Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Alexander die Grote
Alexander die Grote [boodskap #124947] Sa, 09 Maart 2019 10:02
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Alexander word deur Aristoteles onderrig.
Alexander word deur Aristoteles onderrig.
Alexander die Grote (Grieks: Alexandros, 356 - 323 v.C.) was koning van Macedonië; gebore in Pella; het hom op 16-jarige leeftyd op die slagveld onderskei; voor sy 25ste jaar besonder gedugte vyande verslaan; planne beraam en uitgevoer vir sommige van die mees ambisieuse veroweringe wat ooit bedink is; oorlede toe hy 32 was.

Seun van Philippus II; opvallend mooi van voorkoms, onderrig deur Aristoteles. Hoewel slegs 20 toe sy vader vermoor is, het hy ’n leër van Macedoniërs en Grieke op die been gebring en opgetrek teen Darius III, die "groot koning" van Persië, wat oor die hele Wes-Asië geregeer het; het een van die leërs van Darius by die rivier Granicus in 334 v.C. verslaan; Klein-Asië verower; met Darius en sy ontsaglike troepemag aan die rivier Issus slaags geraak en daar ’n volslae oorwinning behaal (333 v.C.).

Hy het die een sukses na die ander behaal. Egipte het sonder slag of stoot geval, en die jong Macedoniër het sy eie stad Alexandrië naby die mond van die Nyl aangelê. Hy het voortgemarsjeer al langs die Tigris na Babilon (331 v.C.), die 3de leër wat Darius byeengebring het by Gaugamela verpletter en die groot stad Persepolis geplunder en verbrand. Darius is vermoor en Alexander was op 26-jarige leeftyd heerser van die hele wêreld oos van die Adriatiese See wat aan die Grieke bekend was. Daarna het hy selfs ’n deel van Indië verower en oor die Indus gegaan 326 v.C.; maar terwyl hy planne beraam het vir ’n opmars in Arabië, is hy aan koors oorlede in Babilon.

Ná sy dood het Alexander se ontsaglike ryk in duie gestort, maar die volgende drie eeue het sy werk ’n enorme invloed gehad op die ontwikkeling van die Oos-Mediterreense wêreld. Hy was nie alleen ’n krygsman sonder weerga nie, maar ook ’n staatsman met ’n besondere gawe om die swakhede van verowerde volke uit te buit.

Bron: Die Afrikaanse Kernensiklopedie, J.P. Scannell (red.), 1965

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Alexander, veldmaarskalk Harold R.L.G.
Volgende onderwerp: Alexandrië
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Ma Apr 29 00:04:24 MGT 2024