisies na die Kaap.
As Hesseling dus Maleis-Portugese invloed as
die grootste rede vir die ontstaan van Afrikaans aan-
dui, staan hy die idee voor dat Afrikaans 'n vroeë
kreolisering van Nederlands was. Selfs in 1905 het
P.J. du Toit nog hierdie mening ondersteun.
Daaropvolgende taalkundiges het in die res van
die twintigste eeu hierdie teorie die kop ingeslaan.
Veral D.B. Bosman dui byvoorbeeld aan dat slegs
een-kwart van een persent van Afrikaans se woord-
skat van Maleis-Portugese oorsprong is. Hy ontken
ook dat die mense uit Europa hierdie mengeltaal
onder mekaar sou gepraat het. Sy standpunt is dat
insover Afrikaans nie die spontane ontwikkeling
van Hollands is nie, dit hoofsaaklik onder die invloed
van die Nederlands van vreemdelinge ontstaan het.
Maar hierdie vreemdelinge was nie noodsaaklik net
die slawe wat Maleis-Portugees gepraat het nie. Dit
was ook die taal van die Khoi en die San waarmee die
Nederlanders hier in aanraking gekom het, en ook die
taal van die mense uit ander dele van Europa wat as
matrose op die skepe van die H.O.I.C. gewerk het. So
iemand was my eerste voorsaat van vaderskant. Hy het
in 1706 hom aan die Kaap gevestig, nadat hy matroos
was op die Nederlandse skepe. Hy het egter van erens
oos van Nederland afgekom, heelwaarskynlik verarm in
die godsdienstige oorloë wat in die res van Europa
gewoed het. Ek twyfel dus of selfs hy perfekte Neder-
lands kon praat.

Gloudina Bouwer
Vorige onderwerp: zoek kontakt
Volgende onderwerp: Indonesies en Afrikaans
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Do Mei 09 18:03:05 MGT 2024