Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Lekker » Humor & grappe » Stoepstorie oor die Bolliebak Republiek
Stoepstorie oor die Bolliebak Republiek [boodskap #15647] Ma, 08 Junie 1998 00:00
M.Kruger  is tans af-lyn  M.Kruger
Boodskappe: 91
Geregistreer: Maart 1997
Karma: 0
Volle Lid
'n Stoepstorie oor die stigting van die Bolliebak Republiek en ander
verkiesingspoefies

Daar word op die hotel se stoep gekoukus oor wie nou die amptenare in die
verkiesing moet wees, en wie nou vir opleiding sal gaan en als. Oom Hans
Hek wil van die hele gedoente niks weet nie. Hy maak hoeka beswaar dat 'n
man nou deesdae glad matriek moet hê om te kan boer met al die vorms wat 'n
man deesdae moet invul. Jan Ranke meen toe dat oom Hans tog nie so
swartgallig moet wees nie. Die land moet nou verander sodat daar weer
voorspoed vir almal kan wees. Oom Hans Hek sê ja, sak Sarel, pa wil 'n bok
ook skiet. Skiet hom tog in die hol want pa wil die vel heel hê. Dis waar
oor die nuwe land sal gaan en daar moenie met hom gebodder word nie.

Jerry sê Jan Ranke moenie dat die manne daar uit die renostergordel hom nou
hoor praat nie.
Die bietjie wat hulle het gaan nie met ander gedeel word nie. Hulle veld
staan hoeka bankvas van die renosterbos. Hulle kan maar net sowel met vlieë
boer, want g'n lewende ding op kloue vreet aan die vaal bos nie. Dis maar
soos hulle lewensuitkyk ook is. Suutjies Rautenbach reken toe dat die spul
skynheilig is. Daar's geld wat hulle, die Here, en die Ontvanger van
inkomste van weet. Dan is daar geld wat hulle en die Here van weet. En dan
is daar geld wat net hulle van weet. Hulle moet vir hulle staan en gatkant
vorentoe hou.

Maar so word die amptenare toe ook verkies en vir opleiding gestuur, en 26
April 1994 breek toe aan. In die platteland was die verkiesings oral gehou.
Enige iets met 'n dak op was geskik.
In die Transkei is telefoonlyne aangelê na oop stukke veld, en geboue was
geregistreer wat nooit bestaan het nie, ens. Maar dis nou eers tot
daarnatoe. Hier was een van die verkiesingslokale 'n stoor op 'n boer se
plaas. Daar was 2 partye in die wedloop. Die NP en die ANC

Die verkiesingsmonitors, die verteenwoordigers van die partye, die
veiligheidsmagte, en die weermag doen daar diens. Binne in die kieslokaal,
werk 25 beamptes. Die eerste dag kom die ANC met 'n stel reëls wat hulle
toegepas wil hê, wat strydig was met die amptelike verkiesingsregulasies.
Die algemene idee was dat die arme agtergeblewe blankes van die platteland,
plus die res van die inwoners, nie die verskil sou weet nie.

Die NP teken by verskeie geleenthede beswaar aan waar stemme verkeerd
hanteer is, die mense subtiel binne-in die kieslokaal geintimideer is, die
spesiale stemme verkeerd hanteer was wat die waarborg van geheimhouding
verbreek, ens. Dit word deur die hoof kiesbeampte - hoeka een van die
stoepsitters, geïgnoreer. Die Karoo se stadige moer begin deursuur. Die son
sak net betyds oor die berge.

Die volgende oggend ses-uur breek aan en die manne het intussen gaan slaap
oor die vergrype.
Die NP konfronteer die hoof kiesbeampte, al die monitors (almal ANC lede),
en die ander verteenwoordigers. Dit is nou voor die verkiesing om sewe 'n
aanvang sou neem.

Hy waarsku hulle dat hy die verkiesing sal stopsit en die betrokke
amptenare aankla by die Onafhanklike Verkiesings Kommissie. Weer eens word
die waarskuwing geïgnoreer, veral deur die mede stoepsitter wat so bollie
bang is vir die terroriste wat nou hier by hulle aan 'n verkiesing
deelneem. Die NP-man is egter groot, met ploegskaar hande en sy lyf praat
'n moer taal, sonder woorde, wat almal goed verstaan. Hulle stem geredelik
toe dat hulle streng volgens die regulasies sal optree.

Nege-uur die oggend is dit toe sulke tyd. Die donder blommetjies van die
sening taaie Karoo begin wit staan wit in die blom. Die NP-voorsitter
kondig amptelik aan dat hy die verkiesing nou stop. Hy versoek dat daar 'n
ondersoek deur die verteenwoordigers van die Verenigde Nasies gedoen moet
word.

Chaos! Die hoofkiesbeampte skrik sy broek tot op sy skoene en sy vrou
hardloop agter die NP-man aan om hom te verhoed om te gaan skakel; die ANC
Vredesmonitors draf agterna. Maar die man is gedetermineerd, stoot hulle
uit sy pad uit, en kla hulle aan.

Toe staan die verkiesing stil en almal wag vir die VVO-verteenwoordigers om
op te daag. Die ganse wêreld hardloop rond terwyl honderde mense opdam om
te stem. Die onafhanklike Verkiesingraad handhaaf telefonies die NP se
besware, ruk die spul in die bek met 'n waarskuwing, en die verkiesing word
3 ure later voortgesit.

Die VVO-verteenwoordigers daag op in 'n baie delikate vredes-atmosfeer. Die
NP word as die grootste bedreiging in mense heugenis behandel deur die ANC.
Die VVO-verteenwoordigers handhaaf die NP se besware. Die Taiwanese, en
Australiese beamptes is van mening dat dit die grootste insident van
intimidasie is wat hulle tot dusver waargeneem het, en dat dieselfde
taktieke oral gebruik word. Die dag is nog maar 'n kuiken, en die son se
sak nog ver.

Toe word dit vroegmiddag en die son warm. 'n Bus kom met 'n stofstreep
aangejaag, verby die weermag manne en die polisie, stop met skreeuende
bande reg voor die stoor se ingang, en Umkontu se manne klim uit, wapens en
al.

Die ANC kandidate het glo beskerming nodig teen die NP-voorsitter. Basies
het hulle net een opponent gehad, maar vir veiligheid stuur hulle toe maar
ses swaar gewapende manne.

Twee van die manne gaan staan toe binne-in die stemlokaal waar geen
polisie of weermag mense toegelaat word nie. 'n Versoek van die NP aan die
Hoofkiesbeampte, dat dit 'n verbreking van die veiligheidsregulasies is en
dat mense as gevolg daarvan verhinder word om openlik te kom stem, word hy
summier geïgnoreer.

Die ses-voet-sewe- man stap toe buite toe en gaan haal die weermag
bevelvoerder aan sy kraag, met sy angswekkende R1-geweer oor sy skouerblad.
Fris knapie, wat so bang is vir die ANC, dat hulle nie eers probeer het om
die Umkontu manne te verhinder om die stemlokaal in te gaan nie.

Die man word toe die stoor ingedra en reg agter die Umkontu man staan
gemaak. Toe die kiesbeampte die indrukwekkende groot weermag soldaat binne
in die lokaal sien staan met sy
R1-geweer, vind daar 'n anale gedonder plaas - sewe tree sonder 'n spatsel,
die slapende kat by sy voete amper dood.

Hy ski daar op sy Dawid Kramer fellies op die soldaat af en beveel hom om
onmiddelik die lokaal te verlaat. Waarop die NP toe weier dat dit gebeur,
en verklaar dat die weermag dieselfde regte as Umkonto het, en dus nou ook
welkom is in die kieslokaal. Die Hoofkiesbeampte handhaaf egter alle
opdragte van die ANC- hoewel hulle reëls bots met die kiesregulasies en
wette, (wat deur die hoofkiesbeampte toegepas moet word).

'n Staking van die stemmery word weer uitgeroep, die OVK telefonies ontbied
deur die NP, en nie deur die hoofkies beampte wie se werk dit was nie.

Die VVO en die OVK daag weer op. Die NP vereis dat die gebied afgesper word
in 'n straal van 100 meter, soos deur die verkiesingsmanifes bepaal. Die
versoek word weer eens gehandhaaf deur die VVO en OVK beamptes.

Dit beteken toe dat die polisie, en die Weermag wat op die hooimiedens gelê
en rook het, en saam met die jonger veiligheidsdames sit en kaart speel
het, summier hulle wittebrood moet uitstel en hulle "rusplekke" ontruim.
Die hooimiedens val binne die sekerheidsarea.

Nie op bevel van die Hoofkiesbeampte soos van hom verwag word nie, maar op
die van die Nasionale Partyvoorsitter, wat hulle teen hierdie tyd soos
verwarde kartonmannetjies laat
rond hardloop - die polisiekolonel ingesluit.

Die Hoofkiesbeampte het tydens die hele operasie erens in n hoek
weggekruip, en eers later probeer om bevel van die tou spannery oor te
neem. Waarop die NP-voorsitter hom toe beveel om sy toue korrek te span,
en die gate toe te maak wat hy oopgelos het!

Op een delikate area wou hulle die" abolusie" gerief buite die beveiligde
area laat, weens die tou wat te kort was. Om die waarheid te sê, wou hulle
die tou reg voor die deur laat verbygaan, met die gevolg dat die deur toe
nie kon oopmaak nie.

Teen hierdie tyd was die hele spul erg ontsenu, die NP-voorsitter baie moeg
en gefrustreerd.
Maar oorgee was nog lank nie in sig nie. Daar word die bolliebak toe
afgesper, waarop die man toe bulder: "Nee magtag kêrels, julle kan nie die
kakhuis afseël nie! Ek kla julle aan vir hoogverraad! Julle is besig om
een van die kiesers in die longdrop af te sonder! Span die tou nou dadelik
agter om die kakhuis! Al wat julle fokken goed voor is, is om Bolliebak
Republieke te stig!"

Die Hoofkiesbeampte wat 'n moerpluk erken as hy hom sien, kom met 'n
merkwaardige spoed te voorskyn met nog 'n doos rooi tou. Meters en meters
van die goed.

Terwyl die Bolliebak toe binne die ge-annekseerde beveiligde gebied ingelyf
word, verskyn daar 'n lywige swartmoeder van Afrika in die plek se deur en
kyk in n menigte gewapende manne se gesigte vas. Die uitdrukking op haar
gesig was dié van 'n Afrikaan in 'n land waar n staatsgreep uitgevoer word
Vorige onderwerp: Afrikaanse Jokes
Volgende onderwerp: Re: Grapjes?
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Sa Apr 27 19:31:46 MGT 2024