Oor ysstorms en noodtoestande [boodskap #12034] |
Do, 08 Januarie 1998 00:00 |
G.B.
Boodskappe: 2174 Geregistreer: Mei 1997
Karma: 0
|
Senior Lid |
|
|
Hulle het vandag die Kanadese Weermag begin uitroep
om te help. Oostelike Ontario en Westelike Quebec lyk
soos 'n oorlogsone. Die strate is vol takke en elektrisiteits-
drade wat deur die omgevalle bome na die grond gesleep
is. Alles is bedek met 'n dik laag ys. Die takke van die bome
word te swaar en dan val hulle grond toe. Dit is as gevolg
van 'n "ysstorm" wat noual die afgelope vier dae omtrent
stilstaan oor die streek.
'n Ysstorm duur in normale omstandighede nie lank nie,
gewoonlik net 'n paar uur. Dit vind plaas waar 'n hele klomp
reën skielik 'n koue front ontmoet en die reën dan op die
takke vries, voordat dit nog kouer word en die vogtigheid
dan as sneeu begin val. Maar hierdie keer wil dit nie oorslaan
na sneeu toe nie. Alles wat uit die lug val, vries en word ys.
Gister het hulle 'n noodtoestand in Montreal verklaar, vandag
in Ottawa. Die troepe word nou uitgestuur om strate te help
opruim, elektrisiteit te help terugbring, paaie te patrolleer.
Mense word gevra om so min as moontlik van die paaie gebruik
te maak. Een van die grootste bekommernisse nou is die toestand
op die plase, waar koeie nou al vir 'n paar dae nie gemelk kon
word nie.
Ons bly gelukkig in 'n deel van Ottawa wat nie elektrisiteit
verloor het nie. As ek na buite kyk, lyk dit soos 'n spookstad.
Die hele landskap is wit. Ek kan nie onthou wanneer laas ons
die son gesien het nie. Dit lyk soos daardie beskrywings van
die aarde na 'n atoombom-oorlog. 'n Mens let op dat daar
subtiele verskuiwings in die emosies van die mense om jou is.
Hulle is soms manies bly dat hulle nog nie geteister word nie,
maar meeste van die tyd depressief oor die moontlikheid dat
hulle ook getref sal word.
Die laaste dag of so is die toestand ook besig om te versprei
na noordelike New York staat, New England en die Maritimes.
Hulle het ten minste die voordeel dat hulle weet wat aan die kom
is, en dus gouer kan begin maatreëls tref.
Intussen sien ek uit na die eerste keer wat ek weer die son kan
sien. Dis asof my geloof dat die son wel daar is, 'n skok gekry
het. Asof dit my gladnie sal verbaas as ek nooit weer die son
te siene kry nie.
Gloudina Bouwer
|
|
|