Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » Hervorming, herfs en Halloween
Hervorming, herfs en Halloween [boodskap #11143] Vr, 31 Oktober 1997 00:00
Henry van Zyl  is tans af-lyn  Henry van Zyl
Boodskappe: 30
Geregistreer: Augustus 1997
Karma: 0
Volle Lid
Watter yslike ironie is dit nie dat Martin Luther sy 95 stellinge op 31
Oktober 1517 teen die Wittenbergse kerkdeur vasgespyker het en daarmee
die Hervorming begin het nie! Dieselfde dag wat vandag as Halloween
bekend staan: die een dag van die jaar dat die bose geeste en hekse en
die duiwel brullend die nag oorneem. Dieselfde dag waarop die
Protestantse Kerk sy oorsprong het, word hier in die VSA gesien as
byna-byna 'n mededinger met Kersfees, behalwe dat daar 'n bisarre aksent
aan verleen word met beklemtoning van duiwelse en demoniese ondertone.

Nietemin het die kinders in ons gemeenskap vanaand fees gevier soos min.
Kort voor 6 nm het die deruklokkie die eerste keer gelui, met 'n
spannetjie opgeskote "laaities", elk optimisties met 'n kussingsloop
(nog leeg) en die uitdagende kreet "Trick or treat". Hulle is opgevolg
deur 'n nimmer eindigende stroom kannetjies met pampoenlanterns en
mandjies, hulle ouers in die donker agter hulle om 'n wakende ogie te
hou. En almal se oë flikker op toe hulle die pak "Reese's Peanut Butter
Cups" in my hand sien - duidelik die gewildste van al die lekkers wat
hulle aangebied word. Die kinders wissel van so klein dat hulle skaars
kan praat en loop - een pa sê ewe trots dat sy dogtertjie maar pas 2
jaar oud is - tot tieners. En almal is uitgevat in kostuums wat wissel
van duiwels en spoke tot fantasiekarakters uit strokiesprente. Geen
goedkoop tuisgemaakte kostuums hier nie.

Ons voorraad lekkers is na 'n uur uitgeput, en ek moet al die ligte
afskakel en die voordeur toemaak. Die straat wemel nog van lanterns en
kinders wat heen en weer dartel. Ek staan 'n oomblik buite in die donker
om alles te aanskou - maar vergeet ek het 'n wit hemp aan. 'n Dogtertjie
draf verby, steek vas en vra huiwerig "trick or treat"? maar draf
verder. In die agtergrond is ma's en pa's besig om 'n ogie te hou oor
hulle kinders. 'n Mens hoor kort-kort "Say thank you" of "Come on now".
Die laaste groepie wat by ons aangedoen het, se slopies was oorlopens
toe vol. Dit verwonder my dat so baie lekkers uitgedeel word. My dogter
sê ewe droogweg sy hoop nie hulle eet alles met een slag op nie, en
wonder dan hardop of daar met Kersfees ook so 'n ophef gemaak word...
Vorige onderwerp: Hervorming, herfs en Halloween
Volgende onderwerp: Begin jou dag 'n slag met 'n lag
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Vr Mei 17 06:53:25 MGT 2024