Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Bach, Johann Sebastian
Bach, Johann Sebastian [boodskap #125684] Do, 09 Mei 2019 20:28
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Johann Sebastian Bach
Johann Sebastian Bach
Johann Sebastian Bach (1685 - 1750) was 'n Duitse komponis, gebore in Eisenach, 21 Maart; oorlede in Leipzig, 28 Julie. Die kolos onder komponiste en die vader van moderne musiek. Was agtereenvolgens violis, orrelis, hofmusikant en uiteindelik kantor van die Thomas-Kirche, Leipzig. Het gedurende sy leeftyd die hoogste lof vir sy orrelspel, en veral sy vermoë tot improvisasie, ingeoes. Sy musikale erfenis kan in die volgende kategorieë onderverdeel word:

1. Orrelkomposisies. Hieronder val: onsterflike koraalvoorspele wat wissel van eenvoudige harmonisasies tot uitgebreide kontrapuntale werke waarin die koraalmelodie as ’n canto fermo gebruik word; fugas, wat deur voorspele, toccatas of fantasieë voorafgegaan word, en etlike ander werke waaronder miskien die magtigste Passacaglia wat ooit gekomponeer is.

2. Solo-instrumentale werke. Bekendste is hier sy Goldberg-variasies, Engelse en Franse suites, Italiaanse konsert, die 48 voorspele en fugas een die Kunst der Fuge (almal vir die klavesimbel), asook verskeie sonates vir viool, fluit, tjello ens.

3. Orkeswerke, bevattende die ses Brandenburg-konserte, die suites en die vioolkonserte.

4. Gewyde en sekulêre kantates, motette, misse, passies en oratoriums. Deur hierdie afdeling alleen sou Bach hom moontlik as die grootste van alle komponiste getoon het. Allerweë word saamgestem dat geen meer geïnspireerde gewyde musiek as die Mattheüspassie en die Mis in B-mineur ooit die lig gesien het nie. Die innerlike stukrag van hierdie en ander werke beklemtoon die onherstelbaarheid van die verlies van talle van Bach se skeppinge.

Byna ’n honderd jaar na sy dood het Bach se komposisies gevaar geloop om vergete te raak; dit is aan Mendelssohn en andere te dank dat die 19de-eeuse wêreld hom "herontdek" het en dat musici hom vandag as die grootste kontrapuntis en musikale genie in ere hou.

Bron: Die Afrikaanse Kernensiklopedie, J.P. Scannell (red.), 1965

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Bach, Johann Christian
Volgende onderwerp: Bach, Karl Philipp Emanuel
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Sa Apr 27 12:33:23 MGT 2024