Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » Om die Hardekoolvuur lV
Om die Hardekoolvuur lV [boodskap #15885] |
Ma, 22 Junie 1998 00:00 |
Henri Burger
Boodskappe: 317 Geregistreer: Februarie 1998
Karma: 0
|
Senior Lid |
|
|
Hierdie is spesiaal vir JACO COETZEE wat in Singapoer sit en verlang na
Afrika en Rugby!
Die ander aand sit die diere van Afrika om die hardekoolvuur langs die
Olifants, en stry oor wie is nou eintlik die beste in dit en dat. Koning
Leeu was later goed dik vir die klomp, en nadat hy 'n goeie sluk uit sy
blikbeker gevat het, roep hy die spulletjie tot orde. "Kyk," sê hy vanuit
die hoogte, "ek het nou genoeg gehad. Volgende Saterdag pak julle mekaar op
die rugbyveld. Die groot diere speel teen die insekte en ander goggas.
Sekretarisvoël sal skeidsregter wees."
Die hele week was dit 'n groot geskarrel om alles reg te kry. Proewe is
gehou en spanne gekies. Die diere wat nie betrokke was nie, het die veld reg
gekry. Teen Saterdag was daar 'n feestelike stemming. Gelukkig het geen
mense opgedaag om die pret te bederf nie.
Toe sekretarisvoël sy fluitjie blaas was die pawiljoene gepak. Die spanne
draf uit onder luide toejuiging. Eers die groot diere: Heelagter - Koedoe,
Vleuels - Rooibok en Hartebees, Senters - Njala en Duiker, Losskakel -
Springbok, Skrumskakel - Klipspringer, Agtsteman - Eland, Flanke -
Blouwildebees en Buffel, Slotte - Kameelperd en Sebra, Stutte - Olifant en
Seekoei, Haker - Renoster(kaptein). 'n Formidabele span in enige ou se boek.
Toe die insekte opdraf, raak die skare histeries: Perdeby, Vlieg en
Naaldekoker, Muggie en Muskiet, Skoenlapper, Vlooi(kaptein), Kakkerlak en
Rysmier, Hottentotsgod en Stokinsek, Miskruier en Toktokkie, met Bosluis op
haker.
Net voor die afskop is daar 'n verbyvlug van verskillende voëls in 'n
verskeidenheid van formasies. Nadat 'n klomp tortelduiwe seremonieel
vrygelaat is, kom 'n Gompou gevaarlik laag oorgevlieg, met die woorde 'Go
Bugs' onder sy vlerke geverf, tot groot vermaak van die jillende skare.
Van die afskop af sukkel die insekte hulle vrek. Dinge wil nie vlot in die
skrums nie, en Sekretarisvoël moet hard praat met die voorrye. Kameelperd
oorheers die lynstane. Buffel is genadeloos in die losspel. Die groot diere
wen al wat bal is. Hulle druk drieë asof dit uit die mode raak. As hulle met
die voorspelers dryf, is Olifant en Seekoei onstuitbaar. As hulle wyd speel,
is daar geen keer aan Hartebees, Rooibok en Koedoe nie. Springbok skop al
wat 'n bal is oor. Rustyd is die telling 50-0.
Na rustyd lyk dit of Vlooi se hardpratery gehelp het. Die insekte stoot die
ou groottes meters terug in die skrums. Duisendpoot wen balle agter in die
lynstaan. Dit gaan verwoed in die losskrums, en hulle begin daar oorheers.
Die balle gaan seepglad met die agterlyn af, en Muggie, Naaldekoker en
Perdeby begin die drieë inryg. Muskiet se skopskoen is so dodelik soos sy
byt. Skoenlapper dartel deur die verdediging. Duisendpoot duik die groot
diere disnis. Selfs Kakkerlak, wat 'n stillerige eerste helfte gehad het,
lak die dinges uit hulle uit.
Twee minute voor die einde klits Skoenlapper 'n skepskop oor, en die telling
is 51-50! Van die afskop af dryf die groot diere verwoed. Renoster kry die
bal 5 treë van die doellyn af, en gaan vir die hoekvlag. Met 'n bo-menslike
poging duik Duisendpoot hom by die hoekvlag uit. Die eindfluitjie blaas. Die
skare se vreugde ken geen perke nie.
Toe hulle afstap, vra Vlooi vir Duisendpoot waar hy in die eerste helfte
was, toe hulle so gesukkel het.
"In die kleedkamer, besig om my stewels vas te maak!"
Groete
Henri Burger, Tzaneen. RSA
'Afrika is Nie vir Sissies Nie!'
(e-mail: remove 'sukikaki.') Besoek my tuisblad:
http://mzone.mweb.co.za/residents/hb26/homepage.html
|
|
|
|
|
Gaan na forum:
[ XML-voer ] [ ]
Tyd nou: Ma Nov 18 16:47:43 MGT 2024
|