Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Ernstig » Troeteldiere » Nuuskierige diere en lekker vrugte.
Nuuskierige diere en lekker vrugte. [boodskap #10007] Vr, 18 Julie 1997 00:00 na volgende boodskap
G.B.  is tans af-lyn  G.B.
Boodskappe: 2179
Geregistreer: Mei 1997
Karma: 0
Senior Lid
At, dankie vir die beskrywing van die bergkwaggas.
Die kwaggas se nuuskierigheid het my laat dink aan
die boerbokke wat ek in die heuwels tussen Alice en
Fort Beaufort teengekom het. Dit is waar ek eenkeer
skoolgehou het (Mandela se hoërskool.) Elke middag na
ek my werk klaargemaak het, het ek alleen 'n heuwel agter
die skool uitgeklim en stil bo-op gaan sit. ('n Mens kon
so ver sien. In die herfs was jy omring van boom-alwyne
wat hoër as jy was. In die winter kon jy die sneeu op die
bergreekse in die verte sien.) Eendag word ek bewus dat
ek dopgehou word. Ek kyk op en sien vier bokke om my
staan, reguit na my en staar. Ek staan toe maar op en begin
die heuwel af loop, want ek was effens senuweeagtig oor
wat hulle bedoelings was. Na 'n rukkie kom ek agter hul
volg my. Ek stap toe maar bietjie vinniger. Na 'n ruk gaan
staan hulle stil, draai om en gaan weer die heuwel op. 'n
Mens voel dan so sleg dat jy hulle intensies gewantrou het.
Hulle was seker maar bloot nuuskierig.
Kan jy ook oor die Sossusvlei praat, waar my seun
onlangs met sommige van sy klasmaats getoer het. Hul
het glo daaroor gevlieg ook.
Is die woestyn-grenadella waarvan jy praat, werklik
familie van die grenadella wat 'n mens verder suid kry?
Ek merk op dat dit een van die smake was wat my kinders
in vervoering gehad het. Hulle vra gereeld vir hulle broer
of hy grenadella-roomyse eet, daar in Kaapstad. 'n Mens
kry hulle nie eintlik hier in die winkels nie.

Gloudina
Re: Nuuskierige diere en lekker vrugte. [boodskap #10037 is 'n antwoord op boodskap #10007] Ma, 21 Julie 1997 00:00 Na vorige boodskap
At de Lange  is tans af-lyn  At de Lange
Boodskappe: 297
Geregistreer: November 1995
Karma: 0
Senior Lid
@igs.net wrote in article ...
> Kan jy ook oor die Sossusvlei praat, waar my seun
> onlangs met sommige van sy klasmaats getoer het. Hul
> het glo daaroor gevlieg ook.

Ek hoop om eendag oor hierdie wonderlike plek te skryf.
Terloops, die vlei is waarskynlik vanjaar sy waterrykste
in mense heugenis. Maak dus 'n plan om die plek binne
twee maande te besoek

> Is die woestyn-grenadella waarvan jy praat, werklik
> familie van die grenadella wat 'n mens verder suid kry?
> Ek merk op dat dit een van die smake was wat my kinders
> in vervoering gehad het. Hulle vra gereeld vir hulle broer
> of hy grenadella-roomyse eet, daar in Kaapstad. 'n Mens
> kry hulle nie eintlik hier in die winkels nie.

Bestudering van vetplante is een van die beste maniere om
te leer wyer dink.

Waterstoor is nie die enigste eienskap van vetplante nie.
Hulle het ook 'n ander eienskap, naamlik om nie water
te vermors nie. Dit maak dat hulle fisiologie drasties anders
werk as gewone plante. (Hulle volg wat bekend staan as
CAM - Crassulacean Acid Metabolism.) Gewone plante
sweet bedags wanneer hulle asemhaal. Vetplante haal
net snags asem wanneer hulle die minste hoef te sweet.

Die vetplanteienskap is oor sowat 40 plantfamilies versprei.
In sommige families soos die vygies en die kaktusse is
bykans al die soorte vetplante. In party families is net een
of twee geslagte (genera) vetplantagtig. Die druiwe (Vitaceae)
en die grenadilla/passieblom (Passifloraceae) is voorbeelde
van laasgenoemde soort. Die Vitaceae bevat die genus
Cyphostemma (nooiensboude) as vetplante. Die
Passifloraceae bevat die genus Adenia (groen potte).

Die grenadilla in die Namib waarna ek verwys het, is
Adenia pechuelii. (Pechuel was 'n duitser na wie die
plant vernoem is. Aden is 'n landstreek teenaan die horing
van Afrika.) Ek het massiewe plante, so groot soos 'n
renoster, in die Huab vallei gesien. Ek skat hulle ouderdom
so by 3000 jaar. Ek het 'n saailing van 18 jaar wat ek
terug gehou het. Die boepens daarvan is so groot soos
'n nartjie.

Elke spesie van die Adenias bestaan uit afsonderlike
manlike en vroulike plante - twee huisig dus. 'n Wyfie
begin haar blomme voor 'n mannetjie ontwikkel. Wanneer
hulle half pad gegroeit het, staan hulle ewe skielik
stil. Dan hang dit van die mannetjies af. As dit twee of drie
jaar nie gereen het nie. sal die mannetjies nie blom nie.
Die manlike blom is heel groter as die vroulike blom.
Dit ontwikkel totdat dit oopgaan. Die eerste dag is die
stuifmeel nog groen. Die tweede dag is dit reg. Die
derde is dit verdroog. Hoekom?

Sodra die manlike blom oopgaan, skei dit 'n feromoon
af wat die vroulike blom prikkel om verder te groei. Binne
24 uur ontwikkel die vroulike blom tot volle grorte en
gaan dit oop. Die volgende dag, wanneer die stempel
nog vars en vrugbaar is, is die malike blom se stuifmeel
net ryp.

Bevrugting, sover ek kon vasstel, word deur miere gedoen.
Hulle is maal oor nektar wat die plante afskei by elke
gewone blaar se stingel. Weerskante van elke stingel by
die voet van 'n blaar sit twee kliere. Hulle skei 'n wonder
soete nektar af ('n druppel so klein soos 'n stofkorrel).
Hulle skei net nektar af wanneer die plant in blom is.

Die sappe van meeste Adenias se lywe en vrugte is
giftig. Dit bevat onder andere die gif digitalis wat die
hartspiere verlam. Digitalis word deur sommige hartlyers
in klein hoeveelhede onder toesig gebruik. Dit word
vandag kunsmatig berei. Maar oorspronklik was dit
as natuurproduk verkry van die plant Adenia digitalis.
Digitalis beteken handvormig. Hierdie plant kom
hier eb daar in die Springbokvlakte asook Venda
en Noord Soeloeland voor. Die plant het bolangs
net 'n rankie. Die stoororgaan in die geval is die
wortel wat 'n massiewe bol kan word.

Adenia pechuelii se vetplanteienskap sit egter in
sy stam. Die stam maak 'n pragtige grys bol met
spikkels van groen. Die vel van die bol is so skurf
soos die van 'n vlakvark. Bo-op die bol staan tientalle
takke wat soos ystervarkpenne die bol beskerm. As
'n mens nie van beter weet nie, sou jy die plant as
'n stewige besembos aangesien het.

Daar is sowat tien Adenias spesies in Suid Afrika.
Naas Adenia pechuelii is die mooiste ander een
Adenia spinosa (groen pot) wat onder bosse in
die Blouberg en Soutpansberg groei. Die mooiste
eksemplaar wat ek ken, lyk net soos 'n driepootpot,
maar het 'n deursnee van 120cm. Die plant is
waarskynlik 400 jaar oud.

Die moosite ander Adenia spesie groei in die
woestyn van Somalie ( en vermoedelik ook Aden).
Dit is Adenia aculeata (aculeata - met dorings
bedek). 'n Volwasse plant lyk nogal soos ons
eie beroemde halfmens (Pachypodium namquanum).
Ek het vier plante wat ek 15jaar gelede van saad
geteel het - die enigste keer wat saad ooit op
die oorsese mark geadverteer is. Ek hoop dat hulle
na nog so 'n 5 jaar die eerste keer sal blom.

Daar is ook Adenias in die dorre gebiede van Kenia
Tanzania en Madagaskar. Die moosite een is vir my
is Adenia globosa van Tanzania. Ek het twee plante
wat alreeds 20 jaar oud is, maar nog oud genoeg is
om te kan blom nie. Hulle donker groen bolvormige
lyf is met wit 'puisies' bedek. Op hulle lyf kom
sulke gedraaide takke uit waaraan gevaarlike dorings
sit. Die doringagtige takke bedek die plant so dat geen
honger dier by die sappige bol kan uitkom nie.

Die grootste vyand wat Adenias het, is muise. Muise
is so lief vir die vrug se pitte soos vloeie vir 'n hond.
Muise sal die slimste planne bedink om tog 'n pit of
twee in die bek te kan kry. Ongelukkig, met die uitroei
van die muise se vyande (slange, vo"els en jakkalse),
neem die muise hand oor hand toe. Die gevolg is dat
daar al hoe minder jong plante in die natuur posvat.
Die Adenias van die Naukluftberge het in 25 jaar nog
geen enkele aanwas bygekry nie - dieselfde met die
Adenias in die Numibberge. In die Kahnvallei gaan dit
darem beter.

Vetplante leer 'n mens om geduldig en sorgsaam
te wees. Een flater en 'n mens kan 15 jaar se
versorging tot niet maak. Vetplante is ook betroubare
meters. Hulle vertel ons of dit goed gaan in die natuur
of nie. Hulle vertel my dat 'n ramp op hande is want
hulle kry self swaar om 'n nageslag te verseker.
Gelukkig kan hulle ouer word as die mens. So 'n
honderd jaar van nou af wanneer die mensdom se
probleme met die mens afgereken het, sal hulle
hopelik weer kan terug keer na 'n normale lewe.

Alles van die beste
At de Lange
Vorige onderwerp: My kat het sy lewe opgeoffer.......
Volgende onderwerp: Oor eekhorings en nog wat
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Vr Jun 21 19:30:00 MGT 2024