Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Ernstig » Geloof & kerksake » "Psalm 8" deur TOTIUS
"Psalm 8" deur TOTIUS [boodskap #16702] Ma, 10 Augustus 1998 00:00
G.B.  is tans af-lyn  G.B.
Boodskappe: 2174
Geregistreer: Mei 1997
Karma: 0
Senior Lid
PSALM 8
Berymd deur Totius

Daar is geen land so ver of woes geleë,
geen strand, o Heer, of wilde waterweë,
geen hemelsfeer in die oneindigheid -
of orals blink u Naam en majesteit.

U het, o Heer, wat troon oor alle dinge,
uit kindertaal en stem van suigelinge
u mag gegrond, sodat die mens moet swyg
wat, hoog van hart, uit wraakbegeerte dreig.

As ek, o Heer, u nagtelike hemel
daarbo aanskou, die tint- en glansgewemel;
hoe, deur U toeberei, die skugter maan
met stille gang oor sterrevelde gaan -

wat is die mens dan dat U hom gedenk het,
die mensekind wat U so ryk beskenk het!
Met eer en heerlikheid is hy gekroon,
skaars minder as die eng'le om u troon.

U laat hom heers. Tot aan die verste strande
gebied hy oor die werke van u hande.
U het, o Heer, dit onder hom gestel,
dit hoor sy stem en beef voor sy bevel.

Die os en skaap en wat in wildheid lewe,
die voëls wat deur hoë lugte swewe,
al wat deurkruis die paaie van die see -
tesaam het U dit in sy mag gegee.

Ja, daar's geen land so ver of woes geleë,
geen strand, o Heer, of wilde waterweë,
geen hemelsfeer in die oneindigheid -
of orals blink u Naam en majesteit.
Vorige onderwerp: 'n Kerk in Kanada ?
Volgende onderwerp: Psalm 23
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Ma Nov 18 22:43:02 MGT 2024