Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Woordeboek » maak
maak [boodskap #125418] Ma, 22 April 2019 08:15
Leksikograaf  is tans af-lyn  Leksikograaf
Boodskappe: 18989
Geregistreer: Maart 2019
Karma: 1
Senior Lid
maak
Afbreking: maak
Uitspraak: /mɑːk/




Werkwoord: maak
Verlede tyd: het gemaak
Teenwoordige deelwoord: makende

Betekenis:
• Om iets te doen.
• Om iets te vorm of te skep; laat ontstaan; vervaardig; aanmekaarsit.

Gebruik:
• Wat maak jy? Wat maak oom Kallie daar?
• Die boer maak 'n voerbak vir sy beeste.

Spreekwoord:
• Aanstaltes maak. [Met iets begin.]
• As 'n mens in Rome is, moet jy maak soos die Romeine. [As iemand in 'n vreemde plek is, moet hy hom na die nuwe toestande skik.]
• Baie hande maak ligte werk. [As almal help, is 'n taak maklik.]
• Baie varke maak die spoeling dun. [Waar baie is, kry elkeen 'n bietjie.]
• Belofte maak skuld; wie daarop wag is gekuld. [Iemand moet sy belofte nakom.]
• Biltong van iemand maak. [Iemand totaal oorrompel.]
• Die by wat die lekker heuning maak, steek seer. [Genot het dikwels 'n slegte nadraai.]
• Die geleentheid maak die dief. [As iemand 'n kans kry, sal hy steel of kwaad doen.]
• Die graf maak almal gelyk. [Die dood wis alle verskille tussen mense uit.]
• Die klere maak die man. ['n Mens word dikwels na jou uiterlike voorkoms beoordeel.]
• Die oog van die meester maak die perd vet. [As jy self na jou sake kyk, trek jy die meeste voordeel.]
• Die vere maak die voël. ['n Mens word na sy uiterlike geoordeel.]
• Dit maak niks nie. [Dis van geen belang nie.]
• Dit sal nie vir my 'n vaal kol maak nie. [Dit sal my nie in die minste raak nie.]
• Een bont kraai maak nog nie die somer nie. [Uit een enkele geval kan nie 'n algemene gevolgtrekking gemaak word nie.]
• Een mooi dag maak nie die somer nie. [n Mens veralgemeen nie n.a.v. [een geval nie.]
• Een ooievaar maak nog nie 'n herfs nie. [Uit een enkele geval kan nie 'n algemene gevolgtrekking gemaak word nie.]
• Een spreeu maak nog nie 'n winter nie. [Uit een enkele geval kan nie 'n algemene gevolgtrekking gemaak word nie.]
• Een swaeltjie maak nie die somer nie. [Uit een enkele geval kan nie 'n algemene gevolgtrekking gemaak word nie.]
• Goeie geselskap maak kort myle. [Aangename maats maak 'n lang pad kort.]
• Gogga maak vir baba bang. [Gesê as 'n onaansienlike mens met 'n baba speel.]
• Honger maak rou bene soet. [Vir iemand wat honger is, smaak alles lekker.]
• Hy gaan nie ou bene maak nie. [Nie 'n hoë ouderdom bereik nie.]
• Hy maak al weer amok. [Deur raserny moordlustig raak.]
• Hy maak dak nat. [By die bou van 'n huis, die werksmense trakteer sodra die eerste kap opgestel is.]
• Hy maak dit vir my warm. [Hy maak dit onplesierig.]
• Hy maak kleingeld van hom. [Iemand oorwin.]
• Hy maak krom spronge. [Allerhande planne maak om uit die moeilikheid te kom.]
• Hy maak 'n afgod daarvan. [Hy heg te veel waarde daaraan.]
• Hy maak 'n afgod van sy maag. [Vraatsugtig wees.]
• Hy maak 'n berg van 'n molshoop. [Baie oordryf.]
• Hy maak 'n frikkadel van hom. [Hy slaan hom stukkend.]
• Hy maak 'n knertsie. ['n Doppie wyn drink.]
• Hy maak 'n knoop in sy sakdoek. [Iets probeer onthou.]
• Hy maak ogies vir haar. [Iemand verlief aankyk.]
• Hy maak skoonskip. [Opruiming hou; al die pryse verower.]
• Hy maak sy stem dik. [Hard, waarskuwend praat.]
• Hy maak van sy kies 'n looikuil. [Hy pruim tabak.]
• Hy maak vir homself 'n lêplek by hulle. [Baie of tot vervelens by hulle kom.]
• Hy maak voorbrand. [Voorsorgmaatreëls tref; tree vir ander in die bres voordat hulle met 'n eie versoek kom.]
• Hy maak werk daarvan. [Hy pak iets aan.]
• Iemand se tee bitter maak. [Hom uitsit by 'n nooi.]
• Jakkalsdraaie maak. [Allerhande geslepe planne hê.]
• Jy kan nie van 'n esel 'n perd maak nie. ['n Onopgeleide persoon kan nie geskoolde werk verrig nie.]
• Jy maak die pap te dik aan. [Iets oordryf.]
• Jy moet jou kruisie gaan maak. [Jy moet gaan stem.]
• Kaarte en kanne maak arm manne. [Dobbelary en sterk drank veroorsaak armoede.]
• Korte mette maak met iets. [Iets gou afhandel.]
• Leë balies maak die meeste geraas. [Mense met min verstand praat die meeste.]
• Leë vate maak die meeste geraas. [Wie min weet, praat altyd die meeste oor 'n saak.]
Maak dit van die gras af. [Dood maak of uit die weg ruim.]
Maak jou uit die voete. [Wegloop.]
Maak 'n knoop in jou sakdoek. [Probeer om iets te onthou.]
Maak soos jy lekker kry. [Maak soos jy wil.]
Maak vir wolf skaapwagter. ['n Persoon oor wie self toesig gehou moet word, oor ander aanstel.]
Maak vuur onder hom. [Aanpor.]
• Met die aarde kennis maak. [Hard val]
• Moenie bobbejaan oppasser van die vyeboom maak nie. ['n Skelm persoon in 'n verantwoordelike pos aanstel.]
• Moenie slapende honde wakker maak nie. [Laat onaangeroer wat onaangename gevolge kan hê.]
• Moenie van jou hart 'n moordkuil maak nie. [Nie jou gevoelens onderdruk nie.]
• Moenie voorspooksels maak nie. [Moenie moeilikhede tegemoet loop nie.]
• 'n Benoude kat maak benoude spronge. [As 'n mens in die nood is, doen hy gewaagde dinge.]
• 'n Berg van 'n molshoop maak. [Baie oordryf.]
• 'n Boer maak 'n plan. [Iemand wat vindingryk is.]
• 'n Gedurige gedrup maak 'n gat in 'n klip. [Voortdurende geneul kan later vrugte afwerp.]
• n Mens kan nie vuis maak sonder hand nie. [Jy kan nie die onmoontlike doen nie.]
• 'n Oulap se rooi maak mooi. ['n Bietjie rooisel aan 'n vrou se gesig laat haar mooi lyk.]
• Oefening maak die meester. [Deur oefening leer 'n mens.]
• Onbekend maak onbemind. ['n Mens hou nie van 'n onbekende persoon of saak nie.]
• Ou bene maak, [Oud word.]
• Sagte dokters maak stinkende wonde. [Halwe maatreëls doen meer kwaad as goed.]
• Soos jy jou bed maak, so sal jy daarop slaap. [n Mens dra die gevolge van jou dade.]
• Van die nag 'n dag maak. [Laat bed toe gaan en laat opstaan.]
• Van die nood 'n deug maak. [Die beste gebruik van ongunstige omstandighede maak.]
• Van jou maag 'n wolsak maak. [Vraatsugtig wees.]
• Van kant maak. [Doodmaak.]
• Van 'n engel 'n duiwel maak. ['n Vreedsame mens so terg dat hy woedend word.]
• Van 'n muggie 'n olifant maak. [Iets baie oordryf.]
• Van 'n vlieg 'n olifant maak. [Baie oordryf.]
• Van sy mond 'n skoorsteen maak. [Baie, te veel rook.]
• Vroeg uit die bed maak die beursie vet. [Wie vroeg opstaan, sal ryk of voorspoedig wees.]
• Wat nie doodmaak nie, maak vet. [Wanneer jy gedwing is om iets onaantrekliks of onbekends te eet.]
• Wors van iemand maak. [Hom totaal verpletter.]

Sinoniem:
• bou
• vervaardig

Vertaling:
Engels: to do; make, manufacture
Nederlands: maken


Selfstandige naamwoord: maak
Meervoud: make

Betekenis:
• Simbool of naam vir die produkte van 'n bepaalde produsent of handelsonderneming; handelsmerk.

Gebruik:
• Die rekenaar is van 'n onbekende maak.

Vertaling:
Engels: make
Nederlands: merk

Laat weet asb as die inskrywing foute bevat of verder verbeter kan word.
Vorige onderwerp: werk
Volgende onderwerp: verskeie
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Vr Mei 17 07:37:54 MGT 2024