Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » Nog seep-maak
Nog seep-maak [boodskap #10547] |
Di, 02 September 1997 00:00 |
At de Lange
Boodskappe: 297 Geregistreer: November 1995
Karma: 0
|
Senior Lid |
|
|
Vira het nou onlangs 'n stuk oor seepmaak geskryf
wat ek geweldig geniet het. Ek wil die volgende
aan haar opdra.
Dit laat my gedagtes terug gaan so 'n vyftien jaar
gelede. Die kerkbasaar was op hande. En die
De Langes het nie geld gehad om vroom te lyk
nie. Ek en my vrou het planne bedink om iets te
maak wat geld sou oplewer, maar self nie baie sou
kos nie.
TOE ek een middag by die huis kom, vertel ons
oorlede Kollie Kaptein in hondetaal my: "Baas,
jy moet help. Hulle maak nie reg met my nie."
Meer kon ek nie uit hom kry nie. Ek stap in die
kombuis en ruik net slaghuis. So in die groet vra
ek wat so ruik. O, sê my vrou ewe vroom: "Ons
gaan seep maak". Ja, sing ons vyf kinders al rielende
om die tafel; "Papa gaan tog seep maak". Selfs my
oudste wat in 6 jaar meer in die hospitaal as tuis was,
dans met haar krukke saam.
My hart sak in my skoene. As my vrou sê "Ons
gaan ... " en my kinders sê "Pappa gaan ...", dan
weet ek by voorbaat ek is die slagoffer. Op die tafel
staan twee groot sakke vol vet - 'n geskenk van die
slagter van 'n week se wegsnysels. Ek maak een sak
oop en 'n ouerige klankie tref my neus. Ek weet toe
sommer hoekom Kaptein so bekaf was.
Ek wil nog beswaar aanteken, maar my vrou vertel
my daar en dan dat meneer die chemikus behoort
mos seep te kan maak. Dit verhoog my kinders se
verwagting. Soos vyf Indiane dans hulle om my en
neurie "Papa gaan tog seep maak" op die deuntjie
so-so-me-la-so-me. Julle ken daai deuntjie - die een
wat so lekker terg. Daai nag slaap ek sleg want ek
weet 'n ding is aan die kom. Pa weet van die teorie
van seep maak alles, maar van die praktyk niks.
"Goed, " sê ek die volgende oggend vir my vrou,
"braai jy maar solank die vet uit", net om haar so
bietjie terug te kry. Teen 7 uur dwaal ek reeds tussen
die rakke van die universiteit se biblioteek rond. Ek
soek na 'n praktiese resep. Behalwe vir 'n boek
"Formulas and recepts" is daar niks prakties nie -
nie by chemie, huishoudkunde, chemiese
ingenieurswese, volkgeskiedenis of wat nie.
Tienuur met teedrink vra ek my kollegas. Almal vertel
my per teorie wat ek behoort te doen - iets wat ek
self weet: doen 'n eksperiment om die versepingwaarde
van die vet te kry, doen skaal berekeninge, ens. Ek
wil sterf van angs. Om hierdie teorie in werking te stel,
sal my 'n dag en 'n half neem - maar vroeg vannand
moet die seep reeds gemaak word. "Papa gaan tog
seep maak" eggo dit in my kop.
Op pad huis toe koop ek 2 kg seepsoda en 'n stukkie
ragfyne sjifon. By die huis staan vrou, kinders, hond
en kat gereed vir die seepmaak - die huis en erf stink
van kaaiings - die Engelse buurman gluur my dikbek
aan. Al die vet is gesmelt in 'n groot pot op die stoof.
My vrou het haar deel gedoen. Die koortjie begin hulle
deel doen: "Papa gaan tog seep maak".
"Kry asseblief daardie groot glasbak van jou, die kosbare
trougeskenk", vra ek ewe braaf. "Gebruik die groot
aluminium pot" skerm sy. Beterwetig antwoord ek
"Wil jy hê die seepsoda moet die pot opvreet, oor
ons almal val en ons dan ook opvreet?" Die koortjie
hou op met sing en loer met groot o"e - hier is
avontuur, goeters wat potte vreet.
Met so twee liter water in die bak, begin ek die seepsoda
so bietjies vir bietjies oplos. Die koortjie kan die
spanning nie hanteer nie. Ek laat hulle aan die bak
se kant voel hoe warm die oplossing word - chemie
aan die werk. Ek het nogal die oplossingwarmte uit
die teorie onthou. Uiteindelik is alles opgelos. Die
koortjie begin weer met hulle "Papa gaan tog seep
maak".
Nou die vet deur die sjifon filtreer. Ek wil niks sukkel
met loog of sulke dinge nie. "Weet jy hoe om seep
te maak", vra my vrou, want dit verloop glad nie meer
soos by haar ouma op die plaas nie. (Daar het hulle
net die grofste kaaiings uit die seeppot gekrap.) Die
vet ruik nie so lekker nie. "Kry gou vit my die Dettol"
beveel ek een van die koorlede. Ah, Dettol ken hulle,
dit laat mos 'n mens skoon ruik. Ek gooi so drie doppies
vol in die gefiltreede vet - weg is die geel kleur en die
krakie wat so uit die vet opstyg. My vrou begin weer
respekte kry.
Gou 'n toetslopie maak - 'n koppie vol vet en 'n derde een
vol seepsoda in 'n ander glasbak - werk ek gou met
wilde skattings en hoofrekene uit. Gelukkig vir die
toetslopie. Toe die seepsoda die vet tref. begin die spul
warm word en borrel. Ek, meneer die chemikus, het
skoon vergeet van die eksotermiese reaksiewarmte
wanneer die seepsoda die vet hidroliseer tot vetsuursoute
en gliserien. Die spul word koud en sewe paar o"e
begluur die wonder. Net die chemikus merk 'n paar
druppels vet op wat nie gehidroliseer het nie. "Nie
sleg nie - net so 5% seepsoda meer", sêk stil aan my
self.
Toe breek die groot oomblik aan. Eers gou die groot
emalje bak onder in die yskas regkry om die seep in te
giet. Ek vra my vrou 'n laken. Sy wonder wat ek wil maak.
Ek voer die bak daarmee uit. Sy skerm vir die laken.
"Vertrou jy nie my seep nie", vra ek verwytend. Wat
is beter as seep om 'n laken skoon te hou?
Daarna kom al die vet in die wasgoed se groot plastiek-
emmer, maatbeker vir maatbeker vol. Daarna, stadig,
een na die ander maatbeker vol, kom die seepsoda
bietjies by. Na elke bietjie roer ek met met 'n stok die
brousel. Die koortjie wil gedurig in die emmer loer wat
aan die gang is. Ek moet net keer - seepsoda is mos
gevaarlik. Ek begin agter kom dat ek tussen die duiwel
en die diepblou see is. Soos wat meer vet seep word,
so word die brousel stywer. Soos wat die brousel warmer
word en weer slapper word, wil die plastiekemmer al hoe
meer smelt. Ek is benoud. Gaan die emmer dit hou?
Gaan my rug en skouers die stywe geroer hou - daar is
geen ruskans nie.
Nadat die regte hoeveelheid seepsoda bygevoeg is,
help my vrou my om die swaar emmer vol gesmelte
seep in die emalje bak om te keer. Gelukkig is die
bak groot. Dit vul pragtig op tot 'n drievinger hoogte.
Nou vir die hele spul om af te koel. Intussen maak ek
'n snyer deur 'n boog met 'n vislyn te span. Soos koek
uit 'n pan lig ons die gestolde blok seep met die laken
uit. En voordat die seep nog kliphard kon word, sny ons
dit in sowat 40 stukke.
Pragtige blokke spierwit boerseep - vinnig besig om
so hard soos klip te word. "Weet jy", sê ek vir my
vrou, "omdat daar nie loog is nie, is al die gliserien
in die seep opgesluit. Hierdie seep gaan werk."
Ons het een blok self beproef. Die blok het 'n was
gemaak wat sagkends werk. Maar die blok het self
so hard soos klip gebly. En dit het gehou en gehou.
Ons het op die basaar ons katswink gesukkel om
die seep te verkoop. Niemand wou juis met die seep
waag nie. Maar lank voor die volgende basaar het hulle
ons begin pes: "Gaan julle weer van daardie seep maak?
Ons sal sommer tien blokke neem. Ons sal selfs twee
keer soveel vir 'n blok betaal."
Ek en vrou het genoeg avontuur gehad met een keer
se seep maak. Ons wou liewers ander planne maak
vir die volgende basaar.
Alles van die beste
At de Lange
|
|
|
Re: Nog seep-maak [boodskap #10561 is 'n antwoord op boodskap #10547] |
Wo, 03 September 1997 00:00 |
vira
Boodskappe: 182 Geregistreer: April 1997
Karma: 0
|
Senior Lid |
|
|
On 9/2/97 3:25PM, in message , "AM
de Lange" wrote:
> At, ek lag my hulpeloos! Dit was sooo lekker gewees! Eendag wil ek 'n boek
> publiseer van Afrikaans humor. Hierdie pos van jou is defnitief 'n wenner.
>
> Die kerkbasaar was op hande. En die
> De Langes het nie geld gehad om vroom te lyk
> nie.
Die Viras ken die gevoel.
> Ek en my vrou het planne bedink om iets te
> maak wat geld sou oplewer, maar self nie baie sou
> kos nie.
Ha! Die gevoel ken ek ook. Toe geniet ek die bubble trouble so, dat ek sommer
'n plaas se prys gaan uitgee aan eksotiese olies, en kruie, en essensies (Myrrh
en Francincense ook nogal!) wat belowend spook van Arabiese Nagte en Omar
Sharif (of was dit nou Charlton Heston? Nee, ek verkies Sharif, dit MOES hy
gewees het!) en die skone/gewaste Vira sweef so voor die caravanserie heen ...
kyk, alles is moontlik as jy in die bad gaan lê, met tuisgemaakte seep!
Toe raak ek heeltemaal "transported", en my geduldige apteker het 'n lys so
lank soos my arm van goed wat hy vir my in die verre hoeke van die wêreld moet
gaan opspoor, kakaobotter (NIE 'n Namaaksel nie, asseblief! meneer!), lanolien,
egteregte byewas (nie paraffien was nie!) ens., ens., omdat ek toe die
wonderlike idee gekry het ek gaan sommer gesigsroompies en sjampoe en 'n
panacea-for-every-ill brou. As ek nou loop met chamomile blomme in my hare is
ek nie op pad San Fransisco toe nie, net die "Conditioner" wat nie so lekker
uitgewas het nie. En ek het gedink ek gaan geld spaar en dit self maak! Ha Ha
Ha.
Ek lees toe ook dat papaya skille baie goed is vir die vel. Jy kan niks
aanvang met 'n tienderjarige nie ;), maar die jongetjie word toe sommer gegryp,
en van kop tot tone met paw-paw skille afgevryf en dan in die stort gedruk,
omdat sy nou sommer baie beter moes voel. Sy gee agterna huiwerig toe dat sy
eintlik nog net dieselfde voel, maar die kinders by die skool beter nie uitvind
wat haar ma aan haar gedoen het nie! En as ek dit nog een keer waag bel sy
Child-Line. Sy ken die nommer. (Sy beter oppas. Ek het ook kasterolie gekoop!)
> Pa weet van die teorie
> van seep maak alles, maar van die praktyk niks.
Hier't ek gewoonlik die omgekeerde probleem. Met verskillende dinge wat ek so
'n gier kry om te try. Ek probeer sommer 'n ding uit, voor ek behoorlik weet
wat aan die gang is.
Ek sal ander dag probeer onthou vir julle 'n ander storie vertel oor teorie v/s
praktyk.
> die huis en erf stink
> van kaaiings -
Yup. Jy moet jou net verbeel daardie "stink" is kosbaar en aards en wonderlik.
(Dan wonder ek hoekom my voël so daar sit en bedonnerd raak!) Laat my dink aan
my pa wat altyd die huis ingekom het met hande vol grond , toe hy in die
groentetuin gewerk het, en gesê hierdie is skoon vuil. ("clean dirt").
Elk geval, die reuk hang 'n hele ruk daar rond, maar naderhand is die eerste
seepies gemaak, met Wheatgerm Oil en You-Name-It by, en ek dans deur die huis,
baie in my skik met myself en my seep. Die buurman se seun is hier, en ek vra
hom of dit nie wonderlik ruik nie, druk dit onder sy neus in, en hy grom "hmmf,
dit ruik soos "Sunlight" en ek verpes "Sunlight". Borrel gebars.
>
>
> Nou die vet deur die sjifon filtreer.
Ja ek ken die gevoel van 'n rooi gesig, as almal kom hardloop en sien wat ek
aangevang het. (Wat is dit wat veroorsaak dat juis wanneer jy stilletjies iets
gou wil verberg, dat almal skielik daar staan om jou benoudheid en fout te
"witness"? En dan staan en lag hulle met bene dubbeld en dwars oormekaar gevou
van snaaksgeid, en jy gryns maar peinsend terwyl jy wag vir hulle om op te hou.
Nie een van hulle sal jou help nie, hulle gebruik net jou tissues op soos hulle
huil van die lag. ) Ek ken mos nie die teoretiese temperatuur van warm vet
nie. Ook nie die praktiese een nie. Sit toe die lappie in 'n plastieksif, en
gooi die vet. Alles is wonderlik. Tot ek die sif uitlig en die helfde daarvan
is skoon missing.
> Ek wil niks sukkel
> met loog of sulke dinge nie.
At, is loog nie dieselfde ding as bytsoda (caustic soda) nie? Wat is dit dan
wat jy "seepsoda" noem?
> Gaan die emmer dit hou?
> Gaan my rug en skouers die stywe geroer hou - daar is
> geen ruskans nie.
Jy was gelukkig gewees, met so 'n hoeveelheid, dat jy nie heelnag deur geroer
het nie! :-)
>
> Die blok het 'n was
> gemaak wat sagkends werk. Maar die blok het self
> so hard soos klip gebly. En dit het gehou en gehou.
Dit hou so lank, jy kan dit selfs in die wasmasjien gooi, deur 'n hele paar
wasse voor dit op is. En, as dit nie my verbeelding is nie, was dit ook skoner.
Nee wat, At, ek wil nie so hard werk nie. Ek hou te veel van speel. Ek neem
net so 1-2 koppies diervet, net soveel plant olie (soms gebruik ek net die een
of die ander), dan's dit maar 'n klein pot vol, en ek kan te lekker speel met
kleure en geure. Dan kry elkeen 'n labeltjie (anders kan ek nooit onthou wat ek
alles gebrou het nie) en sommiges word so bietjie gekerf. Ag ... sug. En
miskien moet 'n meisie vir die somer ook sommer 'n seep hê wat citronella en
goed bevat om die muskiete en goggas weg te hou ... hmmm - dalk hou dit die
Sharifs ook weg. Dit sal mens eers goed moet oorweeg. My vriend vra my soms
of dit nou my "second childhood" is? Ek antwoord nieee, nog steeds die eerste.
Wag, ek is nog besig om 'n klomp dinge uit te dink vir die tweede een.
Liefde,
Vira.
|
|
|
Re: Nog seep-maak [boodskap #10651 is 'n antwoord op boodskap #10561] |
Di, 09 September 1997 00:00 |
At de Lange
Boodskappe: 297 Geregistreer: November 1995
Karma: 0
|
Senior Lid |
|
|
V skryf in artikel
...
> Toe raak ek heeltemaal "transported", en my geduldige apteker het 'n lys so
> lank soos my arm van goed wat hy vir my in die verre hoeke van die wêreld moet
> gaan opspoor, kakaobotter (NIE 'n Namaaksel nie, asseblief! meneer!), lanolien,
> egteregte byewas (nie paraffien was nie!) ens., ens., omdat ek toe die
> wonderlike idee gekry het ek gaan sommer gesigsroompies en sjampoe en 'n
> panacea-for-every-ill brou. As ek nou loop met chamomile blomme in my hare is
> ek nie op pad San Fransisco toe nie, net die "Conditioner" wat nie so lekker
> uitgewas het nie. En ek het gedink ek gaan geld spaar en dit self maak! Ha Ha
> Ha.
Liewe Vira,
As jy so van sjampoe praat, laat dit my dink dat die
ganse higiene bedryf 'n bose komplot geword het.
Meer as 99% van alle sjampoes en skuimsepe ("bubble
bath") bevat geen natuurlike seep nie, maar 'n kunsseep.
Met natuurlike seep bedoel ek 'n vetsuursout, iets soos
byvoorbeeld natriumstearaat. 'n Natuurlike seep vorm
skifsels wanneer jou waswater te hard is (ione van
kalsium en magnesium bevat). Dit vorm ook skifsels
wanneer jy te veel olies of vet van jou lyf moet afwas.
Die kunssepe bestaan hoofsaaklik uit polifosfate (lang
kettings van fosfaatione). Hulle vorm nie skifsels nie.
Maar fosfaat is een van die hoof voedingstowwe van
alle lewe. Was jouself met 'n kunsseep en 'n dun lagie
fosfaat bly agter om al die kieme sielig te voed. Dit is
veral die bakteriee wat reuke afgee wat daarby baat
vind. Jy dink dus jy was met kunsseep hierdie bakteriee
weg, maar eintlik was jy net die dooie reste weg terwyl
jy die lewendiges voed. Die gevolg is dat jy gedurig
reukverwyderaars moet koop en gebruik om hierdie
bakteriee in toom te hou.
> At, is loog nie dieselfde ding as bytsoda (caustic soda) nie? Wat is dit dan
> wat jy "seepsoda" noem?
Vira, soos ek dit verstaan, kan loog by seepmaak twee
dinge beteken. Dit kan die oorspronklike gekonsentreerde
seepsodaoplossing beteken wat 'n mens by die vet voeg
om seep te maak. Dis soos jy dit begryp. Die ander
betekenis is die waterige afsaksel nadat die seep gemaak
is met te veel water. Die seep stol boop. Die afsaksel
bevat oortollige seepsoda, gliserien en vaste stowwe.
Seepsoda en bytsoda is een en dieselfde ding, naamlik
populere name vir die alkaliese basis "natrium hidroksied"
(NaOH). Die woord "soda" verwys in Engels na die element
natrium (Na). Die etimologiese herkoms van die woord soda
is duister. In die middeleeue was "sodanum" 'n natrium
bevattende konkoksie van soute en plantekstrakte om
hoofpyn te verlig. Natrium is maar eers teen 1807 as element
geisoleer deur Davy.
Veel belangriker vir seepmaak is bytpotas of "kalium
hidroksied". Soos voorheen verwys die "byt" na die
verterende werking van die hidroksiedioon OH-. Die potas
verwys na die feit dat die "as" wat agterbly as hout verbrand
word (om kos in 'n "pot" te kook), ryk is aan "bytpotas".
Net soos fosfor, stikstof, koolstof, waterstof en suurstof
is kalium een van die hoof voedingelemente van alle
lewe. By plante is kalium (K) voordelig terwyl natrium (Na)
eintlik nadelig is. Daarom is die as van plante ryk in K
en arm in Na. Dierelewe het ook Na nodig.
K gee 'n veel beter seep as Na. Die Na laat die selle in
'n mens se vel veel makliker verdor. Enkele van die
duur gesigsepe op die mark is van bytpotas in plaas
van bytsoda gemaak. Hulle adverteer gewoonlik dat die
seep jou vel sag en soepel hou.
> Nee wat, At, ek wil nie so hard werk nie. Ek hou te veel van speel. Ek neem
> net so 1-2 koppies diervet, net soveel plant olie (soms gebruik ek net die een
> of die ander), dan's dit maar 'n klein pot vol, en ek kan te lekker speel met
> kleure en geure. Dan kry elkeen 'n labeltjie (anders kan ek nooit onthou wat ek
> alles gebrou het nie) en sommiges word so bietjie gekerf. Ag ... sug. En
> miskien moet 'n meisie vir die somer ook sommer 'n seep hê wat citronella en
> goed bevat om die muskiete en goggas weg te hou ... hmmm - dalk hou dit die
> Sharifs ook weg. Dit sal mens eers goed moet oorweeg. My vriend vra my soms
> of dit nou my "second childhood" is? Ek antwoord nieee, nog steeds die eerste.
> Wag, ek is nog besig om 'n klomp dinge uit te dink vir die tweede een.
Vira, jy moes 'n chemikus geword het. Eintlik praat ek
twak, want sou jy chemie op universiteit swot, sou jy
niks met hierdie "chemiespeel" te doen gehad het nie.
Jy sou teoriee geleer het dat dit klap totdat al jou liefde
vir die "chemiespeel" opgebruik is.
As jy by die Universiteit van Pretoria uitkom, moet jy tog
by die rakke gaan kyk waar die ou chemieboeke staan wat
niemand meer lees nie. Daar is 'n reeks met die titel
"Formulas and recipes", as ek die naam reg onthou.
Die eerste paar uitgawes van so vyftig jaar gelede is
wonderlik. Daarin vind jy formules en resepte om bykans
enigiets te maak: seep, verf, ink, papier, allooie, medisyne,
insekdoders, ens. Maar die latere uitgawes word al hoe
meer 'n nagmerrie. Die resepte bevat al hoe meer
gepantenteerde mengsels van grondstowwe en is self
al hoe meer gepatenteerd. Vieslike verloop van die
wereld.
Alles van die beste
At de Lange
|
|
|
Re: Nog seep-maak [boodskap #10700 is 'n antwoord op boodskap #10651] |
Wo, 10 September 1997 00:00 |
Herma
Boodskappe: 17 Geregistreer: Augustus 1996
Karma: 0
|
Junior Lid |
|
|
Vira en At, ek geniet julle seepstories baie. Toe ek 'n kind was het my ma
nog self seep op die plaas gemaak, maar ek kan glad nie meer die resep
onthou nie. Al wat ek onthou is dat dit in 'n groot oliedrom buite op die
werf gemaak is en 'n spaan wat lyk soos 'n krieketkolf is gebruik om die
mengsel te roer. Die seep is net gebruik vir klere was, nie vir bad nie.
|
|
|
Re: Nog seep-maak [boodskap #10721 is 'n antwoord op boodskap #10547] |
Do, 11 September 1997 00:00 |
vira
Boodskappe: 182 Geregistreer: April 1997
Karma: 0
|
Senior Lid |
|
|
On 9/10/97 3:40PM, in message , "Herma" wrote:
> Vira en At, ek geniet julle seepstories baie. Toe ek 'n kind was het my ma
> nog self seep op die plaas gemaak, maar ek kan glad nie meer die resep
> onthou nie. Al wat ek onthou is dat dit in 'n groot oliedrom buite op die
> werf gemaak is en 'n spaan wat lyk soos 'n krieketkolf is gebruik om die
> mengsel te roer. Die seep is net gebruik vir klere was, nie vir bad nie.
>
Sover ek weet was daar verskillende mengsels vir bad en klere was. Vir klere
het hulle dalk bietjie blousel bygevoeg, en (At sal dalk beter weet) meer loog,
dus 'n 'strakker' (?)/harder seep. Vir bad was meer vette gebruik. Deesdae
gebruik ons self "superfatting agents" vir sagtheid, meestal in die vorm van
klapper, alwyn of ander plantaardige olies.
Terwyl ek toe in die kombuis gepoer-poer het, het ek sommer ook 'n klomp kerse
gemaak. Dis nogal mooi. Die plek staan nou van alles vol behalwe kos.
Iemand het my vertel dat die ou plaasmense houtvorms gebruik het om die seep te
giet, met 'n laken of doek uitgelê, nes At gesê het, en na dit uitgehaal is,
word die seep toe opgestapel , dat lug kon bykom om dit uit te droog. 'n Mens
moes nou eintlik mooi houtvorms kon kerf om die seep in te bêre - wag ek sien
hier kom al weer 'n ding.
|
|
|
|
|
Gaan na forum:
[ XML-voer ] [ ]
Tyd nou: So Nov 17 10:43:49 MGT 2024
|